Woede, kommer ná pendelaars treindrywer byna stenig

(Foto: Untu)

“Ek is ʼn ma van drie kinders. Vroeër was ek mal oor my werk. Nóú het dit so gevaarlik geword dat ek nie weet of ek lewend by die huis gaan kom om my kinders weer te sien nie.”

Só het ʼn erg getraumatiseerde Nonhlanhla Dlamini (38), ʼn treindrywer, gesê nadat ʼn skare pendelaars haar Dinsdagoggend in ʼn treinkajuit vasgekeer en met klippe probeer doodgooi het.

Steve Harris, algemene sekretaris van die vervoervakbond Untu, het gesê Dlamini was van Durban na Stanger op pad toe pendelaars daarop aandring dat sy summier stilhou.

“Ek het geweier om dit te doen omdat dit nie toelaatbaar is nie en ʼn groot gevaar sou inhou vir die pendelaars én die trein se bemanning.

“Ek het by Briardene stilgehou waar ek veronderstel was om te stop. Die pendelaars was woedend. Hulle het die kajuit omsingel en my probeer stenig. Ek het in die kajuit probeer skuil,” het Dlamini vertel.

Volgens die vakbond het die pendelaars gedreig om Dlamini te vermoor, sou hulle haar in die hande kry. Sy is verskeie kere met klippe teen die kop getref en het erg gebloei.

“Dit was erg. Baie, baie erg.”

Dlamini moes meer as ʼn uur lank wag vir hulp om op te daag en dit is boonop nie die eerste keer dat sy die slagoffer van pendelaars se aggressie is nie. “Vir my en ander Prasa-werkers het aanranding ʼn alledaagse verskynsel geword.”

Tydens haar gesprek met Harris het Dlamini in trane uitgebars. Untu sê daar kan van geen werker verwag word om onder dié omstandighede te werk nie – selfs nie al verskaf Prasa ʼn diens van nasionale belang nie.

“Werkers is Prasa se kosbaarste bate en sonder hulle sal hy geen diens kan verskaf nie. Alle mense is geregtig op ʼn veilige en gesonde werksomgewing,” het Harris gesê.

Volgens Untu ignoreer Prasa wetgewing, terwyl die departemente van gesondheid, arbeid en vervoer, die polisie, die spoorwegveiligheidsreguleerder en selfs die regbank hom blind hou daarvoor.

Untu sê regter Cardim Sardiwalla het in 2018 al beveel dat Prasa moet voldoen aan veiligheidsbepalings. Hy het ook die belang van Prasa se verpligting – om ʼn veilige en betroubare diens te verskaf vir sy werkers en pendelaars – benadruk.

Die vakbond sê die reguleerder het Prasa se bedryfsveiligheidspermit op 31 Januarie boonop vir nóg drie maande verleng, ten spyte van voortslepende probleme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Magda ·

Welkom in n TERRORISTE / KOMMUNISTE SUID AFRIKA. Bly jy is veilig.

Luister ·

Omdat sy nie soos a taxi wou stop toe hulle vir haar sê om te stop nie.

Leon ·

Omdat hulle soos met taxis net wil opklim en afklim waar hulle wil. Hulle wil nie by stasies op en af klim nie maar sommer langs die pad. Welkom in ‘n vierde wêreld land. Ons is terug by 12 000 VC.

katerinadiekat ·

Arme vrou, wat net n eerlike dag se werk wil doen. Ek kry haar jammer.

Strandloper ·

Tino….die vraag vra elke regsdenkende mens hom elke dag af….miskien is dit omdat hulle kan? Nugter weet wat is die doel?

Santjie ·

En heel moontlik het daai klomp, of van hulle, nie eers betaal vir hul rit nie.

Stefan ·

Ek kry haar baie jammer.
Maar geweld is mos deesdae maar die normale ding, geweld by stakings, optogte, parlement, als kan.
As jy ontevrede is oor iets dan raak jy geweldadig en als is opgelos.

Dries ·

Liewe genade! Waarom trend hierdie poging tot moord nie meer op twitter nie? Maar nee! Daar word liewer geween en gekerm oor De Klerk iets ‘gese’ het.

Cherokee ·

Nou moet ek inteken net om jou ‘n duim-af te kan gee! Ek hoop jy’s trots op my moeite, Dries.

Amatambo ·

Welkom in die ‘WONDERLIKE NUWE S.A.” waar almal nou geluk is – of is hulle? “All animals are equal,. but some animals are more equal than others… Kry gerus die klassieke boek,ANIMAL FARM deur George Orwell en lees dit – maar hy moes seker ‘n voorbode gehad het van hoe die “NUWE S.A> daar sou uitsien….

BoerSonderRoer ·

Eers moet jy die trein vuur dig maak, nou moet jy hom klip dig maak.

Wie doen dit aan ‘n vrou?

Hoekom kry hierdie mense nie ‘n naam nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.