Woede ná Eldoraigne-hoof weer aangestel is

Anton Prinsloo, hoof van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion, is deur die departement van onderwys in Gauteng uit sy pos verwyder en by die distrikskantoor in Gauteng geplaas.

Ouers van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion is verslae nadat dr. Anton Prinsloo, teen wie verskeie klagtes van boeliegedrag aanhangig gemaak is, heraangestel is as hoof van dié skool . Die skool se beheerliggaam oorweeg nou regstappe teen die departement om dié besluit te laat hersien.

Kallie Kotzé, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het in ʼn brief aan die ouers bevestig die departement het Dinsdagoggend die skool oor dié besluit ingelig en gesê Prinsloo moet met onmiddellike inwerkingtreding as hoof van Hoërskool Eldoraigne terugkeer.

Volgens Kotzé is geen redes vir die besluit verskaf nie en het die beheerliggaam nou redes hiervoor aangevra.

Maroela Media het vroeër berig die departement het in Meimaand ʼn onafhanklike ondersoek gelas nadat bewerings van boeliegedrag en viktimisering teen Prinsloo aan die lig gekom het. Na afloop van ʼn ondersoek is aanbeveel dat Prinsloo as voorsorgmaatreël na die distrikskantoor oorgeplaas word terwyl die dissiplinêre prosesse afgehandel word.

Die adjunkhoof, Dave du Plessis, het tot op hede die leisels by Prinsloo oorgeneem.

ʼn Lid van die skoolgemeenskap het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê ouers, onderwysers en leerders is “verpletter” oor die departement se besluit om Prinsloo weer aan te stel.

Volgens Kotzé meen die beheerliggaam die departement se besluit om Prinsloo weer as skoolhoof aan te stel, is verkeerd en sonder behoorlike inagneming van al die klagtes wat teen Prinsloo ingedien is.

“Die beheerliggaam se aanbeveling is dat regstappe onmiddellik teen die departement ingestel word om die korrektheid van die besluit te toets,” het Kotzé gesê.

“Die beheerliggaam sal binne enkele dae ’n vergadering met alle ouers belê om die geleentheid te bespreek.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van onderwys gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Ek is nou al 8 jaar op pensioen en in die 37 jaar wat ek skoolgehou het,het ek meer as 25 gevalle van boeliery beleef. Dis moeilik om van die gemors ontslae te raak want hulle is gewoonlik in bevorderings poste en het gewoonlik maatjies op die regte plekke. Ek is net bly ek is nie meer in die onderwys nie. Ek baklei nou vir my kleinkinders.

marius

Die beheerliggaam buig die knieg voor die departement . Of hulle daarvan hou of nie .

Micheal

Die vertrouens verhouding is geskend mnr die Skool hoof doen die eerbare ding en stap weg, miskien net miskien behou jy effense self respek. Mense orals oor ken jou gesig en ek twyfel of hulle respek teenoor jou gaan betoon

skurweberg

Bring die “Keurraadkonsep” terug om hierdie ongelukkighede uit te skakel. Die aanstellings veral in bevorderingsposte MOET deur ‘n onafhanklike onderwyskundigeliggaam beheer te word. Laat die groslys eers deur laasgenoemde se hande gaan, voordat die Beheerliggame onderhoude voer. Hierdie beginsel MOET in alle aanstellings ook in regeringsposte gebruik word. Die Dept moet ophou om met ons kinders en land se toekoms te speel.

Walda

Skokkend, die kinders is inderdaad verpletter… Ek wil nie eers WEET hoe die onderwysers voel nie…. Iets onderduims is hier aan die gang en dit gaan die skool ongelooflik baie skade berokken.