Wits-studente vas wat hofbevel verontagsaam

Die bus wat op 17 Februarie 2016 buite 'n Wits-koshuis aan die brand gesteek is Foto: @andimolf, Twitter

Die bus wat op 17 Februarie 2016 buite ‘n Wits-koshuis aan die brand gesteek is Foto: @andimolf, Twitter

Altesaam 14 persone is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle ʼn hofbevel, wat hulle verbied om universiteitsbedrywighede by Wits te ontwrig, verontagsaam het.

Die hofbevel is in Januarie bekom.

Die Universiteit van die Witwatersrand het gesê sommige van die persone is studente. “Hulle was die afgelope paar dae betrokke in ʼn aantal onwettige aktiwiteite op ons kampusse,” het die universiteit gesê.

Die persone is in aanhouding by die Hillbrow-polisiestasie.

Volgens die universiteit is die persone in hegtenis geneem in verband met ses misdade, waaronder die onwettige besetting van die Senaathuis, poging tot brandstigting, opsetlike saakbeskadiging, ʼn bus wat aan die brand gesteek is, ʼn matras wat agter in die biblioteek aan die brand gesteek is en vandalisme van universiteitseiendom.

Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, het gesê die instansie het bykomende sekuriteitspersoneel op alle kampusse ontplooi nadat ʼn bus Woensdagaand aan die brand gesteek is. “Gegewe die gebeure van die afgelope twee dae, het die universiteit geen ander opsie gehad nie as om weer veiligheidsbeamptes dwarsoor ons kampusse te ontplooi, insluitend op busroetes,” het sy gesê. “Ons moes hulpbronne versprei waar dit die meeste benodig word.”

Die universiteit het gesê kragtens die instansie se beleid sal sommige van die studente wat in hegtenis geneem is, geskors word of verbied word van alle kampusse.

“Sommige persone voer aan dat die universiteit betogings kriminaliseer. Dit is nie waar nie. Die aktiwiteite wat ons die afgelope paar dae aanskou het, is krimineel en ons reageer dienooreenkomstig.”

Maroela Media het Vrydag berig 27 persone is in verband met betogings by Tuks in hegtenis geneem.
Lees alle vorige berigte oor Wits op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wouter ·

Nou wie moet nou vir die skade betaal? En ook vir die ekstra sekuriteit? Seker maar die paar wat nie brand en afbreek nie en wat hul studiegelde betyds betaal het en saar is om te studeer.

Michael ·

Ek dink as daar nie streng opgetree word nie gaan die universiteite in totale anargie verval en die studente wat daar is om te studeer sal geraak word

Michael ·

SA se universiteite stuur af op ‘n ramp. Binnekort gaan hulle soos dieselfde wees as ander Afrika lande waar ‘n graad niks beteken nie en universiteite in totale anargie is! Baie dankie anc en politiese korrekte rektors!

Oom Boer ·

@Frans, ek stem heelhartig met jou saam in getalle, maar hou ingedagte die cANCer het nou ernstig begin raak met besparings veldtogte en daarom besnoeiing begin toepas op die getalle oortreders. Of dalk was dit maar net ‘n wiskundige tekort berekening!!!!

Michaelv ·

En almal is Vrydag vrygelaat op R 500.00 borg en kyk of aanspreeklik gehou gaan word??

broos ·

eers kriminele klagtes dan ‘n lewenslange skorsing van ALLE universiteite…. gee die boodskap hard en duidelik!!

John ·

Kondig n noodtoestand af op alle kampus dan kan jy hulle reg handteer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.