Woede ná Totalsports Etzebeth-kartonbeelde uit winkels gooi

Een van die gewraakte kartonbeelde van Eben Etzebeth wat Totalsports uit sy winkels verwyder het. (Foto: Facebook)

Talle verbruikers is erg onthuts ná die kleinhandelaar Totalsports besluit het om kartonafbeeldings van die Springbokslot Eben Etzebeth uit sy winkels te verwyder.

Die Menseregtekommissie (MRK), namens vier klaers, sleep Etzebeth voor die gelykheidshof oor sy beweerde gebruik van die h-woord.

“Die media-omstredenheid rondom Eben Etzebeth is in ons winkels gevoel. As ʼn handelsmerk doen ons nie omstredenheid nie, ons doen sport,” het Totalsports in ʼn kort verklaring gesê.

“Ons het besluit om sy plakkaat te verwyder. Sonder om kant te kies of oordeel te vel, wou ons verseker dat ál ons klante gemaklik in ons winkels voel,” het Totalsports sy besluit verduidelik.

Sosialemediagebruikers het teruggekap en talle het gesê Etzebeth is nog aan géén oortreding skuldig bevind nie.

Ander het onderneem om nie meer by die winkels te koop nie en sê daar moes gewag word vir die uitslag van die hofsaak. “Die beste optrede in dié geval sou geen optrede gewees het tot die sportman sy dag in die hof gehad het nie,” het een twiet gelui.

Ander het weer die spot gedryf met die besluit.

Daar was wél ook diegene wat die sportwinkel se besluit verdedig het. “Die skynheiligheid van wittes; as dit Eben Etzebeth is, moet Totalsports geboikot word omdat hy vir hulle onskuldig is tot hy skuldig bevind word, maar wanneer dit [oud-] pres. [Jacob] Zuma is, is hy skuldig selfs voor hy in die hof verskyn,” het nog iemand getwiet.

Etzebeth het reeds ʼn hersieningsaansoek by die hooggeregshof ingedien waarin hy vra dat die MRK se besluit om hom te laat vervolg, ter syde gestel word.

ʼn Herrie het losgebars ná ʼn bakleiery buite ʼn kroeg in Langebaan aan die Weskus, waar Etzebeth en/of vriende van hom glo rassisties opgetree het. Etzebeth is tans in Japan waar hy Saterdag in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Engeland gaan uitdraf.

Totalsports se besluit het groot kommentaar ontlok. (Twitter)

Die MRK se hantering van die saak het boonop groot kritiek ontlok. Die kommissie se omstrede hoof van regsdienste, adv. Buang Jones, het vroeër gesê Etzebeth het “met moord weggekom” en dat die MRK “ʼn voorbeeld van Etzebeth gaan maak”. Hy is heftig oor sy uitlatings gekritiseer en die MRK het sedertdien gesê hy gaan ʼn ondersoek doen na Jones se kommentaar.

Die burgerregtegroep AfriForum het Totalsports se besluit veroordeel en sê die winkelgroep laat hom by rassepolitiek insleep.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê Totalsports dui met dié besluit aan dat hy bereid is om deur ’n rasgedrewe politieke narratief meegesleur te word.

“Hoewel Etzebeth daarvan beskuldig word dat hy rassistiese opmerkings teenoor ’n bruin persoon gemaak het, word dié beskuldigings ook deur Etzebeth ontken. Die saak is nog nie aangehoor nie en geen uitspraak is nog oor die feite gelewer nie. Ten spyte daarvan kies die winkelgroep kant téén Etzebeth en word rassespanning onnodig hierdeur aangehits.

“Selfs al sê Totalsports dat hy nie kant in hierdie saak wil kies nie, is die uitwerking van hul optrede dat hulle reeds Etzebeth tot ’n omstrede figuur verklaar het,” het Roets gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

159 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arrie

Ek is seker die direkteure van hierdié groep sal iemand soos Malema met koek en tee bedien, as hy by hul winkels opdaag. Mag hul ook ten gronde gaan, as Eben se onskuld bewys word.

J

Totalsports is anyway n ripoff. Die regte replica jersey R2500 – waar ek dit koop teen R1275. Trailrunning Adidas, TS – R1299 , koop aan teen R695.

Santjie

Totalsports, ek verstaan nou nie – as julle nie kant kies nie, hoekom dan die afbeelding verwyder? Dan HET julle mos klaar kant gekies?

Ebenfan

Ek hou van Eben en glo hy is nie skuldig nie. Ek kan ook total sport se kant sien. Dis nie die eerste sport ster waarvan afstand geneem word deur n besigheid of brand nie. Dis ook nie die laaste nie. Hulle het hom nie name genoem of onskuldig nie- anders as ons sensasie-soekende media.

legens

as jy nie die reenboognasie ondersteun nie , en nie al sy mense om arm nie , behoort jy ook nie teen die reenboognasie se mure nie .