Wits-studente moet besluit oor lesings

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sal na verwagting Donderdag ʼn elektroniese peiling hou om te bepaal of lesings volgende week hervat sal word.

Die universiteit het in ʼn verklaring ʼn beroep op studente en personeellede gedoen om aan die peiling deel te neem. “Dit is ʼn geleentheid vir jou om jou stem te laat hoor oor die hervatting van die akademiese program,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

Die proses sal deur ʼn onafhanklike ouditmaatskappy bestuur word nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangedui het dat hy nie die universiteit sal help met die peiling nie. Daar is aan studente ʼn teksboodskap gestuur waarop hulle “ja” of “nee” kan antwoord, terwyl personeellede ʼn e-pos ontvang het waarin verduidelik word hoe om in te teken en te stem.

Die peiling sal tussen 07:00 en 16:00 plaasvind.

Die Wits-studenteleiers het Woensdagaand die hof genader met ʼn aansoek vir ʼn dringende interdik om die universiteit te verhoed om met die peiling voort te gaan. Die hof het die aansoek geweier en bevind dat almal se stem gehoor moet word.

Intussen het die Universiteit van Johannesburg hom sterk uitgespreek teen veiligheidspersoneel se optrede Woensdagaand toe studente en joernaliste tydens betogings aangerand is. Beeldmateriaal wat op sosiale media gedeel is wys glo hoe veiligheidswagte op die betogende studente afstorm en hulle aanrand. Die wagte het na bewering ook pepersproei gebruik. Op die beeldmateriaal kan ʼn joernalis gesien word wie se kop erg bloei nadat hy by ʼn vulstasie aangerand is.

Die #FeesMustFall-betogings het die afgelope twee weke weer op talle kampusse opgevlam nadat Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, aangekondig het dat universiteite self kan besluit oor hul verhogings in klasgeld vir volgende jaar. Talle instansies moes weens die gewelddadige betogings sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Basson ·

Hoe bizar – moet daar nou ‘n referendum gehou word of ‘n instansie sy werk moet verrig of nie?

Al sou die stem wen om voort te gaan met klas, as die kriminele hulle nie eens aan ‘n HOF inderdik steur, wat is die kans?

Skrikwekkend hoe ver ons al gebreinspoel is….

Pietman ·

leierloosheid op sy beste! Besluite word aan studente oorgelaat. Die veiligheidspersoneel by UJ moet studente toelaat om die kampus af te brand en die bestuur by te kom.

Jeanne ·

Nou hoekom mag die studente die veiligheidspersoneel aanrand maar hulle mag nie eers pepersproei gebruik nie? Ek keur geen geweld goed nie, veral nie teen die joernaliste nie, maar die veiligheidspersoneel is seker al so moeg om vir klippe en bakstene en houe te koes, hulle het hulleself seker begin verdedig. Hoekom mag net die studente aanval? Ek verstaan glad nie. Gister huil hulle snot en trane toe hulle met rubberkoeels geskiet word maar die aanrandings op personeel en ander studente wat deur STUDENTE gepleeg word word goedgepraat en gesien as deel van die struggle? Nonsens, beveg vuur met vuur, as jy met vuur speel SAL jy brand. Dit geld egter nie vir die joernaliste wat aangerand word nie, dit is sommer net twak.

Wern ·

Veiligheidswag wat joernalis aanval? Ek glo dit nie, dit klink na twak oopmaakstorie.

Hasie ·

Min. van finansies. sê dat indien die regering nie so veel geld vermors het nie kon studies gratis gewees het. Dit is iets wat ons weet. Die SA regering is die oorsaak van al die gemors by die universiteite. Ek wens ek kon dit meer invryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.