Wiskunde-vraestel lek uit: Matrieks sal dalk weer moet skryf

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het gesê dit is ʼn groot teleurstelling dat die wiskunde 2-vraestel in die matriekeindeksamen ure voor dit geskryf is, uitgelek het. “Dit het die potensiaal om die integriteit van die nasionale senior sertifikaat-eksamen te ondermyn in die betrokke provinsies,” het Lucky Ditaunyane, woordvoerder van Umalusi, in ʼn verklaring gesê.

“In gevalle soos dié is Umalusi se mandaat om met die betrokke assesseringsliggaam, die departement van basiese onderwys, en wetstoepassers, saam te werk om die omvang van die uitlek van die vraestel te bepaal om seker te maak behoorlike stappe word gedoen.”

Maroela Media het vroeër berig Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het in ’n verklaring gesê die departement het verneem dat die vraestel Maandag vroegoggend, ure voor dit geskryf is, uitgelek het. “Sover lyk dit asof die vraestel in Limpopo en Gauteng uitgelek het,” het Mhlanga gesê. “Die departement het die inhoud van die uitgelekte vraestel geverifieer en gevind dat dit dieselfde inhoud bevat as die vraestel wat om 09:00 geskryf is.”

Afhangend van die uitslag van die ondersoek, sal daar van die betrokke skole moontlik vereis word om ʼn ander eksamen af te lê op ʼn datum wat deur die departement en Umalusi bepaal sal word.

Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het gesê die organisasie beskou die uitlek van die vraestel in ʼn baie ernstige lig. “Ons sal alles in ons vermoë doen om met alle belanghebbendes, insluitend wetstoepassers, saam te werk om die verantwoordelike persone te vervolg. Umalusi bly verbind tot sy mandaat om die geloofwaardigheid van die nasionale eksamen deur alle assesseringsliggame te verseker.”

Nomsa Marchesi, die DA se skaduminister oor basiese onderwys, het intussen gesê die departement doen ʼn beroep op die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, om tydens die volgende sitting van die nasionale vergadering ʼn ministeriële verklaring uit te reik met terugvoer oor die omvang van die uitlek van die wiskunde-vraestel met die jongste inligting oor die vordering van die ondersoek.

“Leerders en ouers moet gerus gestel word dat die eksamen bo verdenking is en dat geen verdere vraestelle sal uitlek nie,” het Marchesi bygevoeg.

Die DA is verheug oor die departement se vinnig reaksie om ʼn ondersoek van stapel te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Standaard het alreeds sover geval en dan wil julle nog kroek ook.

SomeOne

in die jare (1971) se matriek vraestelle het ons geweet dat vraestelle elke 4jaar dieselfde is

Mudguard

Alles in hierdie land kos net n paar rand. Selfs n lewe. Of n vraestel. Of n tender..

Hennie J

Umalusi is die klomp wat n week of twee gelede so windtie was dat hulle so gereed is vir die eksamen en dat alles in plek is. Dis nou elke jaar se gebeurtenis dat iets drasties verkeerd loop, maar niemand doen iets om van die treurige spul ontslae te raak nie. Jammer om te se maar as sulke belangrike dinge in die hande van our people onderwysers gelaat word, is dit die resultaat. Ek waarsku ook weer: Die OVK gebruik in 99% gevalle onderwysers vanaf agtergeblewe skole om stemstasies te beman en te beheer sonder enige noemenswaardige toesig en ons… Lees meer »

Nico

Wat nou gebeur is iemand wat dit doen vir betaling.