Winston Cogill: ‘Sy dood is ʼn skok vir ons’

Winston Cogill, die 54-jarige data-ontleder van Dieprivier in Kaapstad wat Covid-19 opgedoen en 122 dae in die intensiewesorgeenheid (ICU) van die Groote Schuur-hospitaal deurgebring het, is Saterdag dood. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Winston Cogill, die 54-jarige data-ontleder van Dieprivier in Kaapstad wat Covid-19 opgedoen en 122 dae in die intensiewesorgeenheid (ICU) van die Groote Schuur-hospitaal deurgebring het, is Saterdag dood.

Maroela Media het vroeër berig dat Cogill een van die Covid-19-pasiënte is wat die langste in ʼn intensiewesorgeenheid was en oorleef het. Cogill is in Maart ontslaan en het die afgelope vier maande tuis aangesterk. Winston was toe hy ontslaan is in ʼn rolstoel, hy moes van voor af leer loop en was afhanklik van ʼn ventilator.

“Winston was op ʼn goeie plek. Hy het begin om met sy loopraam te stap en kon verlede week ook self uit die bed opstaan. Ons het die laaste vier maande elke tree wat hy self geneem het en die geringste vordering saam met hom gevier,” het Claire Cogill, Winston se vrou, in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Winston het nadat hy ontslaan is aan angs gely as gevolg van die ventilator. Maar soos wat familie en vriende hom by die huis kom besoek het en hy vordering getoon het, het sy angstigheid verminder,” vertel sy.

Volgens Claire (53) is Winston ongeveer twee weke gelede met gordelroos gediagnoseer. Hy het Vrydag slegter begin voel en gesukkel om te praat. Teen Saterdagoggend het sy pyn vererger en toe het Claire hom na Groote Schuur se ongevalle-afdeling toe geneem.

Winston is onmiddellik in die hospitaal opgeneem en aan ʼn ventilator gekoppel. Claire sê sy het egter nie verwag dat hy nie weer huis toe sou kom nie.

“Sy dood is ʼn skok vir ons almal. Ek het regtig gedink hy gaan dit maak,” sê Claire.

Die Cogill-egpaar het ʼn 21-jarige dogter Hannah wat vanjaar met ʼn studie in regte begin het. Winston en Claire het mekaar vir dekades geken en was as tieners saam op skool en in dieselfde kerk. Hulle sou binnekort hul twaalfde huweliksherdenking gevier het.

Winston Cogill. (Foto: Verskaf)

“Winston was die persoon na wie toe almal gekom het. Hy het soveel keer mense genooi sonder dat ek weet of wat ek van geen kant af ken nie. Sy bereidwilligheid om ander te help, is een van sy karaktertrekke wat vir my uitgestaan het,” sê Claire.

Hy was onder familie en vriende bekend as ʼn man wat sy Bybel geken en daarvolgens geleef het. Hy was ʼn geestelike leier vir talle mense en ook iemand wat nie doekies omgedraai het nie.

“Winston het nie grys areas gehad nie. Hy was reguit, maar nooit onbeskof nie. Wanneer hy met iemand verskil het, het hulle dit net daar uitgesorteer en ʼn paar minute later weer soos goeie vriende gelag en gesels.”

Claire sê die werklikheid het nog nie ingesink nie, maar sy het vrede oor Winston se dood.

“Ek ervaar hoe die liefde wat Winston vir ander mense uitgedeel het, nou terugkom na my toe. My huis lyk soos ʼn botaniese tuin met al die blomme wat hier afgelewer word. Familie en vriende van heinde en verre bel om te hoor hoe en waar hulle my met begrafnisreëlings kan bystaan.

“Ons het vier en ʼn half maande saam met Winston gehad, nadat hy Covid-19 oorleef het en ontslaan is. Baie mense het dit nie saam met geliefdes gehad nie.”

Winston was reg om te gaan, sê Claire. Hy het die heeltyd vir haar gesê hy is reg om te gaan en dit haar bang gemaak.

“Ek het dit dan spottenderwys afgelag, hoewel dit eintlik moeilik was om hom so iets te hoor sê. Maar ek kon sien hoe Winston sy saak met mense reggemaak het, hy het los drade bymekaar getrek en vrede gemaak. Hy was gereed om te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

So jammer vir julle as gesin. Sterkte nou en die tyd vorentoe.

Althes ·

My innige simpatie aan sy naasbestaandes. Die Here was inderdaad goed vir hom en sy gesin.

Anoniem ·

Innige simpatie en meegevoel met die naasbestaandes en vriende.

anniekiewiet ·

Julle geloof is ook vir ons ander ‘n voorbeeld, mag julle Christus se liefdevolle troos ontvang.

Elinette ·

Hy is beter af waar hy nou is. Geen pyn, geen gesnak na asem, geen angs meer nie. RIV, meneer Cogill.

Adriana ·

So het ons ons skoonsussie ook verloor, dit het begin goed gaan en skielik is sy net so weggeneem sonder om totsiens te sê. Baie sterkte aan al die families wat geliefdes verloor het. Mag God jul troos in hierdie hartseer tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.