Witbank-aftreeoord-moord: Verdagte gee homself oor

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Pixabay)

’n Verdagte het homself Woensdag by die polisie oorgegee in verband met die moord op die 86-jarige Johanna Rossouw van Witbank in Mpumalanga.

Rossouw is Sondag in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Die bejaarde is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ’n man homself by die polisie in Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee het.

Die polisie sal na verwagting later vandag meer inligting rakende die man se inhegtenisneming bekend maak.

’n Inwoner van Eden Park-aftreeoord het Woensdag aan Maroela Media gesê die inwoners is geskok en hartseer ná die moord op Rossouw. “Van die inwoners was bang omdat hulle nie geweet het of die verdagte nog in die omgewing is nie. Dit is seker te verstane dat hulle so gevoel het.”

Volgens die betrokke inwoner, wat verkies om anoniem te bly, heers daar in dié stadium nog onsekerheid oor hoe die verdagte toegang tot die oord verkry het.

Maroela Media het vroeër berig ’n ooggetuie het glo die verdagte op die dag van die moord gesien, toe hy met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat het.

’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maggies ·

Dertig keer met ‘n mes gesteek klink na ‘n woede-moord. Op ‘n bejaarde. Mag sy straf groot wees.

Johann ·

Dis asof die bose onvermomd onder ons rondloop en verwoes! Geen maar geen mens bedink en bedoen so iets nie! Die absolute vrees en weerloosheid wat so n’ ou mens in haar laaste oomblikke moet ervaar is net ondebkbaar.

koos10 ·

My eerste gedagte ook. Familielid, vriend/in of werker?
Geen geharde moordenaar gee vrywillig oor aan die polisie nie.

Gert ·

Dis wreed verby. Wat gaan in jou kop aan as jy so iets doen?

quartus ·

Sekuriteit by aftree oorde moet opgeskerp word. Hierdie aanvalle op ou mense in die oorde is besig om toe te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.