‘Wits-verkragter’ uit koshuis geskuif

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

ʼn Man wat van die verkragting van ʼn student aan die Universiteit van die Witwatersrand beskuldig word, is na ʼn ander plek op die kampus geskuif, het ʼn woordvoerder vir die instansie Vrydag gesê.

Dit kom ná studente Woensdagaand betoog het dat die vermeende oortreder van die kampus verwyder moet word. Die studente voer aan dit is nie voordelig vir die slagoffer en die beweerde oortreder om in dieselfde gebou te bly nie.

Die voorval het drie weke gelede plaasgevind.

Volgens gerugte Donderdag het die beweerde slagoffer haar studies by Wits gestaak en die land verlaat. Sy het nog nie ʼn saak aanhangig gemaak teen die beweerde verkragter nie.

Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, het egter gesê die student is steeds geregistreer by Wits en het bevestig dat die universiteit ʼn klag ontvang het oor ʼn beweerde verkragting by Wits Junction-koshuis.

Die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding het gesê hy is geskok oor die verkragtingbewerings en dat die vermeende oortreder steeds in een van die koshuise woon en toegelaat word om eksamen af te lê.

Connie September, voorsitter van die komitee, het gesê indien die bewering waar is, moet die wet sy gang gaan bo die universiteit se dissiplinêre stappe. “Die oortreder moet vervolg word,” het sy gesê.

September het gesê die komitee sal minister Blade Nzimande en visekanselier van Wits, prof. Adam Habib, skriftelik kontak sodat die saak dringend ondersoek kan word. “ʼn Verkragtingskultuur by universiteite moet dadelik hanteer en uitgeroei word. Ons universiteite kan nie ʼn sentrum vir vrouemishandeling wees nie.”

Patel het bevestig die universiteit se geslagsgelykheidkantoor ondersoek die saak kragtens die universiteit se Beleid oor Seksuele Teistering en Verkragting, maar die klaagster moet egter self die saak by die polisie aanmeld. Wits kan haar slegs van raad bedien, maar kan haar nie dwing om die saak aanhangig te maak nie.

“Die universiteit het vir die afgelope paar weke met die klaagster saamgewerk en die aard van dié gesprekke is vertroulik. Ons maan almal om die vertroulikheid en integriteit van die klaagster te respekteer. Sy is ons eerste prioriteit,” het Patel bygevoeg.

Sy het gesê die universiteit maan slagoffers om klagtes aan te meld om die instansie te help om sy zerotoleransie-benadering tot seksuele geweld en teistering te bevorder.

Lede van die raadgewende komitee oor seksuele teistering sal Vrydag met die huiskomitee van Wits Junction vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jan ·

Julius, EFF, waar is julle nou? Kom reël landswyd optogte, betogings teen die verkragting van vrouens, stap in die strate, klim op ‘n tafel met ‘n megafoon in jou hand, doen dit met dieselfde intensiteit wat julle Rassisties vir wit mense skree en betoog.

Daag op in jul massas.

Mmusie, gebruik die internet tegnologie, skryf op jou facebook hoe jy hierdie dade teen vrouens veroordeel, stuur tweets uit, dat dit weerklank tot in die buitenste ruimte vind.

Waarom is julle so stil?

Waarom?

Sarel Strydom ·

Tipies SA. Geweld teen vrouens en kinders word nie ernstig opgeneem nie.

Verstaan nie ·

Beide geslagte in een koshuis? Ek verstaan nie. Lees ek verkeerd? My ma het gesê: “Dis mos om die kat op die spek vas te maak, wat anders kan jy verwag.”
Veral in SA moet die vroulike geslag maar versigtig wees.
Ek wil nóg iets sê maar sal my weerhou anders sal hierdie kommentaar sneuwel want ek is nie #@/&#@.

Anoniem ·

Enigeen kan ‘n klag lê. Nie net slagoffers nie. Hoe anders word moorde ondersoek?

Ja-nee ·

Liewe “verstaan nie” , dis presies wat dit is….nou die dag dieselfde ding gewees in die koerant toe aangekondig is dat ‘n koshuis op Stellenbosch ook oopgesel gaan wees vir beide geslagte en mansbesoekers mag oorbly sodat studente “hul seksualiteit in ‘n veilige omgewing kan uitleef.” Daar het jy nou ‘n veilige omgewing hoor…in my dae op universiteit was daar huisvergaderigs oor die beskikbaarstelling van kondome in die koshuis….en nou kry mens al gemengde koshuise. Selfs studente wat dalk meer konserwatief is se lewens en privaatheid word so in gevaar gestel…nie te praat van n kamermaat wat hul kussing oor hul kop moet trek in die mag om nie als te aanskou nie.

Cacophony ·

Dis nie die oop koshuis wat die probleem is nie dis die slapgat mansmens wat nie sy jy weet wat in toom kan hou nie. Asseblief hou op om na die “#$%@” te verwys as ‘n man. ‘n Regte man sal weet al loop sy kaal verby jou sy vra nie daarvoor nie. ‘n Regte man het nie nodig om ‘n vrou te dwing nie. Slapgat

Ja-nee ·

Natuurlik het geen man die reg om homself op iemand af te dwing nie…wat ek probeer se ivm oop koshuise…is dat dit nou moeiliker gaan word om ongewenste elemente uit te hou. In n koshuis wat bv slegs vir dames oop is…sal die beweging van enige man binne die koshuis bevraagteken word…terwyl in n gemengde koshuis…mans kan kom en gaa wanneer hul wil en so ook ongure karakters.

John ·

Polisie en sekuriteit moet weg waar studente buite beheer op die kampus en buite, wild raak en nagwake hou. Wat is waarheid en wat verdigsel? Groot geld wil nou van die universiteit ge-eis word vir…? Sodra die regte suur word, moet iemand pa staan… en die gereg die vuilwerk doen…

CHRISTA ·

Daar is nie net ‘n verkragtingskultuur by universiteite nie, dis ons LAND SE KULTUUR volgens daaglikse berigte!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.