Wits-registrasie afgehandel, sal nie instap-studente aanvaar nie

Universiteit van die Witwatersrand (Foto: ANA)

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het Vrydag gesê die registrasie van studente is afgehandel en geen instap-studente of verdere registrasies vir die eerste semester sal oorweeg word nie.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het, ná pres. Jacob Zuma se aankondiging verlede maand dat tersiêre opleiding gratis by staatsinstansies aan arm en werkersklasstudente aangebied sal word, studente aangemoedig om na universiteite van hul keuse te gaan en te registreer.

Alhoewel registrasie vir eerstejaarstudente reeds op 30 September 2017 by dié universiteit gesluit het, is daar kommer dat studente Vrydag sou opdaag om te registreer. Van die studente het nie aansoek gedoen nie, omdat hulle gedink het dat hulle dit nie sal kan bekostig nie.

Carol Crosley, registrateur van Wits, het Vrydag gesê die universiteit het 56 901 aansoeke vir eerstejaarstudente vir die 2018 akademiese jaar ontvang en hulle kan slegs 5 664 studente akkommodeer.

Sy het gesê Wits brei sy getalle van nagraadse studente uit, as deel van sy 2022-strategie. Die universiteit het 22 727 aansoeke vir nagraadse studies ontvang. Die universiteit het altesaam 79 628 aansoeke vir die 2018 akademiese jaar ontvang.

Crosley sê Wits kan slegs 36 400 voltydse studente akkommodeer.

“Wits-universiteit het sy studentegetalle die afgelope twee dekades verdubbel en die universiteit se inskrywingsplan is deur die departement van hoër onderwys goedgekeur,” het Crosley bygevoeg.

“Om meer studente in te skryf as wat die universiteit kan hanteer, sal ʼn beduidende impak hê op die akademiese integriteit van die akademiese program. Dit sal ook druk plaas op die universiteit se menslikehulpbronne-afdeling (wat die werkslading van dosente en administrasiepersoneel sal beïnvloed) en ʼn impak hê op die infrastruktuur, aangesien die universiteit slegs ʼn beperkte getal opleidingslokale beskikbaar het.”

Wits-kampus se hoofingang is deur veiligheidswagte beskerm. Daar was egter nie Vrydag enige teken van studente wat wou inskryf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Ek dink die tydbom tik…
Slegs plek vir 10% van aansoeke wat ontvang is.
Wat sou die situasie gewees het indien al die leerders wat vir graad 1 inskryf wel matriek slaag? Dubbel die aansoeke!
Die akademiese programme se integriteit gaan nou vinnig afwaarts wentel met die ondraaglike spanning wat dosente se voorland is.
Ek het tog ook n idee dat transformasie van die dosentekorps al meer op die voorgrond gaan tree, aangesien dit nie verteenwoordigend van die bevolking is nie.

Irene ·

Eff bou jou eie skole unv sien of dit gratus aan studente gegee word ek gaag jou uit

CHRISTA ·

Eish, die 2017 matrikulante is gebore ten minste 2 jaar nadat die ANC oorgeneem het. Hoeveel universiteite het die ANC die laaste 23 jaar gebou? HULLE het GRATIS onderwys, GRATIS behuising, GRATIS mediese dienste, GRATIS water en elektrisiteit belowe!! NIE EEN van daardie beloftes kon hulle nakom nie!! NET GRATIS VIR HULLE PRESIDENTE EN MINISTERS!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.