Wits SR verander van plan oor ontwrigting van eksamens

Leiers van die EFFSC by Wits-universiteit vier hul oorwinning. Foto: ANA/@WitsEFF Twitter

Die nuutverkose studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het ʼn beplande stilstand-aksie, waartydens alle akademiese aktiwiteite tot ʼn stilstand gedwing sou word, Donderdag net voor middernag afgelas.

Die studenteraad (SR), wat deur die EFF gelei word, het gesê hulle het ʼn magdom klagtes ontvang direk ná  ʼn massavergadering buite die Great Hall waar die besluit geneem is om Vrydag met ʼn Fees Must Fall-betoging te begin.

“Studente wat nie op kampus bly nie het hul kommer uitgespreek oor ʼn moontlike verlenging in die [akademiese] kalender. Die studente redeneer dat hulle nie soos die koshuisstudente geen ekstra kostes sal hê as hulle langer vir privaat akkommodasie moet betaal nie,” het die SR in ʼn verklaring gesê.

“As ʼn studenteraad huldig ons die siening dat ons die studente se mandaat moet dien. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die hoeveelheid studente wat teenwoordig was by die massavergadering nie verteenwoordigend is van al die studente by die universiteit nie.”

Die studenteraad het laat hoor die stilstand tydens die einde van die jaar se eksamens is nie die regte manier “om na mekaar om te sien nie”.

“Die besluit is finaal. Studente moet voortgaan om in die biblioteek en rekenaarlokale te studeer om sodoende genoeg voor te berei vir die eksamens. Die eksamens sal voortgaan soos normaal.”

Die jeugbeweging van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFFSC) het verlede maand die studenteraadverkiesing by Wits gewen.

Intussen gaan optogte teen die voorgestelde fooiverhogings by die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Vrystaat voort.

Verskeie studente is Donderdag in Kaapstad in hegtenis geneem ná hul strate afgesper het in ʼn poging om die kampus tot stilstand te dwing. Max Price, visekansellier van die Universiteit van Kaapstad, het gesê die betogings is onaanvaarbaar te midde van die eksamens.

“Ons was tot ná middernag besig met onderhandelinge [oor fooiverhogings] om so ontwrigting te probeer vermy. Hul eise het met elke vergadering net vermeerder.”

Price het bygevoeg dat as daar geen fooiverhoging sou plaasvind nie, dit die universiteit bankrot sal laat. “Wat ons wel kan doen, is om te verseker dat studente wat op finansiële hulp steun nie akademies uitgesluit word nie. Die universiteit is gelukkig in staat om deur donateurs geld in te samel om te verseker dat studente wat deur die nasionale finansiëlehulpskema vir studente (NSFAS) studeer en die sogenaamde ‘missing middle’ nie benadeel sal word deur die fooiverhogings nie.”

Die UK-studente eis ook dat pres. Jacob Zuma die Heher-kommissie se verslag oor die moontlikheid van gratis hoër onderwys vrystel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Hul gaan nog baie lank wag vir Zuma om die verslag bekend te maak. Hy wil eers self die verslag lees. Nouja, hy kan net hoofletters lees en die verslag is boonop 748 bladsye lank.

Alida ·

Dit gaan hom 40 dae en 40 nagte vat om dit te lees. Ons het werk om te doen.

Leahim ·

Vernietig die plek brand hom af tot op die grond moet nie terughou nie die minister se kinders studeer nie daar nie hulle is almal in universiteite in die buiteland op staats beurse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.