Woede oor beoogde wildpark in Mpumalanga

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het die opening van ʼn wildpark in Mpumalanga skerp veroordeel en sê die ligging daarvan – dit is sowat ʼn uur per motor van die Krugerwildtuin geleë – beteken die bestaan daarvan maak boonop geen sin nie.

ʼn Herrie woed nou oor die beoogde wildpark tussen Barberton en Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga.

Die park behoort aan Hennie Maritz en sy vrou, Melanie. Maritz het Dinsdag by navraag aan Maroela Media gesê hy gaan in hierdie stadium geen kommentaar oor die kwessie lewer nie.

Kholofelo Nkambule, woordvoerder van die Mpumalanga-toerisme- en parkeraad, het egter gesê ʼn ondersoek word in hierdie stadium gedoen na die manier waarop die diere na die wildpark gebring is. Volgens Nkamubule is die nodige permitte om die diere na die perseel te bring nog nie goedgekeur nie.

Sy wou nie uitbrei oor watter diere reeds op die perseel is nie.

Nkambule het ook gesê die aansoek om goedkeuring om die park te bedryf is in hierdie stadium ook nog nie goedgekeur nie.

Die NDBV sê intussen daar is verskeie probleme met dieretuine en dat aanhouding van diere lei tot gedrag-, emosionele en liggaamlike probleme. Die organisasies sê daar is ook kommer oor die handel in wilde diere.

Volgens die NDBV gebruik dieretuine landwyd die “verskoning dat dit ʼn nodige en waardevolle” vorm van onderrig is, maar dat daar bitter min of geen onderrigwaarde daarin is om wilde diere in onnatuurlike omgewings te sien nie. Die NDBV sê dit is veel voordeliger vir kinders om diere in hul natuurlike habitat te sien, of selfs na dokumentêre reekse daaroor te kyk.

Die organisasie sê die Krugerwildtuin, ʼn klipgooi van die boogde park, huisves nie net die Groot Vyf nie, maar ook duisende ander vrylopende diere in hul natuurlike omgewing. Die organisasie sê dit maak geen sin vir toeriste om ʼn dieretuin te besoek as die wildtuin op hul voorstoep is nie.

“Ons moedig die publiek aan om nasionale parke, eerder as fasiliteite waar diere aangehou word, te besoek. Die waarde van ʼn natuurlike park is oneindig in vergelyking met aanhoudingsfasiliteite – vir besoekers en die diere,” het Douglas Wolhuter, ʼn senior inspekteur en bestuurder van die NDBV se wildedierebeskermingseenheid gesê.

Amper 10 000 mense het ook reeds ʼn petisie teen die opening van die wildpark onderteken. As jy wilde diere gevange hou, ontneem jy hulle van die vryheid wat hulle veronderstel is om te geniet. Dit verskil heeltemal van ʼn rehabilitasiesentrum waar diere gerehabiliteer en dan weer vrygelaat word,” lui die petisie.

“Hierdie is nie ʼn rehabilitasiesentrum nie. Dit gaan soortgelyk aan ʼn dieretuin bedryf word. Ons as Laevelders voel die Krugerwildtuin bied veel beter opvoedkundige waarde aan die publiek,” lui die petisie.

Die organisasie Ban Animal Trading South Africa sê ook die wildpark gaan niks tot bewaring in die gebied bydra nie.

“Moenie geflous word nie. Dieretuine gaan oor geld, oor die kommersialisering en uitbuiting van wilde diere vir wins,” het die organisasie gesê.

Luidens berigte gaan die park eindelik meer as 100 wilde diere aanhou, wat leeus, luiperds, tiers, poemas, jaguars, wildehonde, hiënas, duikers, jakkalse, krimpvarkies, arende, springbokke en blesbokke gaan insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rudolph ·

Nog ‘n diere uitbuit en mishandel onderneming wat bedryf onder die dekmantel van ‘bewaring’ soos die teikenskiet op diere (jag) bedryf

Casper ·

Dieretuine maak geld om diere in hokke aan te hou en dink daai dier is in sy natuurlike habitat.Ek jag graag maar nie van ‘n voertuig af nie ook nie by watergate of voerplekke nie.Dit is vir my dan nie meer eties nie.Diere in hulle natuurlike habitat is die beste manier van opvoeding waar besoekers die dier kan besigtig en sy natuurlike bedrag kan waarneem.Ek is teen die voorgenome park.Waar gaan hulle kos kry vir al die diere.

Moedeloos ·

Gaan stel behoorlike ondersoek in of die diere in n dieretuin “opgesluit” word. Hoekom gun ons niemand anders om ook hul belangstelling uit te leef nie. Die Wildtuin is altyd vol of kry nie plek nie of te duur. Gun asb almal n plekkie onder die son as dit aan wetgewing voldoen.

Claudette ·

Petisie geteken.. Wilde diere behoort nie in hokke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.