Woede oor begraafplaas lei tot betoging

Argieffoto

Woedende, betogende plaasbewoners en lede van die gemeenskap het Dinsdag die R74 tussen Kranskop en Greytown in KwaZulu-Natal versper met stompe, buitebande en gebreekte bottels en ook stukke veld in die landelike gebied aan die brand gesteek.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die betogers was woedend oor die sloping van ʼn plaaslike begraafplaas.

Die situasie in die omgewing is al sedert die naweek gespanne.

Betogers het ʼn plaaslike boer daarvan beskuldig dat hy nie respek het nie aangesien hy ʼn begraafplaas op sy plaas gesloop het wat deur die gemeenskap gebruik is.

Mbele het gesê die betoging het Dinsdag omstreeks 03:00 begin toe 300 betogers die pad versper het uit woede nadat die boer die begraafplaas op die plaas Aussicht gesloop het.

Volgens Mbele is die openbare orde- polisie, die inspektoraat vir padverkeer en die Greytown-polisie na die toneel ontbied. “Hulle hou die situasie dop en is besig om die pad weer oop te stel,” het Mbele gesê.

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Roelf Koningkramer, voorsitter van die Kranskop-boerevereniging, het aan African News Agency gesê dat die boere ook help om die pad weer oop te stel. Volgens Koningkramer is daar steeds betogers in die omgewing en die polisie onderhandel met hulle.

Koningkramer, wat sowat 10 km weg van die betogings boer, het gesê daar was Maandagaand brande op naburige plase en dat die boere gehelp het om die vlamme te blus. Volgens hom was daar skade aan eiendom, maar is dit nog onduidelik wat die omvang daarvan is.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn betoger tydens ʼn gewelddadige protesaksie in Colenso, nie ver van waar die protesaksie vanoggend plaasgevind het nie, deur polisiebeamptes doodgeskiet is. Volgens Mbele het dié voorval Sondagaand laat plaasgevind toe inwoners die R74 tussen Colenso en Weenen met klippe versper het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

Sjoe, mag enige iemand so iets doen? Dit klink vir my darem baie ongevoelig. ‘n Begraafplaas is – al is dit op privaat eiendom – darem mos …. soort van ….. heilige grond en moet gerespekteer word. Dit is … was … ménse wat daar hul laaste rusplek gevind het.

Netso ·

Daar was ñ hoop klippe wat uit ñ geploegde land op ñ hoop gepak is nou is dit skielik grafte! REGTIG!

Sies ·

REGTIG RAMAPHOSA, EN CELE .. SLAAP JULLE??? Die betogers steek ELKE dag iets aan die brand en julle sit en shampagne drink en sushi eet? Dit is ‘n skande, eers word busse aan die brand gesteek, dan treine, dan stasies, dan veld, dan munisipale geboue .. eeers is hulle ontevrede oor dienslewering, dan oor huisvesting, dan oor vervoer, dan oor ‘n begraafplaas .. HOEVEEL verskonings moet hierdie mense nog gebruik om die land te vernietig en julle sit heerlik agteroor en roer nie ‘n vinger nie?? DIS ‘n SKANDE, ek skaam my vir die SA REGERING . sies . ons betaal belasting en julle kyk hoe betogers ‘n land vernietig !

Theo ·

Is dit n Plaas of n Begrafplaas. Voor ons oordeel het die boer toestemming gegee vir die Begrafplaas, of is die grond net eenvoudig gevat?

Hans ·

Gaan kyk wat plakkers in die omgewing van die Pretoria-Oos begraafplaas aanvang. Volgens berigte in plaaslike media het die begraafplaas ontaard in sjebeen,openbare bad-en waskamer ens. Vanwee die situasie waag ons ons dit vir laaste paar jaar nie om die begraafplaas te besoek nie. Skokkend dat owerhede nie gepas optree nie.

Elsa ·

Lyk my almal is deesdae vol haat en woede en so vernietig mense nie net mekaar nie, maar ook ons pragtige land. As daar wel ‘n begraafplaas was, dink ek hierdie boer het nie mooi gemaak nie, al was dit op sy eie grond. Sulke aksies vergerger net die woede en haat en kan ook veroorsaak dat hierdie mense wat so kwaad is, ook sy plaas en sy bure se plase afbrand. Deur sy optrede het van die buurplase alreeds skade gely. Kon die boer dan nie maar liewers die gedeelte waar die begraafplaas was en die deel waardeur die mense toegang tot die begraafplaas verkry het, afgekamp het nie? Dan sou daardie inwoners vrye toegang to die begraafplaas gehad het, maar die heining sou ook gekeer het dat mense nie vrye toegang tot die res van sy plaas gehad het nie. Dit sou wel kostes meegebring het, maar ‘n heining sou seker nie soveel kos as wat die skade sou wees as sy hele plaas afgebrand word nie. ‘n Mens se eie aksies kan veroorsaak dat haat en woede nog verder handuit ruk of mens kan ‘n boodskap van vrede uitdra deur meer verdraagsaam te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.