Woede ná rooibokke in Kruger doodgery word

Minstens drie rooibokke is doodgery. (Foto: Shaun Parsons/Facebook)

SANParke het weereens ʼn beroep op besoekers gedoen om by die wildtuin se reëls én spoedgrense te hou nadat drie rooibokke Donderdag vermoedelik deur ʼn motoris wat te vinnig gery het, doodgery is.

Die voorval het glo Donderdag naby die Tshokwane-piekniekplek gebeur.

Die voorval het ʼn hernieude herrie ontketen oor of daar genoeg gedoen word om motoriste – besoekers én wildtuinwerkers – vas te vat wanneer hulle nie by die spoedgrens hou nie.

Verlede maand is ʼn Switserse toeris in ʼn Johannesburgse hospitaal dood nadat hy ernstig beseer is toe ʼn kameelperd tydens ʼn botsing in die Krugerwildtuin op sy voertuig beland het. Tydens dié voorval het die kameelperd glo voor ʼn minibus met 13 dagbesoekers wat na Letaba op pad was, ingeloop.

Die minibus se bestuurder kon glo nie ʼn botsing met die dier vermy nie en die kameelperd het op ʼn gehuurde safarivoertuig te lande gekom.

Die kameelperd is op die toneel dood en die voorval het ʼn groot opslae gemaak.

SANParke het ná die jongste voorval gevra dat enigiemand met inligting daaroor na vore moet kom.

“Die grootte van die park maak dit moeilik vir wetstoepassers om oral te wees. Ons doen dus ʼn beroep op besoekers om waaksaam te wees, by die reëls te hou en diegene wat dit nié doen nie, te rapporteer.”

Voorvalle van diere wat in strikke gevang is, verdagte optrede, diegene wat reëls verontagsaam of enige ander voorval kan aangemeld word by die Krugerwildtuin se noodlyn by 013 735 4325/013 735 0197 of by 076 801 9679 (WhatsApp-boodskappe of oproepe).

SANParke vra dat dit so gou moontlik gedoen word, dat ʼn ligging (WhatsApp-ligging, GPS-koördinate, beskrywing of padnommer) ook ingesluit word. ʼn Foto van die voorval of dier kan ook na die selfoonnommer gestuur word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.