Woede, kommer oor Landbank wat glo plase opeis

Daar is onder meer met ‘n helikopter op Carel van der Merwe se plaas opgedaag. (Foto: Verskaf)

Die Landbank sê hy “ondersoek bewerings” dat boelietaktiek gebruik word om boere wat finansieel in die moeilikheid beland het, van hul plase te verwilder.

ʼn Herrie woed nadat ʼn veiligheidsmaatskappy verlede week ʼn verkeerde plaas betree het om dit te beveilig nadat daar glo op die eiendom beslag gelê is. Die wagte moes glo eintlik op ʼn plaas van Carel van der Merwe, ʼn boer van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, gewees het.

Van der Merwe het verlede week op Facebook geskryf voormalige lede van 32 Bataljon het die plaas beset as deel van ʼn “intimidasiestrategie wat deur Landbank gedryf word” en ʼn storm het losgebars oor die manier waarop die Landbank klaarblyklik op beleërde boere toeslaan.

‘Verskroeide aarde’

Van der Merwe het Maandag gesê die optrede op sy plaas was ʼn magsvertoon en ʼn poging om sy kontantvloei af te sny sodat hy nie die saak in die hof verder kan voer nie. “Hulle wil my beveg met my eie boerdery se geld,” sê hy.

Volgens Van der Merwe is ʼn voorlopige likwidasiebevel vroeër in die hof teen sy onderneming toegestaan. Hy het daarna aansoek gedoen om sakeredding en sê die likwidasie moes gevolglik opgeskort word. Nietemin is daar op sy plaas toegeslaan en op sommige van sy bates beslag gelê.

Helikopters en hommeltuie het op sy plaas neergedaal, sy skape is verwilder en talle van sy lammers het weens die optrede gevrek.

Van der Merwe sê hy skuld sowat R70 miljoen aan die Landbank, maar sy bates beloop naastenby drie keer soveel. Ná ʼn sewe jaar lange droogte het hulle die afgelope ruk uitstekende reënval gehad en sy sakereddingsaansoek stippel ʼn plan uit om die boerdery binne twee jaar om te keer.

Die Landbank probeer egter die grond likied maak, sodat hy die bank sy eie skuld kan betaal, sê Van der Merwe. Hy hou ook vol dat daar nie ʼn bevel was om die beslagleggings te doen nie.

“Dít is net die punt van die ysberg. Onder die dekmantel kan hulle ʼn verskroeide-aarde-beleid toepas en niemand besef dit nie,” sê Van der Merwe.

“Hier het ʼn fout of twee gekom deur die verkeerde plaas wat beset is en dít is hoekom alles nou op die lappe gekom het.”

Van der Merwe, wat op sowat 80 000 ha boer, sê die rede hoekom die Landbank en sy agente so ʼn “aggressiewe veldtog teen boere voer”, is om self geld in die hande te kry.

Een van die wagte wat gebruik word om die plase wat in gedinge met die Landbank betrokke is, te beveilig. (Foto: Carel van die Merwe)

Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sê boere in talle dele van die land het die afgelope paar jaar die ergste droogte in menseheugenis agter die rug. Sommige gebiede is daarna geteister deur brande, toe ʼn sprinkaanplaag en daarna oorstromings.

ʼn Magdom natuurrampe – waaroor boere geen beheer het nie – het boere getref en dit het ʼn enorme uitwerking gehad op hul vermoë om lenings terug te betaal.

“Daar het nou vir die eerste keer in jare goeie reën geval. Boere het weiding en kan weer hul kuddes begin opbou – hulle moet nou die geleentheid gegun word om dit te doen,” sê Aucamp.

Hy sê om nou voor die voet boerderye te likwideer of plase te verkoop, is onwys. Daar is groot werkloosheid in veral die Noord-Kaap en Suid-Afrika loop die gevaar van voedseltekorte.

“Die optrede om boere van hul grond te verwyder, hetsy deur likwidasie of die verkoop van ʼn plaas op veiling, is die verkeerdste ding wat nou kan gebeur.

“Gaan praat met die boere; kry ʼn werkbare oplossing sodat hy kan boer sonder ʼn swaard oor die kop en nie vrees dat die Landbank of ʼn prokureur enige tyd kan opdaag om sy grond te vat nie,” sê Aucamp.

Aucamp sê boere moet in hierdie tyd eerder bygestaan word. “Die boer verskaf werk, voedselsekerheid. Hy moet in ʼn posisie geplaas word om sy lening terug te betaal.”

Rebecca Phalatse, woordvoerder van Landbank, het Maandagoggend net gesê ʼn deeglike ondersoek na die bewerings word gedoen en wanneer dit afgehandel is, sal die instelling in ʼn posisie wees om meer omvattend kommentaar te lewer. Sy wou geen verdere kommentaar op die bewerings van boelietaktiek en intimidasie lewer nie.

‘Intimidasie’ gaan niemand help

Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor finansies, het die bewerings van intimidasie as kommerwekkend en onaanvaarbaar bestempel. Hy sê Landbank is in die eerste plek geskep om boere op die been te help én in moeilike tye soos tydens droogtes te ondersteun om by te dra tot voedselsekerheid in die land.

“Die teenoorgestelde is nou klaarblyklik aan die orde van die dag waar eerder van buitensporige intimidasietaktiek gebruik gemaak word om boere van hul plase te verdryf.”

Wessels sê die bank se invorderaar maak gebruik van “brutale en onreëlmatige metodes” wat nie tot voordeel van die bank is nie.

Hy sê handelsbanke is boonop skugter om boere te help en dat dit hulle selfs meer aangewese op die Landbank – wat self ernstige finansiële probleme ondervind – maak. “Dit was grootliks ook sy eie maaksel deurdat skuld aan opkomende boere toegestaan is wat dit nooit sou kon terugbetaal nie. Die bank het tóé reeds sy rentekoerse ingrypend verhoog en groot druk op bestaande kommersiële boere geplaas om hul lenings ten volle terug te betaal.”

Wessels sê dit het reeds in sommige dele van die Karoo gereën. Daar kan weer winsgewend geboer en lenings afbetaal word. “Dit is nie in belang van die landbousektor as geheel, voedselsekerheid en die voortbestaan van die Landbank om voortydig op te tree nie.

“Die geld wat die Landbank gebruik om boere van hul plase te laat verwyder en besittings te berg, kan eerder sinvol aangewend word om boere te help om weer op die been te kom. Dit sou ʼn sinvolle langtermyn-oplossing wees. Waar ʼn boer nou van sy plaas verwyder word, sal daar in die huidige ekonomiese klimaat en met dieselfde klimaatsprobleme veel moeiliker weer ʼn winsgewende, kommersiële benutting van dieselfde grond kan wees. Niemand kan hieruit voordeel trek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie Biebouw

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar as my bates R210 mil beloop, en my skuld R70, milj, dan likwideer ek alles, betaal my skuld en gaan tree af met die res.
Om vandag in Suid-Afrika te wil boer in so ‘n toksiese klimaat is nie regtigwaar meer ‘opsie nie.
Die probleem is dat niémand daai tipe geld vir grond in Suid-Afrika wil betaal nie. Wie sal in elkgeval so dom wees , synde die ANC hard daaraan werk om onteiening wettig te laat verklaar.

domheks

Kan hulle nie iets beters doen om met iemand in verbinding te tree voordat beslaglegging gereel word?

Julia

Siek storie. Om n boer in SA te wees moet hel wees. Die mense wat die kos op almal se borde sit, is Gedurig onder aanslag. Hulle moet baklei teen plaasmoorde, die 24/7 geldige vrees vir plaas aanvalle, die natuur self, en nou praktyke soos hierdie van Landbank. My ewige respek en traan-in-die-oë dank aan julle almal. Absolute heroes.

Veronica

Dit is n skreinde skande!! Sies Landbank!!Ek sou my dood geskaam het as ek julle was!! n Boer is een van die dapperste spesies wat ek ken! Maar ja, maak die een ,aan die die hoof van alles, maak dalk plase bymekaar om uit te deel aan diegene wat hy/sy se guns wil wen? Ek vra net!

Henri

Ek verstaan nie heeltemal die hele storie nie. 32 Bataljon is in 1993 ontbind. Die oudlede moet dan almal oor 50 wees. En dis die jongstes.

Om bates van R210miljoen te besit en onder sakeredding te wees as jou skuld ‘n derde daarvan is, maak ook nie vir my heeltemal sin nie.

Maar nou-ja. Dis my opinie.