Winterskool 2021: Hier is die kategoriewenners

skryf-jou-eie-storie

Argieffoto.

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit het die wenners aangekondig van sy Winterskool 2021-skryfkompetisie.

Susan Purén het in die verhale-kategorie met die louere weggestap met “Viskoppe vir die hawe-katte” terwyl Sonja Pienaar die gedigte-kategorie verower het met haar gedig “Desember 2008” (ook met inagneming van haar inskrywing “Teen sonsak”).

As prys word elkeen van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsgeld vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool wat op 5, 12 en 19 Junie aanlyn plaasvind.

Die eksotiese bestemming van Purén se verhaal – ʼn Griekse eiland – is egter nié die rede waarom dit as die beste onder die inskrywings beskou word nie, maar wel die feit dat dit ’n goed afgeronde teks is.

“Die taalgebruik in Purén se vertelling is keurig en presies,” sê Ingrid Winterbach, beoordelaar van die verhaalkunsafdeling. “Die aanbod is sober en daar is nie onnodige inligting nie: wat daar is, is funksioneel. Die sfeer van die eiland word goed opgeroep, met min, maar tekenende detail.”

Winterbach, ’n bekroonde romanskrywer, vat haar verslag saam deur waardering uit te spreek vir die onderbeklemtoonde aard van die teks, en die subtiele ontknoping daarvan.

Bernard Odendaal, beoordelaar van die digkunskategorie en direkteur van die ATKV-Skryfskool, sê die vermelde gedigte was twee van sowat ʼn halfdosyn inskrywings deur Pienaar vir die kompetisie.

“Pienaar bied in haar gedigte ʼn blik op onmiddellik omringende werklikhede wat van ʼn ontstigtende, boeiende kombinasie van eerlikheid en deernis by die waarnemer getuig,” sê hy.

Volgens Odendaal word die belewenisse van ʼn geskade omgewing, ʼn wanbestuurde dorp en die dikwels droogtegeteisterde landbouwêreld daaromheen, sonder sentimentaliteit, maar met deurleefde empatie weergegee.

Winterskool 2021
Die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit se Winterskool word vanjaar aanlyn aangebied. Dié slypskool vir aspirantskrywers vind op 5, 12 en 19 Junie plaas.

Vir meer inligting stuur ‘n e-pos na [email protected] of bel haar by 018 299 1783.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.