Woede, hartseer oor gestroopte leeus kring uit

Die stropers is onderbreek voor hulle meer as een van die vyf leeus se pote en gesig vir muti kon afskny. Foto: Facebook

Die eienaar van ʼn roofdierpark in Noordwes waar vyf leeus gestroop is, sê dis verblydend dat hul Facebook-inskrywing oor die tragiese voorval wyd versprei is en dat derduisende mense daarop gereageer het.

“Ons kry oproepe van steun uit alle uithoeke van die wêreld,” het ʼn ontstelde Nazeer Cajee, eienaar van die Akwaaba-roofdierpark by Rustenburg, Woensdagoggend aan Maroela Media gesê. “Ons het ook inligting begin ontvang wat ons dalk kan help om die stropers aan te keer.”

Cajee, wat op Rustenburg woon, vertel van sy werknemers het hom Maandagoggend 01:00 park toe ontbied nadat drie leeumannetjies en twee -wyfies gestroop is. ʼn Veiligheidswag op nagpatrollie het op die tragiese toneel afgekom.

Al vyf die leeus is vergiftig. Blykbaar is die stropers se misdaadpoging onderbreek, maar die een mannetjie, Mufasa, se pote en gesig is toe reeds afgesny, vermoedelik vir moetie.

Cajee vertel dis die tweede stropery wat hy beleef. In 2014, toe hy eienaar was van die Aloe Ridge-wildplaas naby Swartruggens, ook in Noordwes, het stropers ʼn vergiftigde hoenderkarkas oor die heining gegooi en twee mannetjies vergiftig. Hulle het weggekom met die leeus se koppe en agterpote.

“Ek is verpletter,” het Cajee Woensdag hartseer vertel. “Ek het die leeus [wat ons verloor het] geken vandat hulle klein welpies was.”

Andries Hendrik Potgieter, van die Afrikaanse musiekgroep DZL, sê hy en sy sangmaat, Wiaan Fourie, het sowat twee jaar gelede met Akwaaba begin saamwerk om Afrikaanse mense te leer wat die verskil is tussen omgee vir die natuur en onetiese jagpraktyke.

“Nadat Akwaaba die diere verloor het,” het hy Woensdag vertel, “het hulle ons eerste gebel en gevra ons moet hulle help om die beloning bekend te maak omdat ons ʼn groter platform [op sosiale media] het om mense te bereik.”

Hy praat met groot lof van Akwaaba se bewaringspogings. “Dis ʼn park wat ʼn mens maar kan dophou, want hulle diere wissel nie en hulle laat nie gemors soos geblikte jagtogte toe nie. Hulle sorg ordentlik vir hul diere.”

Andries Hendrik Potgieter van die groep DZL sê hy en sy sangmaat, Wiaan Fourie, is al twee jaar betrokke by Akwaaba om veral Afrikaanse mense meer omgewingsbewus te help maak. Foto: Facebook.

Potgieter sê dit is hartverskeurend om te dink dat die groot mannetjie Mufasa as welpie vir rehabilitasie na Akwaaba gebring is en daar grootgemaak is, maar nou vergiftig en net so gelaat is. “Met hoeveel liefde hulle vir hom gesorg het, wys net wat ʼn ongelooflike mens Nazz [Cajee] is. Dis moeilik om te verduidelik hoe erg dit is om diere in so ʼn toestand te sien.”

Potgieter vertel hy en Fourie neem naweke mense na die park om hulle te wys hoe die diere versorg word en om veral jong mense op te lei en te inspireer om vir die natuur te sorg. “Dis ons erfenis wat die Here ons gegee het om te bewaar.”

Volgens hom moet die jeug bewus gemaak word van die potensiaal wat natuurbewaring het om werk te skep. “Ons moet hulle wys watter waarde diere het en dit ook duidelik maak hoe onaanvaarbaar dit is om diere te stroop.”

Dis vir hom verblydend dat “Afrikaners kan saamstaan wanneer dit saak maak”, sê hy oor die meer as 2 000 mense se reaksie op hul Facebook-inskrywing oor die verlies van die leeus – waarvan “99%” in Afrikaans is.

Die boodskap teen stropery en die onwettige handel in diere word volgens hom nou wêreldwyd uitgedra deur sosiale media en talle radiostasies wat oor die voorval berig het.

Akwaaba bied ʼn beloning van R100 000 aan vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die stropers. Die nommer om te skakel is 071 731 7103.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

honourable member ·

Dis baie hartseer en onnodig. Dis so jammer dat hierdie pragtige diere so afgemaai word deur mense wat geen respek het vir ons mooi natuur nie.

barend ·

nou moet ons ook optogte hou en vir die mense wys hoe kwaad ons is ,rape moord en diere
mishandeling

Gizelle ·

Ai tog, so hartseer om sulke pragtige diere vernietig te sien…

In hierdie HELHOOL word niks ontsien, nie mens of dier – als bly alewig in die slag. Ek is siek en sat daarvoor! Tog wil ek vir almal betrokke by die bewaring van ons fauna dankie se ten spyte van die verliese, jul werk op hierdie gebied gaan NIE ongesien en ons as publiek staan bankvas agter jul – saam sal ons hierdie nonsense stopsit!

Penellope Jones ·

My hart huil oor die onlogiese, onmenslike drang na brutaliteit.

Nellia ·

So sal ons Liewe Here, ons Vader ook vir die mensdom kom vra…waar is Sy diere.
Wat is met hulle gemaak- en so sal daar ook rekenskap voor gegee moet word.

Christelle ·

My hart huil saam met die eienaar(s)??
Daar moet Indringend aksie geneem word teen die brutale uitroei van ons Awesome Diereryk in SA!! Geen mens wat diere mishandel ens verdien kwaliteit lewe nie??

nadia ·

Age nee man!!! Ek is jammer oor die 4 been kids wat julle verloro het, onthou GOd slaap nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.