Winterskool wink vir aspirantskrywers

Virseker_student_rekenaar_pixabay.jp

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit se Winterskool word vanjaar aanlyn aangebied. Dié slypskool vir aspirantskrywers sal op 5, 12 en 19 Junie plaasvind.

“Virtueel ofte not: geesdrif vir wat ons met taal kan skep, en hoe ons dit ten beste kan doen, sal bywoning van Winterskool 2021 ‘n onthoubare ervaring maak,” sê prof. Bernard Odendaal, die direkteur van die ATKV-skryfskool.

Ongeveer 36 jaar ná die eerste werkswinkel in kreatiewe skryfwerk aangebied is, het sowat 50 gevestigde skrywers, onder wie Chanette Paul, Carina Stander, Jaco Jacobs en Elsa Winckler, reeds ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane gevind by die Herfs-, Winter- en Lenteskole van die ATKV-skryfskool.

Odendaal meen dat kursusgangers deur kundiges opgelei gaan word: “Die sprekers en werkswinkelleiers is voor die voet mense wat hulle storie- of hulle gedigmaak ken. Ons gaan woordkoersvat!”

Bekende skrywers en toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie, sowel as personeel van die ATKV-skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Verhaal- en digkunsgenres sal tydens vanjaar se program voorkeur geniet.

Prof. Bernard Odendaal, die direkteur van die ATKV-skryfskool.

Werkswinkels wat in dié twee skryfgenres aangebied word, word deur die ervare woordsmede Francois Smith (die skryfproses), Ingrid Winterbach en Thys Human (verhaalkuns) aangebied. Smith en Winterbach is voorheen vir hul skryfwerk bekroon.

Die digkunssessie vind onder leiding van Odendaal plaas en Lynthia Julius sal in gesprek wees met Henning Pieterse oor leiding by skrywerskapontwikkeling.

Die hartklop van die Winterskool is die werkswinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Verskeie uitgewers sal kursusgangers boonop touwys maak oor wat manuskripkeurders van skrywers se werk verwag.

Die ATKV-skryfskool bied vanjaar ook weer ’n skryfkompetisie in die genoemde genres aan. Die wenner in elk van die twee kategorieë (vir ’n kortverhaal of ’n gedig) sal die Winterskool gratis kan bywoon.

Vir meer inligting hieroor, skakel met Kobie van Aswegen by [email protected] of skakel haar by 018 299 1783 om meer te wete te kom. Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings is 26 April en inskrywingsgeld beloop R1 000 per persoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.