Woede na minister nie Lily-myn memorandum ontvang

Joseph Mathunjwa, Amcu se leier, probeer Donderdagaand vir Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne skakel, maar sonder sukses. Foto: ANA

Joseph Mathunjwa, Amcu se leier, probeer Donderdagaand vir Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne skakel, maar sonder sukses. Foto: ANA

Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, het nie Donderdagaand by ʼn betoging in Pretoria opgedaag om ʼn memorandum van Amcu in verband met die ineenstorting van die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, te ontvang nie.

Nadat die groep betogers ure buite die departement se kantore gewag het, het ʼn woedende Joseph Mathunjwa, Amcu se leier, steeds geweier om die memorandum aan twee verteenwoordigers van die departement te oorhandig en gesê hulle sal die dokument terugneem Mpumalanga toe.

“Hierdie is nou net simpelgeit. Ons het julle gevra om vir ons selfs net ʼn adjunk-minister te bring wat beskikbaar is in Pretoria, maar julle het misluk. Dit is doodgewone politiek wat hier aan die gang is. As dit die NUM was, sou Zwane hom hierheen gehaas het om hul memorandum te ontvang,” het Mathunjwa aan die departement se verteenwoordigers gesê.

“Die werkers kan nou sien hoe dom die mense is wat ons lei. Waarmee die minister en sy adjunk ookal besig is, een van hulle moet aan diens wees om die saak, wat nou hier voor hul kantore afspeel, te hanteer. Wat hulle nou hier doen is dom. Dit is wat gebeur as jy gelei word deur Mosebenzi, wat nie die eerste ding van die mynbedryf verstaan nie.”

Mathunjwa het herhaaldelik vir Zwane op sy selfoon gebel, maar hy het nie die oproepe beantwoord nie. Teen 19:00 het Mathunjwa aan die groep betogers gesê om die aftog te blaas.

“Ons sal terug wees. Ons sal terugkom met nog meer busse en hulle sal vir ons luister,” het hy gesê. “Kom ons keer terug huis toe in vrede. Ons het probeer, maar ons kan nie ons memorandum sommer by enigiemand los nie. As dit is hoe die ANC sy kiesers behandel, is dit baie sleg.”

Amcu se memorandum handel onder meer oor die liggame van Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyerende, wat steeds nie onder puin en rotse uitgehaal is nadat ʼn gedeelte van die Lily-myn in Februarie ineengestort het nie.

Elmon Mnisi, Yvonne se pa, het Zwane daarvan beskuldig dat hy vir die oorledenes se families gelieg het. “Hy het in Februarie gekom en allerhande beloftes aan die families wat geraak is. Nou is ons hier om die minister te vra oor die geld en ondersteuning wat hy ons belowe het en nou kruip hy weg. Ek is baie teleurgesteld in minister Zwane,” het Mnisi gesê.

“Al die families wat deur hierdie saak geraak word, sukkel. Dit is nie vir ons maklik om net elke dag aan te gaan sonder enige afsluiting oor die saak nie.”

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Liewe ANC. Dit is jou gewete hier. Julle weet; die gedagtes en emosies wat mens ervaar wanneer iemand iets se of doen wat jou herrinner aan wat jou aandeel is in die situasie? Julle het my al LAAAANKAL weggesteek ondee eie gewin en leuns sonder ken; maar ekt plek gekry by due wat julle in die gesig gaan hap met reminders van wat julle wanneer vir wie belowe het. As julle gewete; skaam ek my zir af by ander gewetes…sies!

Griet ·

Wat het hy verwag van ‘n onbevoegde ANC minister? Koek en tee?

Snuffels ·

Ek is oortuig daarvan dat die mense weereens vir die ANC gestem het.

Wern ·

Nou waarom is julle gemeenskap n ANC sterkpunt? Hulle sal vir ewig nog wag vir alles, van werk tot dienste. As julle vir sulke gemors stem sal julle maar aanhou sukkel.

christine ·

Ek onthpu iets van te gevaarlik vir werkers om oorlede mynwerkers uit te bring. Hardkoppiges en grootbekkiges moet maar self gaan en nie op die kanlyn klippe gooi nie. Die ANC is net van beloftes so kry vir julle en kry weer vir julle na 2019 ook want julle gaan weer ANC stem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.