Wits en studente onderteken ooreenkoms

Studente by Wits betoog (Oktober 2015) Foto: Wits, Facebook

Studente betoog by Wits (Oktober 2015) Foto: Wits, Facebook

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het sy voorgestelde verhoging van 10.5% in studentegelde vir volgende jaar teruggetrek en ʼn ooreenkoms met studente onderteken vir nuwe onderhandelinge.

Die universiteit het Saterdag gesê raadslede van die uitvoerende komitee en betogende studente het tot ʼn vergelyk gekom. “Die universiteit sal alle besluite oor studentegeldverhogings opskort,” lui die verklaring. “Daar sal geen verhoging wees totdat ʼn ooreenkoms ná onderhandelings bereik is nie.”

Die universiteit het bevestig dat alle onderhandelings van voor af sal begin. “Indien die onderhandelings vasval, sal die universiteit nie weer die aanvanklike besluit instel nie. ʼn Nuwe raamwerk vir onderhandelings sal gesamentlik bespreek word en die finale besluit sal tydens ʼn byeenkoms aan die universiteit bekend gemaak word.”

Die universiteit het bevestig dat geen tugstappe gedoen sal word teen studente of werknemers wat aan die betoging deelgeneem het nie.

“Die universiteit sal Maandag amptelik gesluit bly, om die raad die geleentheid te bied om verslag te doen aan ʼn universiteitsvergadering. Alle aktiwiteite by die universiteit, insluitend lesings, eksamens, assesserings en praktiese oefeninge is opgeskort en alle studente en personeel op die kampus, insluitend die mediese fakulteit en geaffilieerde hospitale word hierdeur geraak.”

Die voorsitter van die Wits-raad, dr. Randall Carolissen, en uittredende Verteenwoordigende Studenteraadspresident Shaeera Kalla, het die ooreenkoms onderteken.

“ʼn Volle raadsvergadering vind Sondag, 18 Oktober plaas, om dié sake te bespreek,” het die universiteit gesê. “Die raad sal Maandag om 12:00 terugvoer gee aan studente.”

Wits-studente betoog al drie dae lank teen die verhoging van 10.5% en lesings is opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor Wits op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chivago ·

En daar kry hulle hul sin. Die paadjie vir toekomstige stakings is met plaveisel uitgelê so daar sal weer en weer “demand” word. Die ergste van alles is, hulle betoog teen verhogings maar aan die einde van die jaar druip 99% van hulle. Wat ‘n grap!

Yvonne ·

Ja wat, hierdie is maar net ‘n refleksie van wat vandag in die meeste huishoudings aan die gang is: die kinders kraai koning! A recipy for disaster!

streicher ·

Sien my vorige kommentaar is verwyder. Kom ons prbeer weer, hierdie keer polities korrek. Wits 0, “Studente” 1.

William Fleetwood ·

Kan nie help om so ‘n tikkie schadenfreude te ervaar as ek die spul gadeslaan nie.

Chris Mynhardt ·

Regtig die universiteit is n klomp lam sakkige persone. Hulle lalt die studente die septer slaan. Nou volgende op die studente se agenda sal wees om te betoog oor die eksamens punt wat hulle behaal. Hulle sal se “one pass, pass all” en as hulle nie hul sin nie kry nie dan breek hulle die universiteit af of val die dosente aan. Regtig die regering moet nou ingryp en die studente aanspreek en se as hulle nie betaal nie dat daar gee onderig sal wees nie. As ek nie my klas gelde betaal het nie kon ek nie voortgaan met my studies en ek moes die verhoogings ook aanvaar. As daar sprake van betogings was was jy onmiddelik geskors vir n tydperk. Waar het die studente meer regte as die res van die land se burgers. Weet hierdie studente dat van ons belasting geld word betaal om hulle op te lei? As my kind in so veldtog deelneem sal ek sy basvele aftrek sodat hy verstaan dat dit n voorreg is om te leer by n universiteit en einige opleidings instansie.

Dan ·

Snaaks niemand sal ooit so betoog teen die brandstofprys nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.