Wits-betoging: Polisie ontken dat student geskiet is

(Foto: Michele Spatari/AFP)

Die polisie sê hy is bewus van ʼn video en berigte dat ʼn vrouestudent glo geskiet is tydens Wits-studente se betoging Maandag in Braamfontein, Johannesburg.

Geen polisiebeamptes wat in Braamfontein ontplooi is, het enigsins skote tydens die betoging afgevuur nie, het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

“Daar is wel ʼn rookgranaat in een geval en waterkanonne in ʼn ander geval gebruik in ʼn poging om die oproerige skare uiteen te jaag.”

Die voorval is nie amptelik by die polisie aangemeld nie, wat dit volgens Naidoo moeilik maak om die omvang van die student se beserings vas te stel, asook die omstandighede wat daartoe gelei het. Die polisie wil nou ʼn onderhoud met die student doen en ʼn mediese verslag bekom rakende die aangeleentheid.

Studente het Maandag weer landwyd betoog as deel van hul eise vir gratis onderrig, asook dat studente toegelaat word om by universiteite te registreer al het hulle uitstaande skuld. Daar word ook geëis dat studieskuld afgeskryf word.

Dr. Blade Nzimande. (Foto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Studente-unie (SAUS) het ʼn beroep op studente gedoen om die land se 26 openbare universiteite tot stilstand te ruk. Dit volg nadat SAUS met Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, vergader het.

Nzimande het intussen in ʼn skriftelike reaksie op 15 eise van SAUS gesê sy departement is nie in die finansiële posisie om universiteite te ondersteun om alle studieskuld af te skryf nie.

Sommige universiteite het intussen hul registrasietydperk tot die einde van Maart 2021 verleng. SAUS dring daarop aan dat die tydperk tot 30 April verleng word.

Daar is ʼn beroep op die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) gedoen om finansieringsaansoeke spoedig te verwerk, veral vir eerstejaars en NSFAS-gefinansierde studente.

Nzimande het gesê sy departement se begroting sal aangepas word om seker te maak dat geen student, wat vir NSFAS kwalifiseer, finansieel uitgesluit word en dus nie kan registreer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Magtag hulle demand net vir alles wat gratis moet wees! Betaal bietjie man soos die blankes doen NIKS in die lewe is vir mahala nie net julle redeneer so pffft

JM

In plaas daarvan dat hierdie lawaaiende, betogende studente vir eens en vir altyd vasgevat word en dat geweier word om aan hul onbillike eise te voldoen, word hulle gepaai, ten koste van die belastingbetalers. Waar het jy gesien dat geëis kan word dat studieskuld afgeskryf word? Wonder of 20% van hierdie sogenaamde studente kwalifiseer vir universitêre onderrig, maar hulle handhaaf die houding dat die wêreld alles aan hulle verskuldig is. Hierdie aanbod van gratis onderrig ontplof nou in die ANC se gesig.

Stefan

Gratis onderwys, gratis behuising, gratis krag, gratis water, gratis mediese dienste, gratis transport, gratis pensioene, gratis voedsel.
Watter fantasties paradys leef ons in nè, ons moet pasop, die hele wereld sal hier na toe wil emigreer.

Kokerboom

Iets wat jy verniet kry waardeer jy nie!!!

Baardman

Hulle wil alles gratis hê. Wanneer stem hulle dan in om gratis te werk