Witdoodshaai spoel in Hartenbos uit

Die haai is Sondag op die strand van Hartenbos gewaar. (Foto: Christiaan Stopforth/Drone Fanatics SA)

Inwoners van Hartenbos in die Wes-Kaap het Sondag kop gekrap nadat ʼn witdoodshaai op die strand uitgespoel het – boonop met sigbare wonde aan die buik.

Mariene bioloë, natuurliefhebbers en lede van die gemeenskap het om die karkas van die haai saamgedrom in ʼn poging om die oorsaak van die vis se stranding uit te pluis.

Kenners vermoed dat die haai deur ʼn orka, of sogenaamde moordvis, gedood is.

Nico Booyens, mariene bioloog en hoofnavorser aan die Shark Research Unit in Mosselbaai, het aan Maroela Media gesê dat hy die oggend ʼn oproep van ʼn lid van die publiek ontvang het van ʼn haai wat op Hartenbos se strand uitgespoel het.

“Ek was eerste op die toneel en het die res van my span, wat spesifiek met witdoodshaaie werk, ontbied om die haai se toestand te ondersoek,” sê hy.

“Ons het die haai ondersoek om te kyk of dit een van die haaie is waarmee ons werk, en kon ongelukkig vasstel dat dit die einste haai is wat ons vier dae vantevore gesien het. Dit was nie ʼn aangename bevinding om te maak nie.”

Die haaiwyfie is 3,74 m lank en weeg sowat 800 kg.

“Ons het by nadere ondersoek gesien dat daar ʼn groot gat in haar maag is en dat haar lewer weg is,” sê hy.

Booyens het ʼn sterk vermoede dat die afwesigheid van die haai se lewer daarop dui dat ʼn orka haar bygekom het.

“Orkas gaan net vir haaie se lewers omdat dit vol van ʼn ryk olie is. Wanneer haaie robbe eet, vervaardig hul liggame die ryk olie wat in die lewer gestoor word. Hierdie olie is al waarna die orkas op soek is,” sê hy.

“Dit is hartseer dat so ʼn groot dier moes vrek vir die klein bietjie wat gevat is.”

Hoewel Booyens al by verskeie geleenthede so ʼn geval teëgekom het, sal die departement van bosbou, visserye en die omgewing eers die amptelike oorsaak van die haai se dood kan bevestig nadat ʼn nadoodse ondersoek afgehandel is.

Die gemeenskap het ingespring en gehelp om die haai van die strand af te kry. (Foto: Verskaf)

Die haai is met behulp van die gemeenskap nog dieselfde dag van die strand af verwyder.

“Dit is nie al dag wat jy ʼn haai op ʼn bakkie deur die dorp sien ry nie,” skerts Booyens.

“Maar ons is nietemin dankbaar vir elkeen wat bereid was om ons by te staan. Dit was bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap saamgekom het om te help. Die brandweer het gekom en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het hul dienste aangebied en op die ou end kon ons die haai na ʼn veilige gebied neem om ons navorsing voort te sit.”

Christiaan Stopforth, ʼn natuur foto- en videograaf wat op die toneel was, sê hy het maande lank daagliks minstens 10 witdoodshaaie aan die kus van Mosselbaai gewaar. Sowat twee dae voor die aanval kon hy egter nie ʼn enkele een opspoor nie.

“Voor Sondag was geen haai op hul gewone plekke nie – nie eens een nie. En toe spoel die karkas uit.”

Booyens sê hy het sedert die aanval ook nog nie weer ʼn witdoodshaai gewaar nie. Die vermeende orka-aanval het skynbaar elke haai vir kilometers aan die kus verwilder.

“Ons gaan vandag weer uit om te kyk of ons hulle by ʼn nabye eiland kan opspoor, maar ek is nie hoopvol om iets te kry nie.”

Vanuit die Shark Research Unit se navorsing blyk dit dat die verskynsel van orkas aan Mosselbaai se kus sedert 2017 toeneem.

“Dit lyk asof die kus ʼn gunsteling vir orkas geraak het. Vantevore was dit nooit so ooglopend nie, maar nou het ons al twee aanvalle in vier maande in Hartenbos gehad wat met orkas verband hou.”

Orkas is kragtige roofdiere wat veral vis en ander seelewe teiken. Daar is egter min navorsing dat dié roofdiere in die natuur ʼn bedreiging vir mense inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lillian ·

Interessant om te lees Orcas is net agter die haai se lewer aan…

Nommer 7 ·

90% Van ‘n haai se ingewande is sy lewer, en is 25% van die haai se totale gewig.

Miena ·

Sjoe dis interessante nuus. Ek het nie geweet dat die oes van n orgaan onder see/roofdiere ook voorkom nie. En hier dog ek al die tyd dis net die mensdom wat so gulsig is!!!

Fanie ·

Die Komentaar dat dit hartseer is dat so groot dier moes vrek vir so bietjie wat gevat is is werklik nie gepas nie. Dit is die Natuur, dit werk maar so, Circle of Life. Die haai spesie het al heelwat mense verorber en beseer. Nou word hulle die “Apex Predator” van die see gejag. ‘n Baie raar , hoogs inteligente dier.

Piet parys ·

Dalk n branderplank ryer wat kwaad geraak het vir die haai en hom terug gekry het .

Helene ·

Baie hartseer dat so n pragdier so aan haar einde moes kom.

Nommer 7 ·

Kyk gerus “The Dodo” op Youtube. Oor haaie wat na ‘n vrou swem sodat sy visvang hoeke uit hul monde kan verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.