Woede oor Jan Taks glo opdok vir minister se herdenkingsreis

Die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die DA het beloof om Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, voor stok te kry ná berigte dat belastingbetalers moes opdok vir die minister en haar man se huweliksherdenking.

Die Sunday Independent het die naweek berig dat die minister na bewering duisende rande van belastingbetalers se geld gebruik het om vir haar huweliksherdenking in die VSA en Switserland te betaal. Volgens die berig het die minister haar man, Thato Abrahams, saamgeneem sonder toestemming van pres. Cyril Ramaphosa.

Daar word ook beweer dat Ndabeni-Abrahams haar man toegelaat het om departementele vergaderings by te woon, onder meer om kandidate te ondervra vir poste in die verskillende direksies oor wie die minister politieke oorsig het.

Ndabeni-Abrahams het egter teruggekap en sê die bewerings is deel van ʼn kwaadwillige smeerveldtog teen haar. Die minister het daarop gewys dat dit nie nodig is vir die president om die insluiting van ʼn gade vir amptelike internasionale reise goed te keur nie, solank dit ooreenstem met bepalings in die ministeriële handboek.

“Voorts laat die handboek gades toe om lede van die uitvoerende gesag op twee amptelike internasionale reise per jaar te vergesel. Daarom is die beleid en die proses nie toegepas rakende mnr. Abrahams wat die minister na Genève en New York vergesel het nie,” het Ndabeni-Abrahams se departement in ʼn verklaring gesê.

Dat die reis saamgeval het met die minister en haar man se huweliksherdenking is volgens die departement van geen belang nie, aangesien openbare geld nie vir hierdie doel gebruik en of misbruik is nie.

“Dit is ook kwaadwillig om te beweer dat mnr. Abrahams na Frankryk gereis het vir ʼn inkopietog aangesien sy paspoort, wat beskikbaar is vir ondersoek, duidelik wys dat hy ten alle tye in Genève was tydens hierdie reis.”

Nog ʼn “ongegronde bewering” is dat ʼn chauffeur Abrahams in ʼn Mercedes-Benz S600 rondkarwei het op dié inkopietog. “Dit is van alle waarheid ontbloot. Dit het nie gebeur nie.”

Ndabeni-Abrahams se kantoor voer aan die bewerings is gemaak om twyfel oor die minister se integriteit te skep en skade aan haar goeie naam te berokken.

“Die minister verseker ook die publiek dat mnr. Abrahams geen regeringsvergaderings bygewoon het nie, soos ook genoem in die geskrewe antwoord aan die verslaggewer. Hy vergesel die minister soms na sekere staatsfunksies, soos die geval met enige ander gade is.”

Die minister ontken dat haar man al ooit by enige sake van die staat ingemeng het. Sy ontken ook dat sy ʼn nuusspan van die SAUK “gelok” het om haar woordvoerder se troue by te woon, onder die voorwendsel dat sy belangrike nuus daar gaan bekend maak. Ndabeni-Abrahams voer aan sy het nie geweet die nuusspan gaan by die troue wees nie, maar het wél gereageer toe sy by die geleentheid om kommentaar oor die SAUK-reddingsboei gepols is.

Ndabeni-Abrahams het ʼn beroep op enigiemand – ook die betrokke verslaggewer – gedoen om bewyse van enige ongerymdhede voor te lê.

“Die berig en die kwaadwillige inhoud daarvan het onnodige skade aan die minister se goeie naam gedoen en die media word gevra om te waak daarteen om die draers van skinderstories en karaktermoord te wees en te hou by die etiese beginsels wat hul beroep rig.”

Die EFF het in reaksie op die bewerings teen Ndabeni-Abrahams gesê hy is woedend oor ministers wat voortdurend staatshulpbronne en belastinggeld gebruik soos hulle lus kry. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê die party gaan die Openbare Beskermer (OB) vra om die bewerings te ondersoek.

“Ministers se gades neem deel aan funksies of verrig pligte waarvoor hulle nie verkies of aangestel is nie en dié optrede kweek korrupsie en ongerymdhede,” het Ndlozi gesê.

Volgens hom was die EFF bewus van die bewerings selfs voor die koerantberig verskyn het. Die party sê hy gaan ook aan Ramaphosa skryf en eis dat hy dié beweerde misbruik van staatshulpbronne ondersoek.

“Versuim om dadelik op te tree gaan net nog ʼn voorbeeld wees van die president se gebrek aan leierskap en sy besluiteloosheid.”

Ndlozi het ook gesê die minister se man moet wegbly van enige funksies of pligte waarvoor hy nie verkies is nie.

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, het gesê Ndabeni-Abrahams se optrede herinner aan dié van een van haar voorgangers, Dina Pule. Dié het óók duisende rande van Jan Taks bestee aan ʼn oorsese reis saam met haar kêrel.

Van Damme sê die minister se reis is niks meer as ʼn luukse vakansie en ʼn reuseverkwisting van openbare geld nie.

“Die kwesbaarheid van die ministeriële handboek word weereens misbruik om luukse uitgawes ten koste van arm Suid-Afrikaners – wat heeltyd daarvoor moet opdok – te betaal.”

Die DA gaan ook parlementêre vrae rig oor mnr. Abrahams se rol op die oorsese reis en sê die party gaan nie ophou om die ANC se “onversadigbare hebsug” aan die groot klok te hang nie.

Van Damme het gesê in die huidige ekonomiese klimaat moet álmal die sente omdraai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Heksie ·

Gewone paartjies breek vir ‘n naweek iewers in Suid-Afrika, maar dié madam moet Switzerland toe foeter, seker omdat sy nie daarvoor betaal het nie!!! Mors my belastinggeld!!!!

Koos ·

Geen paspoort is nodig om tussen Nederland en Duitsland te reis nie (Europese unie). Geld dit nie dalk vir Switserland en Frankryk ook nie? Of het hulle dalk 2 paspoorte (1 amptelik en 1 Privaat). Miskien moet die ondersoek hier begin. Verder is die handboek in hoofstuk 6 duidelik. Ramaposa se skriftelike goedkeuring word benodig. (Dit sal nou seker uitkom, siende dat hy haar aangestel het!)

Genieve ·

Alles gebeur is Suid-Afrika want ons geld word vir alles gebruik tot vir karre en huise koop nou nog n huweliksherdenking ook dsu lekker hier.

Danie T ·

As die kaders uitgevang word, is almal skuldig behalwe hulle en dan lieg hul nog deur hul tande!!!Skaam julle…oja hul weet nie wat beteken dit om hul te skaam in hul blatante vergrype.

jakes ·

Alles gaan maar voort op dieselfde trant. Vir die ANC kaders moet jy belasting geld misbruik anders is jy nie cool nie. Hierdie geval is maar die oortjies van die seekoei. Natuurlik sal alles ontken word, dis die norm.

Elizabeth ·

Daar moet nie net ‘n ondersoek kom nie. Die minister moet die geld terugbetaal. Ek weet nie wat soek ons ministers so gedurig in koloniale lande oorsee nie. Hulle wil niks van Europese lande leer nie, kan niks wat daar algemene praktyk is, hier toepas nie. Wil net die luukses met hulle miljoene koop wat nie hier beskikbaar is nie. Oorseese reise op belastingbetalers se rekening behoort summier stopgesit te word. As ek vir my werk oorsee reis, moet ek konkreet aan die base verduidelik watter praktiese voordeel my reis vir die besigheid ingehou het. Wat doen hulle by al die vergaderinge wat hulle bywoon. Wat van Skype???

Johann cb ·

Die Minister behoort verskoning te vra, die geld met rente terug te betaal en te bedank! Haar optrede is skandalig!

Petrus ·

Net nog ‘n voorbeeld van oop-trog sindroom. As dit pap reĕn dan skep hulle.
Verantwoordelikheid asseblief.

Nettie ·

Onthou net een ding: sodra hulle sê iets het nie gebeur nie of dat iets nie waar is nie, moet ons weet: dit HET gebeur of dit IS waar.

A Mac ·

Ja, elke dag peul daar nuwe wurms uit die verrotte regeringskarkas. Is dit nou nie toevallig dat die goed so saamval nie, en dan wil almal ‘n smeerveldtog teen die arme dame voer. Ons kan dink wat ons wil as ons sien wat aangaan maar sê net iets dan is dit ‘n smeerveldtog. En die verskonings!!

JohanR ·

As dit op 88 in die ouertehuis sit, sal dit seker aan alles en almal spog, dat die Suid Afrikaanse belastingbetalers het vir haar lekker huweliksherdenking in Switserland betaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.