WK meld 50 000 noodgevalle oor Desember aan

(Argieffoto)

Sedert die begin van Desember is 43 600 medies verwante voorvalle, 11 453 traumagevalle en 1 073 padongelukke in die Wes-Kaap aangemeld, het die Wes-Kaapse nooddienste Maandag in ʼn verklaring gesê.

Provinsiale nooddienste het boonop net die afgelope naweek op meer as 5 000 noodgevalle gereageer, waarvan amper die helfte (44%) in die Kaapse Metro plaasgevind het. Dit is wel 1 243 voorvalle minder as die getal voorvalle wat tydens die Kersnaweek in die provinsie aangemeld is.

Die soort voorvalle wat die meeste aangemeld is, was borspyne wat nie met hartkwale verband hou nie (833), aanranding met ʼn wapen (771), asemhalingsprobleme (453), fisieke aanranding (331) en voorvalle wat verband hou met bevallings- of ginekologiese komplikasies.

Die hospitale waar die meeste pasiënte opgeneem is, was Tygerberg-hospitaal (204), Worcester-hospitaal (149), Vredenburg-hospitaal (105), Groote Schuur-hospitaal (103) en Swartland-hospitaal (103).

10 verdrink dié somer al in Kaapstad

(Foto: NSRI)

Die Stad Kaapstad se lewensredders moes ook sedert die begin van die swemseisoen bontstaan om vakansiegangers uit die see en ander swemplekke te red.

Sedert September het 10 mense op strande in dié stad verdrink. “Op Nuwejaarsdag het ʼn 10-jarige by die Strand verdrink en ure later het golwe ʼn 30-jarige man van die rotse by Graaff se Poel in Seepunt afgeslaan. Talle voorvalle van amper-verdrinkings is ook aangemeld,” het die stad Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Ons wil graag hê dat ons feesgangers ʼn goeie blaaskans op ons strande geniet, so hierdie gebeure het beslis ʼn demper op die feestyd geplaas,” het Patricia van der Ross, die stad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, Maandag gesê.

Talle kinders is wel weer sedert Desember met ouers herenig, danksy die stad se Indentikidz-projek wat op Kaapse strande toegepas word. Dit behels dat kinders wat enige strand betree, armbande kry met hul eie besonderhede en dié van hul ouers daarop. Die projek is in 2018 reeds van stapel gestuur. “Sedert die projek in middel Desember verlede jaar afgeskop het, is 183 kinders suksesvol met hul ouers herenig. Oor Nuwejaar is 38 verdwaalde kinders suksesvol aan hul ouers terugbesorg,” lui die stad se verklaring. Tien hiervan was by Strandfontein en vyf by Kampsbaai.

Voorkom verdrinking só

ER24 het ʼn lys wenke saamgestel om te verhoed dat strandgangers verdrink:

  • Swem wanneer daar lewensredders aan diens is, gewoonlik tussen 10:00 en 18:00.
  • Moenie buite die aangewese swemgebied – tussen die vlaggies – swem nie.
  • Wees op die uitkyk vir branderplankryers.
  • Moet nooit kinders sonder toesig naby water los nie.
  • Bly binne ʼn armlengte van jou kind af om hom of haar te help indien hulle onder die water verdwyn, veral indien die water troebel is.
  • Moet nooit alleen swem nie.
  • Moenie alkohol op die strand drink nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Sal graag wil sien hoe die syfers met KZN vergelyk. Ons was oor nuwe jaar in Ballito en was absolute chaos gewees en ons liefs die strand vermy. Ook as mens sien wat het in Richardsbaai gebeur, kan mens maar net dink hoe chaoties het dit gegaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.