Wit duiwe vir De Villiers se vrou

‘n Gedenkdiens is Vrydag vir Theresa de Villiers gehou (Foto: Facebook)

Wit duiwe is Vrydag by voormalige Springbokbreier Peter de Villiers se vrou, Theresa (62), se roudiens ter ere van haar lewe in die Paarl vrygelaat.

Vriende en familie het Vrydag bymekaargekom om haar lewe te vier en finaal van haar afskeid te neem. Haar liggaam is veras.

Theresa se liggaam is Maandagmiddag in familievriende se swembad in Fairview, Gqeberha, aangetref. Die nadoodse verslag wys dat sy moontlik duiselig was voordat sy in die swembad geval en toe verdrink het. Die oorsaak van haar dood word as verdrinking aangedui.

Peter, wat nie self ʼn huldeblyk gelewer het nie, het volgens ʼn familielid voor die diens gesê dat hy nie weer teruggaan huis toe nie. “Hy het gesê hy gaan terug na sy woonplek – waar hy rus en slaap – maar hy sal nooit weer by sy huis wees nie.”

Michelle Monk, ʼn jare lange vriendin van Theresa, het aan die begin van die diens hulde aan haar vriendin gebring. “Ek het vandag pienk aangetrek om Theresa se lewe te eer. Pienk was haar gunstelingkleur,” vertel Monk.

Monk beskryf Theresa as ʼn unieke individu wat sonder oordeel geluister het en diep liefde vir haar medemens gehad het.

Peter en Theresa de Villiers (Foto: Facebook)

“Sy was ʼn vriendelike siel wat konflik gehaat het. Haar glimlag en lag het enige kamer opgehelder.

“Die nalatenskap wat sy agterlaat, is dié van die vrug van die Gees. As ons elkeen een van daardie vrugte vat en in ons lewe uitstraal, sal ons haar lig aanhou laat skyn.”

Familielid Robert Lewis het van die familie se kant hulde aan Theresa gebring.

“God het Theresa vir ons gegee om ons te wys hoe goed Hy is. Dank die Here as familie vir haar lewe. Dank Theresa ook vir als. Ons weet sy luister vandag,” het Lewis sy huldeblyk begin.

Lewis het gesê dat hy altyd Theresa se diensbaarheid en die vrede wat sy uitgestraal het, bewonder het.

“Sy het ʼn voorbeeld gestel om diensbaar te wees sonder om enigiets terug te verwag. Sy het iets gedoen vir die liefde van die saak omdat sy dit wou doen.

“Theresa het ook weggehardloop vir konflik en was ʼn vredemaker in haar hart. Sy het vrede gehad wat alle verstand te bowe gaan – soos die Woord ons leer.”

Volgens Lewis het die kollig Theresa nooit geskeel nie. “Sy wou net altyd Theresa wees en was nie gepla oor die limelight nie.”

Lewis het Rafiek en Fatima Hermans, jare lange familievriende van die De Villiers-gesin, verál bedank dat hulle altyd hul huis in Gqeberha vir Theresa oopgestel het. Theresa het ten tyde van haar dood by hulle gekuier.

“Hul huis was haar happy place. Dis ook hier waar sy oorlede is.”

Theresa word oorleef deur Peter en hul dogter, Claudia. Die egpaar het in 2019 hul ander dogter, Odile, weens kanker aan die dood afgestaan. Sy was 28 jaar oud.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.