Winterveld-moord: Nóg slagoffers glo voorvalle hou verband

Robbie Seger en Reinie Paddock. (Foto: Verskaf)

“Ons doen dít elke dag.”

Dít is die woorde wat Reinie Paddock (31) en haar verloofde, Robbie Seger (38), vreesbevange moes aanhoor waar hulle op hul knieë in ʼn verlate veld in Winterveld, noord van Pretoria, gestaan het. En hulle was oortuig dat hulle nie weer die huis sou sien nie.

Die paartjie, van Nigel aan die Oos-Rand, is op 4 November deur sowat 13 aanvallers oorval en beroof toe hulle na ʼn Isuzu-bakkie gaan kyk het wat ʼn kwansuise verkoper op Facebook Marketplace geadverteer het.

Die omstandighede is ysingwekkend soortgelyk aan dié waaronder Jaco Basson, voormalige voorsitter van die Pretoriase rugbyklub, op 12 November in Winterveld vermoor is, toe hy en ʼn vriend ook na ʼn bakkie gaan kyk het wat op dié platform geadverteer is.

Die bakkie wat op Facebook Marketplace geadverteer is en waarna Reinie Paddock en Robbie Seger sou gaan kyk. Dit word steeds op dié platform geadverteer, net onder ‘n ander naam.

Paddock glo vas die aanvalle en moord hou verband en is moontlik deur dieselfde oortreders gepleeg.

Van die polisieondersoek kom daar volgens Paddock egter min.

Hulle kry glo weinig terugvoer en moes selfs ʼn speurder opspoor om hulle te help net om ʼn saaknommer te kry.

Sy is ook skepties oor die polisiebeamptes wat toevallig op die betrokke dag in die omgewing was en tot hul redding gekom het – van dié het hulle ook nog niks weer gehoor nie.

‘Yskoud’

Die bakkie wat op Facebook Marketplace geadverteer is en waarna Reinie Paddock en Robbie Seger sou gaan kyk. Dit word steeds op dié platform geadverteer, net onder ‘n ander naam.

Paddock verduidelik dat sy en Seger die betrokke dag na twee voertuie naby Pretoria gaan kyk het, een daarvan die Isuzu-bakkie. Die bestemming wat die vermeende verkoper van dié voertuig na Paddock se selfoon gestuur het, sou hulle volgens Google Maps na ʼn huis met ʼn elektriese motorhek in Winterveld neem.

Paddock sê die verkoper was uiters knaend oor waar hulle trek, en het met hul aankoms by dié huis  laat weet hy stuur sy seun om hulle te kom haal, aangesien dit kwansuis die verkeerde adres was. Dieselfde het ook in Basson se geval gebeur.

“Ons het dit vreemd gevind, maar gedink die verkoper is dalk ook net versigtig.

“Daar kom toe ʼn seuntjie aangeloop – ek skat hom so 13 jaar oud. Hy het gesê hy is die seun en sal ons wys waar die regte adres is. Hy klim toe sommer dadelik agter in ons kar [ʼn wit Audi S3]. Ek het yskoud geraak en gewonder of die kind ʼn wapen het en ons nou gaan beroof. Dit was ʼn baie gagga gebied.”

Paddock sê die kind het hulle na ʼn ander huis ʼn paar strate verder geneem en dat sy foon in dié tyd seker vyf of ses keer gelui het. Dit het haar baie agterdogtig gemaak.

“Ons het stilgehou toe hy sê ons moet. Om ons was ʼn klomp huise, maar ook ʼn klomp sinkhutte. Die kind het uitgeklim en die agterdeur oopgelos. My man het ook uitgeklim om seker te maak daar is nie gevaar nie terwyl ek ons waardevolle besittings, waaronder my verloofring, onder die sitplek weggesteek het.”

Jaco Basson (Foto: Facebook)

Paddock sê die kind was weer op die foon toe ʼn man skielik uit ʼn ander rigting aanstorm. Hy het ʼn pistool in sy hand gehad en dit op Seger, wat pas weer in hul Audi S3 geklim het, gerig.

“My hart het net daar uit my lyf geval. Ek het so groot geskrik. Die man het dadelik op ons begin skree en gesê ons moet uitklim. Skielik was daar ʼn klomp mans wat op ons afgestorm en ons omsingel het. Ek het ongeveer 13 getel.

“Ek het gedink hulle gaan ons nou morsdood skiet.”

Die aanvallers het die paartjie uit die voertuig gedwing, dit geplunder en die paartjie van al hul besittings beroof.

“Waar’s die geld?” wou die aanvallers weet.

Benewens die kontant wat die paartjie in hul beursies gehad het, is hulle gedwing om die wagwoorde van hul banktoepassings vir die rowers te gee, asook die PIN-kodes van hul bankkaarte.

Paddock sê die mans het in dié stadium gesien daar is redelik baie geld in hul onderskeie bankrekeninge aangesien hulle pas hul salarisse ontvang en geld in hul spaarrekeninge gehad het.

“Daarna het hulle ons weer in ons eie voertuig gedwing en gery. Ons mag nie opgekyk het nie. Ons het stilgehou by wat ek vermoed ʼn kitsbank was omdat ek gehoor het hoe boodskappe op ons selfone deurkom soos geld uit ons rekeninge onttrek word.

“Ons het weer êrens stilgehou en is beveel om uit te klim. Dit was ʼn baie slegter gebied en ons was op ʼn voetpaadjie in ʼn veld vol riool, riete en vuilgoed. Hulle het my man beveel om op sy knieë te gaan staan. Ek het gedink hulle gaan hom voor my oë doodskiet.

“Hulle het my so styf vasgedruk dat ek vingermerke op my arms gehad het. Hulle het ook ʼn mes teen my rug gehou. Ek is toe ook beveel om op my knieë langs hom te gaan sit. Hulle het gesê as ons saamwerk, sal hulle ons nie skiet nie. Ek was nie oortuig dis die waarheid nie.”

Paddock sê hulle is ongeveer twee uur lank in dié gebied aangehou.

Die bakkie waarna Jaco Basson en sy vriend sou gaan kyk nadat dit op Facebook Marketplace geadverteer is. Basson is tydens die voorval vermoor. (Foto: Verskaf)

In dié stadium het die aanvallers ook geld uit hul spaarrekeninge na ʼn ander rekening oorgeplaas en van die mans is weg met die paartjie se selfone en besittings.

“Een man het toe gesê ons kan maar gaan en dat ons ons voertuig sou vind as ons die voetpaadjie volg.”

Skote, toe polisie

“Ons het in die verte twee skote gehoor. Dis toe dat twee polisiebeamptes skielik na ons aangehardloop kom – glo nadat ʼn lid van die publiek hulle ontbied het.

“Ons het vir hulle verduidelik wat gebeur het en waar die huis was. Hulle het gesê ons moet eerder net daar uitkom.

“Die polisie het ook gesê ons moet dadelik ons banke bel om ons rekeninge te vries. Van daar af is ons na die Loatle-polisiestasie waar ons sake van kaping, ontvoering en gewapende roof oopgemaak het.”

Paddock wag egter nou, 20 dae later, steeds vir ʼn amptelike SMS met ʼn saaknommer. Ná vele oproepe kon sy by ʼn speurder uitkom wat wel ʼn saaknommer vir hulle opgespoor het.

Sy het egter nog nie veel terugvoer van die polisie ontvang nie. Die paartjie het ook nog nie ʼn sent van hul gesteelde geld teruggekry nie.

Paddock sê sy kry steeds nagmerries en sy en Seger ontvang berading. Sy hoop dat hul nagmerrie-ervaring as ʼn waarskuwing vir ander mense sal dien om uiters paraat te wees wanneer hulle enigiets aanlyn koop of verkoop.

Sy hoop ook dat hul saak en die bewyse wat hulle vir die polisie gegee het, moontlik tot ʼn deurbraak in Basson se saak sal lei.

Sover bekend, is nog niemand in verband met Basson of Paddock en Seger se sake in hegtenis geneem nie.

Boonop word dieselfde voertuig waarna Paddock en Seger gaan kyk het, nou weer op Facebook Marketplace geadverteer – net onder ʼn ander naam.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur oor vordering met die onderskeie sake, maar het nog nie terugvoer gekry nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Die polisie kan mos nou ‘n lokval beplan as die motor steeds adverteer word.

Sterkte aan die paartjie en kan net dink watse trauma mens deurgaan.

Susanna ·

Ek verstaan nou glad nie. Onlangs was ook so geval. Lees mense nie koerant nie. Hoekom wil jy iets in daai gebiede gaan koop.

Anonymouse ·

En daai bakkie is nogsteeds op Facebook Market Place. Maklik om te kry met die manier hoe hulle bakkie gespel het.

Karoo ·

Is it sounds to good to be true….. mense, moet nie dat ‘n blink foto teen’ n goeie prys jou denke “cloud” nie. Bly weg van die platvorms en koop voertuie by ‘n instap handelaar waar jy baie meer beskerm is as net vir die lelike ding wat begin kop uitsteek.

Andre ·

…eisshhh, hoe dom is mense dan!
Al ooit gehoor van : “if it sounds too good to be true…?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.