‘Wiskunde-vraestel makliker as rekord­eksamen’

matrieks-wiskunde-affies-seuns-2017-10-27-01

Matriekleerders het vandag hulle eerste wiskunde vraestel geskryf. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die eerste wiskunde-vraestel is nou agter die rug en dit blyk dat matriekleerders en onderwysers heeltemal tevrede is met die standaard van dié vraestel.

Ongeveer 170 matriekleerders aan die Afrikaanse Hoër Seunsskool in die Jakarandastad het Vrydag aangemeld om dié wiskunde-vraestel, wat in die volksmond gewoonlik as algebra bekend staan, te skryf. Sowat 70% van die matriekleerders in die skool neem wiskunde as ʼn vak.

Louis Schoombie, een van die leerders, het na afloop van die vraestel gesê dit was ʼn heel billike vraestel. “Daar was ʼn paar vrae wat so ʼn bietjie insig geverg het, maar ek glo dat ek heel goed in dié vraestel sal doen.”

Brendon du Toit het gesê hy het die wiskunde-vraestel geniet. Hy reken hy sal daarin slaag om 95% of selfs meer vir die vraestel te behaal.

“Hierdie vraestel was vir my baie makliker as die rekordeksamen s’n. Daar was ʼn paar moeiliker vrae waarmee ek gesukkel het, maar ek het steeds probeer om hulle te beantwoord. Ek reken ek sal minstens 70% vir die vraestel kan kry,” het Christiaan Fick gesê.

matrieks-wiskunde-affies-seuns-2017-10-27-04

Onderwysers en leerders meen Vrydag se algebra vraestel was billik. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Elmarie van Loggerenberg, adjunkhoof van akademie en wiskunde-onderwyser aan dié skool, het gesê die wiskunde-vraestel het ʼn goeie standaard gehandhaaf en alle kognitiewe vlakke getoets.

“Die vraestel was ook uitstekend taalversorg en het ʼn goeie uitleg gehad; ek is regtig tevrede met hierdie vraestel.

“Ek reken die vraestel het genoeg uitdagings vir die leerders gebied wat gewoonlik 90% in die vak behaal, terwyl daar steeds vrae was wat leerders sou kon beantwoord wat dalk nie so sterk is in die vak nie.”

Matriekleerders van reg oor die land sal oor die naweek voorberei vir die tweede wiskunde-vraestel Maandagoggend. Soos Schoombie hoop die meeste leerders sekerlik ook dat die vraestel nie te moeilik sal wees nie.

  • Matrieks van 2017 kan nou registreer om ‘n kennisgewing te ontvang sodra die matriekuitslae gratis op Maroela Media beskikbaar is. Ons wil ook graag van jou hoor as jy verwag om agt of meer onderskeidings te verwerf. Sterkte met die eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.