Withaai keer terug na Kleinbaai

Groot withaai in Kleinbaai gewaar. (Foto: Marine Dynamics)

Inwoners van Kleinbaai is die afgelope week aangenaam verras deur verskeie besigtigings van grootwithaaie in dié omgewing – tussen Gansbaai en Franskraal. Dit nadat ʼn aansienlike afname in haaigetalle sedert 2017 in Gansbaai waargeneem is.

Kenners skryf dié afname grotendeels toe aan die voorkoms van moordwalvisse (Orcinus orca) in die omgewing van Kleinbaai ʼn paar jaar gelede. “Dié visse het ʼn voorliefde vir grootwithaaie se lewers en vanaf 2017 het ons ʼn toename gesien in lewerlose withaaie wat uitspoel,” het die mariene bewaarder Wilfred Chivell gesê. Chivell is die uitvoerende hoof van Marine Dynamics en ook stigter van Dyer Island‑bewaringstrust. Hy meen klimaatsverandering kon ook ʼn afname in grootwithaaigetalle tot gevolg gehad het.

Hoe dit ook al sy, vir toeriste en die bemanning van die haai-boot Slashfin was Sondag ʼn vreugdevolle ervaring toe hulle ʼn withaaiwyfie van ongeveer 2,5 meter lank in die water gewaar, duidelik sigbaar en naby aan die boot. “Die afgelope tyd was dit meestal brons- en skerpneushaaie wat deur die ekotoerisme‑bote gewaar is,” sê Chivell. “Die afgelope week het besoeke ook daagliks tussen twee en drie withaaie opgelewer wat deur Marine Dynamics se bote opgemerk is. Dit is dus veilig om te sê dat die withaaie weer terug is in Kleinbaai.”

Groot withaai in Kleinbaai gewaar. (Foto: Marine Dynamics)

Chivell sê hy hoop dat Marine Dynamics se navorsing lig kan werp op die haaie se skielike verdwyning en terugkeer na Kleinbaai. Deur Chivell se ekotoerismeprojekte word navorsingsprojekte oor die grootwithaai gefinansier sodat data deur plaaslike en internasionale universiteite en wetenskaplikes gebruik kan word om soveel as moontlik inligting in te win oor die spesie se dalende getalle. “Die withaai speel ʼn kritieke rol as roofdier in die mariene ekostelsel en ons as mens moet dié diere beskerm, eerder as vrees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.