Woede ná beweerde aanranding in Maties-koshuis

(Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy ondersoek ʼn beweerde voorval waarin ʼn vrouestudent Saterdag in die vroeë oggendure glo deur ʼn manstudent in Ubuntu-huis, ʼn koshuis op die Tygerberg-kampus, aangerand is.

Die US het in ʼn verklaring gesê die betrokke student het reeds ʼn verklaring by die polisie afgelê en ontvang berading.

ʼn Foto van die vermeende slagoffer met ʼn toegeswelde oog is op sosiale media gedeel met ʼn boodskap wat lui dat ʼn mediese student die vrou aangerand het nadat sy hom gevra het om nie aan haar agterstewe te vat nie. “Dít is wat ek kry omdat ek ʼn man vra om mý liggaam en mý ruimte te respekteer,” lui die inskrywing.

Volgens die universiteit is die manstudent wat van die aanranding beskuldig word hangende die dissiplinêre ondersoek geskors. Die verhoor moet binne vyf dae ná die skorsing gehou word. Luidens die verklaring is hy nie meer in sy koshuis of op kampus nie. Verdere stappe sal volg na gelang van die uitkoms van die dissiplinêre prosedure.

“Ek is saam met die universiteit en die bestuur van Tygerberg diep bekommerd oor die voorval,” het dr. Choice Makhetha, senior direkteur van studentesake, gesê.

“Die Universiteit Stellenbosch duld geensins geslagsgebaseerde geweld nie en sal nie huiwer om op grond van ʼn deeglike ondersoek en dissiplinêre proses op te tree nie. Die instelling is daartoe verbind om ʼn omgewing te skep waar geen geslagsgebaseerde geweld voorkom nie en waar gelyke regte vir almal bevorder word.”

Prof. Nico Gey van Pittius, waarnemende dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het gesê die fakulteitsbestuur het waardering vir die pogings van studenteleiers en die Tygerbergkampus- en universiteitsgemeenskap om te verseker dat die voorval as ʼn saak van dringendheid opgevolg word.

“Ons deel die nood wat deur hierdie voorval veroorsaak word en doen ʼn beroep op die hele Tygerberg-gemeenskap om samewerkingspogings om geslagsgebaseerde geweld die hoof te bied steeds te verdiep,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefan ·

Maak nie saak watter ras nie, hy behoord pernanent geskors te word.
Stel jou voor so’n ou is eendag ‘n dokter!

Raakvatter ·

Mense, toe ek in die koshuis was, was hierdie goed nie geduld nie. Ek het gesien hoe klomp verskillende koshuise se mans ‘n mannetjie timmer wat sy vriendin voor almal geslaan het op Hatfield square. Haha, ek is seker daai man sal nooit weer so iets doen nie. My koshuis was spesifiek om dames te respekteer sodat almal ‘n man wil hê soos wat my koshuis uitgebeeld het.

JohanR ·

Dit gaan maar soe. As jy mooi gevra word om asseblief nie aan iemand te vat, of om haar spasie te respekteer nie, dan is die hel los. Onthou daai vliek “Enough” met Jennifer Lopez waar na sy deur haar man geklap is en aangerand is, het sy gaan leer om haarself te verdedig, en op die ou einde het die ou sleg tweede gekom.

Johannes Andries ·

Wat het geword van die reels en disipline dat meisies in die nagtelike ure toegelaat word in manskoshuise. Die universiteitbestuur moet aangespreek word. Daar is geen verskoning vir swak beheer en bestuur. Le klag teen die Lektor en Dekaan by die department van hoer opleiding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.