WK-regering nét so laks met stropers – aktiviste

SANParke slaan toe op ‘n stroperskamp naby Tafelberg. (Foto: Twitter/ SANParke)

Burgerlikes in die Wes-Kaap meen die DA moet eers voor sy eie deur vee, voor hy by die nasionale regering aandring op antwoorde oor die vlaag van perlemoenstropery.

Hulle stem wel saam dat die nasionale departement van omgewingsake, bosbou en visserye minder as niks doen om ʼn daadwerklike oplossing vir dié probleem te kry nie.

“Ons kan nie verstaan hoekom die DA nou ewe skielik aandring op ʼn aksieplan om perlemoenstropery te stop nie. Ons baklei al meer as tien jaar daarvoor, maar alle versoeke, ook aan die provinsiale (DA) regering in die Wes-Kaap, val op dowe ore,” sê Leo van Dyk, sekretaris van die drukgroep Gemeenskap teen Perlemoenstropery (CAAP).

Dit kom in reaksie op Andricus van der Westhuizen, DA‑LP, se opmerking oor ʼn brief wat die DA nou aan Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, gestuur het om strenger optrede teen perlemoenstropers te vra.

“Die regering, ook die Wes-Kaapse DA, het geen erns met die uitwissing van perlemoenstropery nie. Die Wes-Kaapse regering het byvoorbeeld geen voorsiening in sy nuwe begroting gemaak vir die bekamping van perlemoenstropery nie. Hulle kruip agter die verweer weg dat dit ʼn nasionale verantwoordelikheid is en dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die verantwoordelike party is. Intussen word miljoen rand se perlemoen maandeliks gestroop en voed dit ʼn netwerk van georganiseerde misdaad wat aksies soos prostitusie en dwelmhandel in die provinsie ondersteun,” sê Van Dyk.

Al wat Wayne Dyason, die Stad Kaapstad se woordvoerder vir wetstoepassing, verlede week aan Maroela Media oor die kwessie wou sê, is dat die metro se mariene wetstoepassingseenheid gereeld saam met rolspelers soos die polisie, SANParke en Creecy se departement werk om perlemoenstropery in die wiele te ry.

SANParke slaan toe op ‘n stroperskamp naby Tafelberg. (Foto: Twitter/ SANParke)

Van Dyk meen die politieke wil om die probleem kragdadig te bekamp, ontbreek, en sê dit is ander wetstoepassingsagentskappe, onder andere Overstrand-wetstoepassing en in ʼn mindere mate plaaslike SAPD-eenhede, wat probeer om dit te stuit. “Weens ’n ernstige gebrek aan infrastruktuur en hulpbronne, kan die SAPD dit nie behoorlik doen nie.”

Van Dyk sê tussen Julie en September 2021 is meer as R9 miljoen se gestroopte perlemoen, of 32 866 perlemoene, gekonfiskeer. “Dit kan na baie perlemoen klink, maar dit is maar die perlemoen waarvan ons weet. Daar kan met gemak aanvaar word dat die hoeveelheid wat deur die netwerke glip waarskynlik dubbeld soveel is.”

Volgens die CAAP se ramings is meer as 1 500 stropers aan die Overbergse kus aktief. Slegs 16 inhegtenisnemings is in hierdie tyd gemaak. “Vandeesmaand was daar weer sporadiese optrede en vyf stropers is aangekeer.”

Die DA-raadslid Beverly Schäfer het reeds in Augustus 2017 ’n lywige verslag namens die staande komitee oor ekonomiese aangeleenthede, toerisme en landbou aan die provinsiale wetgewer voorgelê nadat sy verskeie openbare verhore in die Wes-Kaap gehou het om die impak van perlemoenstroping op kleinskaalse vissersgemeenskappe te ondersoek. Die verslag is eenparig aanvaar.

Van Dyk het op Gansbaai ’n diepgaande voorlegging namens CAAP aangebied.

SANParke slaan toe op ‘n stroperskamp naby Tafelberg. (Foto: Twitter/ SANParke)

“Ons was baie opgewonde dat optrede gaan volg om stropery hok te slaan, maar weer eens is die verantwoordelikheid om die onwettigheid te stop tussen departemente en owerhede heen en weer verplaas en niks standhoudend het daarvan gekom nie. Ons vermoed dat korrupsie en geldwassery in die betrokke departemente van nasionale, provinsiale en munisipale owerhede ’n groot rol hierin speel,” sê Van Wyk.

Hy meen wel dit is uiters noodsaaklik dat Creecy deur middel van parlementêre vrae sê wie die kopers van die gekonfiskeerde perlemoen is, wat die kopers daarmee maak, wat die bedrag geld is wat die staat daarmee inwin, en hoeveel van daardie inkomste haar departement bestee aan wetstoepassing om die mariene hulpbronne te beskerm.

Van Dyk het ook na Operasie Phakisa verwys en gesê dit help nie om sporadies vir ʼn week of twee sigbare wetstoepassing uit te voer om stropers af te skrik nie.

“Vir die tydperk wat die operasies uitgevoer word, is daar gewoonlik nie ʼn stroper in sig nie. Hulle weet al vooraf wanneer die operasie gaan begin en waar dit beplan word. Die oomblik wanneer hulle uit die gebied onttrek, is stropers weer konings van die strande. Dan gaan hul intimidasie van inwoners voort en duik hulle sonder aansiens des persoons net waar en wanneer hulle wil. Die oormag is eenvoudig te groot vir die huidige handjie vol wetstoepassers.”

Hy meen ook voltydse optrede deur die nasionale regering, die weermag, polisie en die Valke moenie net op die blootlegging van stropersindikate fokus nie. “As hulle hul suksesse toeskryf aan die hoeveelhede gestroopte en ontskulpte perlemoen wat hulle konfiskeer, verstaan hulle nie die wese van die probleem nie. Dit is ’n ekologiese misdaad – daar moet gekeer word dat die perlemoen uit die see gehaal word – en dit kon hulle nog nie regkry nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Die aktiviste weet seker dat die polisie onder die nasionale regering val so om die DA te blameer is seker tipies aktiviste wat dikwels die verkeerde bus vat op pad na nerens

Harley Davidson ·

Ek stem nie saam perlemoen stropery is preoriteit no 1 selfs baie hoër as plaasmoorde en dwelmverwante misdade vir die polisie die afdeling het die beste toerusting en mannekrag vir obvios reasons natuurlik .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.