Woede ná stropers drie leeus wreed doodmaak

Van der Merwe by Duke, een van die gestroopte leeus.

“My belofte aan hulle was dat ek hulle sou beskerm. Ek het hulle in die steek gelaat.”

Só het ʼn emosionele Marilee van der Merwe, ʼn leeuteler van Louis Trichardt in Limpopo gesê, nadat stropers die afgelope naweek drie van haar leeus wreed doodgemaak het.

Van der Merwe het die leeuteelprogram ʼn paar jaar gelede met die hulp van haar man op die been gebring, onder meer om inteling onder leeus te probeer verhoed, asook om navorsing te doen.

Die leeumannetjie, Duke, asook die wyfies, Nooi en Lea, is vergiftig. Duke en Lea se koppe en pote is afgekap en hulle tande en naels is uitgetrek. Nooi was dragtig.

Die diere is Saterdagaand of Sondag in die vroeë oggendure vergiftig. Van der Merwe se man, Bennie, ʼn buffelteler, het Sondag op hulle oorskot afgekom toe hy die kampe gaan inspekteer het.

“Dit was grusaam. Brutaal.” Van der Merwe het gesê geen van die SMS’e wat gewoonlik uitgestuur word wanneer die alarm op die grensdraad geaktiveer word, het hulle daardie aand bereik nie. Op die oog af was alles rustig, maar ʼn seinblokkeerder is moontlik gebruik om die stelsel te omseil.

Sy het gesê hulle het geen koste ontsien om die leeus se veiligheid te probeer verseker nie. Daar is dubbele grensdrade – een daarvan 4 m hoog – en alles is aan ʼn alarmstelsel gekoppel. Die kampe is ook naby die N1-hoofweg.

“Ons het gedink dis die veiligste plek waar ons die diere onder ʼn wakende oog kan hou. Die leeukampe is nie eens 50 m van waar ons woon nie.”

Platgeslaan. Van der Merwe begrawe drie van haar geliefde leeus.

Van der Merwe het gesê hulle later op die kamerastelsel, omstreeks 03:00 Sondagoggend, flitsligte by die kamp gesien. Sommige van die drade is op verskeie plekke geknip, maar die drade van die kamp waar een van die wyfies uitgesleep is, is nie eens versteur nie.

“Dit moet ʼn kuns wees. Hoe doen hulle dit? Dis nie asof hulle inkom en ʼn groot gat sny nie.”

Van der Merwe het gesê die stropers het die leeus se koppe en pote ʼn ent weg van die karkasse, naby ʼn gronddam, gegooi. Hiér het talle voëls en visse reeds van die gif gevrek. “Tot die vlieë op die karkasse het gevrek.

“Hier is ʼn hele ekostelsel wat ons probeer red deur die gif te probeer neutraliseer. Ons het orals skoongemaak en die kampe gefynkam. Ons monitor die ander leeus 24 uur per dag.”

Van der Merwe het gesê sy wil ander boere wat dink hulle het die beste voorsorg getref, waarsku om steeds eerder oorversigtig te wees.

“Die mooiste skepping op aarde is ‘n leeu,” sê Van der Merwe. Hierdie is Duke, die leeumannetjie, voordat stropers hom vergiftig het.

“Dit is skokkend om op so iets af te kom. Ek het nie gedink dit gaan met ons gebeur nie, want ons het alles moontlik gedoen om dit te voorkom,” het sy gesê.

Sy vrees boonop dat die stropers wéér gaan toeslaan. “Ek het in ʼn stadium op leeuplase gewerk – tot my spyt – en my belofte daarna was om hulle nét te beskerm. ʼn Leeu is vir my ʼn sielsdier,” het Van der Merwe gesê. “Ek gaan nou selfs méér doen om hulle te beskerm.”

Van der Merwe het gesê verskeie polisie-eenhede was op die toneel om bewysstukke te versamel.

Kapt. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het Dinsdag gesê niemand is egter nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Zoutnet het in Julie vanjaar berig Popallin Ranch, ʼn bekende reservaat in die noorde van Limpopo, se laaste drie witleeus is vergiftig. Stropers het ook hulle koppe en pote afgesny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jan ·

Hoe ironies. In ‘n ander artikel is drie leeus met goedkeuring dood gemaak omdat hulle ‘n man gister dood gebyt het. Dit a.g.v. die naligheid van mense (die leeus kan nie aanspreeklik gehou word vir hulle instinkte nie, die mense moet die nodige voorsorgmaatreels tref! En aanspreeklik gehou word!)

Emma ·

Mense los ons diere om hemels naam net uit. Dit was deel van die aarde se skepping los hulle in vrede.

wet ·

Soos ek verstaan is die leeus doodgeskiet sodat paramedici by die persoon kon uitkom. Nie na die tyd omdat hulle ´n persoon verskeur het nie

shark ·

tragies, en ons moet tussen die soort “mense” lewe…hul sal sekerlik gestraf word.

Noordwes? ·

Hi Maroela /Chrsitel, hoekom sal die SAPS woordvoerder in NW weet of iemand aangekeer is, of is dit ‘n fout? Ek vermoed SAPS Limpopo ondersoek die saak.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Noordwes

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit is inderdaad SAPS Limpopo. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Veer ·

Ek verstaan nie die motivering agter hierdie tragedie nie, hoekom die diere vergiftig, hulle lywe vermink en dan tog net alles so agterlaat! Hoekom in die lewe doen ‘n mens so iets?!

Helizna ·

Die plaaslike sangoma moet hiervoor verantwoordelik gehou word. Die is muti-moord.

INA ·

Helizna, ek stem saam met jou… Die tande, naels, dolosse & ander klein beentjies word ook gebruik deur die “toordokters” vir dolosgooiery…

miekie ·

Mag die skermunkels gevan word en so dood sterf wat die arme diere moes deurmaak.
Eers die gif en toe ledemate afsny, Hoekom dit ook nog doen as die diere in elk geval gaan doodgaan van die gif, Mag die mense se naels uitgetrek word, dan hul tandde en dan vergiftig word

Ore ·

Hulle het nie eers gevoel vir medemense nie,hoe sal hulle nog iets voel vir diere? Hulle is maar net doodeenvoudig so gemaak om wreed te wees.Steek mense lewend aan die brand,brand weerlose oumense met strykysters,kookwater en so gaan dit aan maar as iemand dit aan hulle doen dn skop die “ag jammer ons leef” menseregte aktiviste in en vertel hoekom ons moet aanvaar en vergeet

Ekke ·

Hoe KAN hulle in die artikel noem dat daar nog leeus is op die plaas en dat hulle alles doen om hulle te beveilig!!!!!!

Joke! ·

Wel ses minder leeus op die planeet..Ek dink nie ons mensdom verdien sulke fantastiese diere nie..Hoeveel van ons en hoeveel van hulle!? Hoeveel van die planeet het ons mensdom al gevat vir ons self en hoeveel het ons aan die diere oorgelaat? Wat is die balans en hoe gaan dit vorentoe lyk? Ek sien sommiges se maak diere dood as hul ons mense doodmaak maar ek vind dit ironies dat ons hier geplaas is oor die diere maar nie om hul te martel en te misbruik nie maar ook om na hul om te sien!Die mensdom roof die planeet se hulpbronne en plunder die diere vir liggaamsdele op die wreedste maniere…Ek se weer as ek so na daai mannetjie leeu op die foto kyk en ek verwonder my aan hoe mooi die majestueuse skepping is maar terselfde tyd treur ek want ek weet ons die mensdom gun die diere van die planeet net mooi niks nie..Ons misbruik net en waardeer niks…
Wel laat hul dit dan nou maar klaar en uit die pad kry…Skiet tog die laaste leeus en swart renosters en olifante ens ok nou maar net eens en vir altyd uit en kry klaar daarmee.

MarieM ·

My vraag – die gif gaan mos in die tande en naels wat hulle gevat het ook wees? So hoekom dit vat, vir watter rede. Muti??? Arme diere.

Dolla ·

Hierdie berig is so hartseer hoe kan iemand wat homself ‘n mens noem dit aan onskuldige mooi diere doen? Hulle is beslis siek in hul kop en van die duiwel

Johan ·

Ek slaan my oë op na die berge, waarvandaan sal my hulp kom?

HetMari ·

Waars d mense nou, wat beskermde en goed versorgde diere uit “aanhouding” wil bevry.. pleks bepaal hul liewer hulself om wreedaards soos hierdie bose peste uit d samelewing te verwyder!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.