WK-speaker aanvaar skorsing; hou vol hy’s onskuldig

Masizole Mnqasela tydens Sondag se mediakonferensie. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse regering se speaker het sy skorsing van alle DA-aktiwiteite verwelkom en sê die ondersoek wat teen hom van stapel gestuur is, sal eindelik sy onskuld bewys.

Masizole Mnqasela het Sondag tydens ʼn mediakonferensie benadruk dat die bewerings dat hy bedrog en/of korrupsie gepleeg het wat eise vir verblyf-, reis- en onthaaltoelae betref, ongegrond is.

“Ek bly ʼn vermeende oortreder; so ek moet nie deur die hof van openbare mening verhoor word nie. Ek is nie ʼn krimineel nie. Ek is nie ʼn dief nie,” het hy gesê.

Volgens Mnqasela verwelkom hy die DA se besluit om hom net van party-aktiwiteite te skors, eerder as om hom geheel en al uit sy amp as provinsiale speaker te verwyder.

“My party het my in kennis gestel dat die skorsing nie my pligte en verantwoordelikhede as speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement sal beïnvloed nie. Ek waardeer dit dat hulle onderskeid kan tref tussen die party en die regering en die verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan,” het hy gesê.

“My bloed is blou, koningsblou.”

Jaco Londt, provinsiale voorsitter van die DA, het vroeër gesê dat Mnqasela se skorsing gegrond is op die bevindinge van ʼn ondersoekverslag deur die DA se federale regskommissie. Die ondersoek kom nadat verdoemende dokumente van fluitjieblasers ontvang is.

Dié dokumente is intussen aan die Valke oorhandig, maar Mnqasela beweer dat niemand van die Valke al met hom in verbinding hieroor was nie.

“Ek het nog altyd volgehou ek is onskuldig en ek sal voortgaan om dit te doen,” het Mnqasela verder gesê.

“Ek is oortuig daarvan dat ek op die ou end kwytgeskeld sal word.”

Mnqasela het tot op hede nog nie ʼn regsverteenwoordiger aangestel nie en ook nie kommentaar op die meriete van die saak gelewer nie.

Mnqasela beplan nie om die interne prosesse en besluite van die DA te bevraagteken nie, maar eerder gehoor te gee aan enige besluit wat oor sy toekoms in die party geneem word.

“Ek is dankbaar vir almal se ondersteuning en die bemoedigende boodskappe wat ek daagliks ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

Waar daar ‘n rokie is…. Dankie vir fluitjieblasers, mens kan niemand meer vertrou nie.

Bertie ·

Altyd onskuldig. Die tronk is vol onskuldige mense en al die skuldiges loop hier buite rond.

Misky ·

Natuurlik is hy onskuldig (lekker tong in die kies opmerking). Dit is mos altyd iemand anders se skuld.

Papsak ·

Ja altyd iemand anders se skuld maar nooit hulle skuld nie eerlijes moet toe gesluit sot oneerlikes loop vry rond daar buite

SjN ·

Kom ons wag maar vir die uitslag, papiere en bewyse lieg nie.

Lillian ·

Hoe weet ‘n mens as ‘n politikus lieg? Hy maak sy mond oop …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.