Witbank-inwoners besorg oor beplande Jackaroo-steenkoolmyn

Argieffoto van ‘n steenkool-kragstasie (Foto: stevepb, Pixabay)

Die VF Plus het hierdie week ‘n versoekskrif teen die beplande steenkoolmyn by Jackaroo Park namens inwoners van die Emalahleni- plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) by die Mpumalanga-wetgewer ingedien.

Die beplande steenkoolmyn gaan inwoners van Jackaroo Park, Blancheville, Die Heuwel, Riverview, Zeekoei-plotte, Kromdraai en die omliggende gebiede direk negatief raak. Die mynontwikkeling word beplan op die plaas Kromdraai wat inwoners ken as die grond langs Deborahstraat in Jackaroo Park.

“Inwoners is uiters bekommerd oor die uitwerking van die ontwikkeling van die steenkoolmyn deur Very Quick Mining op die omgewing, infrastruktuur en die gesondheid van inwoners,” sê Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus. Die mynmaatskappy gaan die ontginde steenkool aan Eskom lewer.

“Eienaars van eiendomme is van mening dat hul eiendomswaardes gaan afneem weens geraas-, lug- en omgewingsbesoedeling. Daar is ook ernstige kommer of die mynmaatskappy die nodige rehabilitasie aan die omgewing gaan doen ná die staking van sy mynaktiwiteite.”

Die VF Plus het vrae oor die beplande mynontwikkeling gerig aan Mpumalanga se LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, Mandla Msibi.

Weber sê die party wil veral weet waarom ʼn mynaansoek so naby aan ʼn vragspoorlyn van Transnet oorweeg word indien die ontwikkeling volgens Transnet nader as 100 meter van sy infrastruktuur is en hy daarom nie die mynontwikkeling ondersteun nie.

“Die VF Plus sal seker maak dat die besware van die bekommerde inwoners van Emalahleni teen die mynontwikkeling in die wetgewer gehoor word en nie bloot onder die mat ingevee word nie. Volgens die Handves van Regte het inwoners die reg om in ʼn omgewing te woon en werk wat nie skadelik vir hul gesondheid is nie en waar besoedeling en ekologiese agteruitgang voorkom moet word.”

Die VF Plus moedig die inwoners van Emalahleni aan om saam met die party op te staan en saam te staan en hierdie regte op te eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Geluk daar. Moes gesien het hoe mense se nat wasgoed op die draad gelyk het toe die Athlone krag stasie nog gewerk het en die wind het reg(of was die verkeerd) gewaai…..wit was swart.

annie ·

Is daar nog kangaroes oor of nog net ou Jack? Die res na Australië gevlug? Witbank is so ‘n smerige plek. Eskom het seker gereken, watwo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.