WK moet glo maand wag vir nóg entstowwe

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Wes-Kaap gaan glo eers sy volgende besending van die Covid-19-entstof ontvang op die dag dat fase 2 van die regering se entstofplan afskop.

Volgens die DA sou die provinsie na verwagting reeds middel April nog dosisse ontvang het. Daar is egter nou aan die provinsie gemeld dat die volgende dosisse eers op 17 Mei – die dag waarop fase 2 van die entstofplan afskop – in ontvangs geneem kan word.

“Ons moet in gedagte hou dat die nasionale regering verantwoordelik is vir die verspreiding van entstowwe na provinsies en dat provinsiale gesondheidsdepartemente slegs kan verseker dat die toedien van entstowwe plaasvind sodra die entstowwe ontvang word,” sê die DA se provinsiale woordvoerder oor gesondheid, Wendy Philander.

Volgens Philander is dit “teleurstellend” dat die provinsie nog nie die beloofde hoeveelheid dosisse van die entstof ontvang het om te verseker dat alle gesondheidswerkers in die provinsie ingeënt kan word nie.

Die provinsiale departement van gesondheid het aangedui dat hulle 30 000 inentings per dag sal kan toedien, wat strook met die teikens wat die nasionale regering gestel het om kudde-immuniteit te bereik. Die provinsiale departement het ook reeds R980 000 bestee aan die opleiding van personeel wat dosisse toedien. Sonder die beloofde dosisse kan hulle egter nie hierdie teiken bereik nie.

Die DA sê hy gaan nou ʼn debat in die Wes-Kaapse provinsiale parlement voer oor die uitdagings wat tydens die instelling van die Sisonke-studie onder gesondheidswerkers opgeduik het. Dit het ten doel om bestaande uitdagings en foute vorentoe doeltreffend die hoof te kan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Ons is nie gewoond daaraan dat die wes kaap se regering hulle laat boelie deur onbevoegdes nie. Kry julle eie entstof en bly die leiers ook op die gebied in ons land. “ Ons sal self”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.