Woede oor ANC-vrywilliger se uitlating

'n Skermskoot wat glo van Smit se inskrywing geneem is

‘n Skermskoot wat glo van Smit se inskrywing geneem is

‘n Vrou wat glo aan die hoof gestaan het van die ANC se sosiale media-verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap, het ‘n herrie op sosiale media ontketen na sy glo anti-Semitiese uitsprake gemaak het.

Rene Smit, glo ‘n vrywilliger van de ANC, het na bewering die naweek ‘n foto van Adolf Hitler op haar Facebook-blad gelaai met die onderskrif: “Yes, man you were right. I could have killed all the Jews, but I left some of them to tell you why I was killing them.”

Smit het aan TimesLive gesê sy het die foto op Facebook gelaai in protes teen die geweld in Gasa. Smit het die foto later verwyder en gesê sy het besef dit is onvanpas en aanstootlik.

Cobus Grobler, woordvoerder van die ANC in die Wes-Kaap, het aan die koerant gesê dat Smit nie in diens van die ANC is nie en slegs tydens die verkiesing uitgehelp het.

“Die inskrywing is nie net anti-Semities en haatspraak nie, maar kan ook beskou word as aanhitsing tot geweld en is ‘n onsensitiewe belediging vir die slagoffers en oorlewendes van die Joodse volksmoord,” het Marius Redelinghuys, woordvoerder van die DA, intussen in ‘n verklaring gesê.

Die DA het die ANC versoek om hom van die inskrywing en Smit te distansieer en onvoorwaardelik om verskoning te vra vir die uitlating.

‘n Skermskoot wat na bewering geneem is nadat Smit die foto op Facebook geplaas het doen intussen die ronde op sosiale media te midde van skerp kritiek oor Smit se uitlatings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.