WNNR-verslag bevestig ontstaan van Knysna-brande

Dr. Wallace Vosloo staan in die omgewing waar die Elandskraal vuur begin het wat die grootste skade aan Knysna aangerig het tydens die Knysna brande. Foto: Reint Dykema.

Sterk bergwindtoestande tesame met baie droë plantegroei het waarskynlik veroorsaak dat ʼn smeulende vuur in die Elandskraal-streek noordwes van Knysna, wat vroeër deur ʼn weerligstraal veroorsaak is, opgevlam het.

Wat daarop gevolg het, was een van die ergste brandrampe in Suid-Afrika se geskiedenis.

Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se verslag wat Donderdag gepubliseer is, bevestig dr. David Klatzow se verslag wat hy in opdrag van AfriForum oor die ontstaan van die spesifieke brand gedoen het.

Maroela Media het ook op 9 Junie berig dat inwoners van die omgewing, Morné Jonker en dr. Wallace Vosloo, deurentyd voet by stuk gehou het die brand in Elandskraal is deur ʼn weerligstraal veroorsaak, wat die onderbos in die woud vroeër laat vlam vat het.

Volgens Vosloo en Jonker kan die onderbos in ʼn woud lank lê en smeul. Hierdie smeulende kompos kan die wortelstelsel van bome in kole omskep en ʼn sterk wind kan dit weer vinnig laat vlam vat. Die kole en vlamme kan ook deur ʼn wind geskep word en letterlik kilometers verder neerreën.

Die WNNR se verslag het ʼn wetenskaplike evaluering gebied van die mees waarskynlike volgorde van gebeure wat in Junie 2017 tot die Elandskraal-vuur in die Wes-Kaap gelei het.

knysna-brande-morne-jonker

Van die lugfoto’s wat Morné Jonker op 22 April geneem het. Foto: Morné Jonker/Facebook.

Hoewel daar twee verskillende brande – een in Elandskraal en in Kruisfontein – in die Knysna-gebied op 7 Junie begin het, het die WNNR-verslag slegs op die Elandskraal-brand gefokus omdat die oorsaak van die Kruisfontein-brand goed gedokumenteer is.

“Die oorsaak, ligging en tydsberekening van die ontsteking van die Elandskraal-brand was van die begin af ʼn omstrede saak aangesien beperkte data destyds beskikbaar was.

“Ruimteagentskappe soos die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie (Nasa) en kommersiële satellietbeeldverskaffers het, ingevolge die internasionale handves vir ruimte- en grootrampe, beeldmateriaal en satellietdata beskikbaar gestel en dit het ʼn goudmyn van inligting vir WNNR-navorsers gebied op grond waarvan hulle die waarskynlike reeks gebeurtenisse kon aflei.

“Die ontledings bied waardevolle insig in die toestande wat tot hierdie rampspoedige brande gelei het en kan ons help om risiko’s in die toekoms te verminder,” het Philip Frost, groepleier van die navorsingspan, gesê.

“Die WNNR het alle beskikbare data gebruik om beter te verstaan hoe, waar en wanneer hierdie vuur begin het en die verspreiding daarvan gedurende die eerste 45 minute ontleed. Dit sluit in die gebruik van beelde uit verskeie satelliet- en ʼn hommeltuig se beeldmateriaal, asook weerlig- en weerdata.”

WNNR-navorsers het die verslag saamgestel met behulp van die gevorderde brandinligtingstelsel, ʼn soort tegnologie wat die navorsingsraad die afgelope 13 jaar ontwikkel het om die voorspelling, opsporing en evaluering van veldbrande wêreldwyd te bevorder.

Frost het gesê dié tegnologie is van sleutelbelang in die brand- en rampbestuursektor en kan gebruik word om brandrisiko’s van die fynbosbiome te bereken en te karteer.

In die verslag word aanbeveel dat die risikobepalingsprosedures uitgebrei word na die fynbosbiome in geheel. Dit kan aangevul word deur data van die plantegroei wat as brandstof vir brande dien.

“So ʼn stelsel sal die owerheid en grondeienaars help om brandrisiko’s langs die streek te verstaan en brandrampe voortaan te vermy of te verminder.”

knysna-brande-dr-david-klatzow-afriforum

Dr. David Klatzow tydens die ondersoek van die Knysna-brande. Foto: AfriForum.

Reint Dykema, kennisbestuurder van AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie verwelkom die bevindinge in die WNNR se verslag wat oor die ontstaan van die Elandskraal-brand uitgereik is.

“Die verslag bevestig dat dr. Klatzow se verslag 100% akkuraat was met die bron, oorsaak en posisie van die Elandskraal-brand wat die groot oorsaak was van die vernietiging in 2017 by Knysna,” het hy gesê.

Plaaslike en internasionale kundiges het ʼn portuuroorsig van die WNNR se verslag gedoen. Die verslag is ook aan brandweerbestuurders, belanghebbendes soos die Suid-Kaapse brandbeskermingsvereniging, die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursentrum en Knysna-munisipaliteit voorgelê en is nou beskikbaar vir die publiek om te lees.

  • Die volledige verslag kan op die WNNR se webwerf gelees word.
  • Dr. Wallace Vosloo het met Reint Dykema gesels oor die ontstaan van die Knysna-brande ‘n jaar nadat die brande verwoesting in die omgewing gesaai het. Kyk die video hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CJ ·

Nou kan NASA nie ook hul oulike toerusting gebruik om die wye wêreld te wys hoe landbougrond wat voorheen soveel opbrengs gelewer het, absoluut tot zero opbrengs verval het sedert ons mede- broeders en susters dit begin “bewerk” het nie. Begin sommer by die Zebedela-landgoed naby Potgietersrus.

Luister ·

Weereens ‘n geval waar mense wat dink dat hulle slim is; nie na kenners wou luister nie. Die verlies van menselewens, en die brandskade, kon voorkom gewees het.
“A stich in time saves nine”.

Johanna Botha ·

Die verslag verskil van die eerste verslag …so wie is reg wonder ek ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.