Woede oor berigte dat ‘Hewitt se slagoffers saamgespan het’

Bob Hewitt tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Bob Hewitt tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

ʼn Organisasie wat hom beywer vir die beskerming van vroue- en kinderregte het uitgevaar oor mediaberigte wat beweer die getuies in die verhoor van die voormalige tenniskampioen, Bob Hewitt, het saamgesweer sodat hy op aanklagte van verkragting skuldig bevind sal word.

Women And Men Against Child Abuse (WMACA) het Dinsdag gesê beriggewing deur die SAUK wat beweer dat Theresa Tolken en Suellen Sheehan, twee van die getuies, “saamgespan” het om ʼn skuldigbevinding te verseker, is “teleurstellend, onverantwoordelik en sensasioneel”.

“Wat sê dit van ons samelewing as ons die slagoffers blameer eerder as die oortreder wat in ʼn hof skuldig bevind is?” het Miranda Friedmann, stigter van WMACA, gesê. “Ons weet die verdediging het geen gewete oor die viktimisering van hierdie vroue nie, maar het ons hierdie soort ‘joernalistiek’ nodig in ʼn land waar ons ʼn ernstige probleem het met seksuele misdrywe en geslagsgebaseerde geweld?”

Hewitt is in Maart skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding en in Mei effektief tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Hy is ook beveel om R100 000 boete te betaal wat aangewend sal word om veldtogte teen mishandeling teen vroue en kinders te finansier. Drie vroue wat in die 1980’s en 90’s by hom tennislesse geneem het, het beweer hy het hulle verkrag en seksueel aangerand.

Volgens die WMACA het SAUK-nuus beweer hulle het bewyse in hul besit dat Tolken, Sheehan en ʼn derde klaer aspekte van die saak bespreek het, ten spyte daarvan dat hulle dit in die hof ontken het. Die SAUK het egter intussen die berig van hul webtuiste af verwyder.

“Die WMACA sal graag wil weet of die verslaggewers wat hierdie ‘bewyse’ in hul besit het dit aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) of enige ondersoekgesag oorhandig het? Is dit werklik bewyse of is dit eintlik net inhoud vir ʼn boek wat geskryf word?” Friedmann het gesê die NVG ondersoek nou die moontlikheid of daar onregmatige toegang tot e-posse was en in daardie geval sal die betrokke mense aangekla word.

“Die kommunikasie tussen die vroue het begin lank voor die saak hof toe gegaan het. Hulle het hul ervarings gedeel en die langtermyneffek van hul kindertydtrauma. Dit is nie ongewoon nie,” het sy gesê. “Nêrens het enigiemand ‘saamgesweer’ of strategie beplan om ʼn skuldigbevinding te verseker nie. Dit was nie nodig nie. Die saak was sterk genoeg en Hewitt se briewe aan Tolken was in die bewyse.”

Hewitt se aansoek om teen sy skuldigbevinding te appelleer het intussen misluk, maar hy gaan glo wel teen sy vonnis appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bart ·

Wanneer n pedofiel sy slagoffer blameer…ja” blame the victim” Hewitt.

Drieks. ·

Ek glo dit maak niks aan ons ondersteuning vir hierdie vroue nie. Hewitt het hul die ergste aan gedoen.

Peet J ·

In die verlede was mense, wat later onskuldig bevind is, deur die regstelsel tronk toe gestuur.Ek wonder of die verhoor in die geval daarvan oortuig was dat die slagoffers absoluut geen aandeel aan die oortrteding wat begaan is deel kon gehad het nie nie eers een persent nie.
Om welke rede het die slagoffers +- 30 jaar gewag alvorens die saak aangemeld is. Veronderstel die bewyse wat nou opgeduik het is geloofwaardig gaan dit nie dan ‘n refleksie op die regstelsel plaas nie?

Michiel ·

Peet, lees die berig waar hul noem die saak teen Hewitt is sterk genoeg met die briewe aan Tolken. Moenie die tipe ding enigsins goedpraat nie, jy weet nie hoe dit was nie. Jare gelede was die tipe ding ook half onder die mat gevee, meisies het nie gepraat en was die tipe ding nie so “berug” soos vandag en sou die skuldige baie makliker kon wegkom. Jy weet niehoe sulke traumatiese gebeurtenisse slagoffers vir JARE beinvloed in hul alledaagse lewe, so asseblief, weerhou jou van jou agterdog.

Tania ·

Dankie Michiel. Jy is heeltemal reg.
Ons by Women & Men Against Child Abuse stap al ‘n lang pad saam met hierdie slagoffers. BAIE mense het al gevra hoekom hulle so lank gewag het. Kyk maar na die Bill Cosby en Rolf Harris (en andere) sake. Daar is baie bydraende faktore wat kinders daarvan weerhou om uit te praat.

Tammy ·

Hoe kan hy homself as onskuldig ag? Het die man nie nie n gewete nie. Hy is nie n man nie hy is gemors, want n man wat ordentlik is doen nie sulke afgrylike dade nie.

Marie vd Metwe ·

Dit is irelevant of die slagoffers met mekaar in verbinding was. Daar was genoeg bewyse, die briewe veral, en n pynlikke regsproses vir die slagoffers! Soveel regsprosesse word deur tegniese punte nietig verklaar. n Siek stelsel!

Vic ·

Kinders onder die ouderdom van 16 jaar kan onder geen omstandighede verantwoordelik gehou word vir die seksuele aanranding deur n volwassene nie. As jy dink hulle kan, verstaan jy nie die ontwikkeling van n jong brein nie. En meisies is dikwels die skuldige gemaak, of net nie geglo nie. Dit is glad nie ongewoon vir mense om eers as volwassenes die vertroue te he om kinderaanranding bekend te maak nie.

Eish! ·

Ja, en hoekom mag hulle nie met mekaar gepraat het nie. Ek dink ek sou as ek in hul skoene gestaan het. Laat die man toesluit. Wat hy gedoen het, was onvergeetlik en al het hul saamgesweer, wat van die bewyse in die vorm van briewe?

m barnard ·

Dit gaan oor WAT
di een vir di ander een gesè het nl… as daar ni penetrasie was ni, kan hy ni skuldig bevind word aan verkragting in SA ni.

sarie van heerden ·

Maak nou nie saak of Hewitt skuldig is aan verkragtig, ens. nie. Maar hoekom nou, na so baie jare vergelding wil he vir ‘n ou man wat aan die einde van sy lewe is. Intussen is sy vrou met kanker gediagnoseer. Hulle het nie skotvry gekom in hul lewe nie en finansieel is hul gebreek.

Mike de Beer ·

Wat Hewitt gedoen het kan nie ongestraf verbygaan nie, ongeag sy ouderdom, vrou se siekte (sy het hom bygestaan ten spyt van wat hy gedoen het) en sy finansiele stand. Hy het ander mense se lewens verongeluk ter wille van sy eie wellus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.