Woede oor katte by hawe honger ly

Sowat 80 katte het daagliks by die Mosselbaai-hawe kos gekry. (Foto: verskaf)

Diereliefhebbers van Mosselbaai is platgeslaan deur die Mosselbaaise hawe se besluit om vrywilligers te verbied om wilde katte op die hawe kos te gee. Dit nadat ʼn huurder op die hawe oor die katte gekla het.

Die besluit is verlede week geneem en ʼn vrywilliger van ʼn organisasie wat die katte reeds die afgelope 25 jaar voer, is sewe dae gegee om die katte te verwyder. Die katte mag voortaan slegs buite die hawegebied gevoer word.

Weens die katte se aard en die ligging binne die hawe, kan baie van die katte egter nie die nuwe kosstasies bereik nie en talle katte, insluitend ʼn ma met kleintjies, het reeds gevrek. Hoewel dit nog nie bevestig is nie, vermoed vrywilligers sterk dat die katte weens honger dood is.

Die katte speel boonop ʼn belangrike rol om rotte en ander knaagdiere uit die hawegebied te hou.

Die projek om die katte te voer is in 1997 deur Rita Barnard, ʼn voormalige komiteelid van die Dierebeskermingsvereniging, begin. Sy het dit onafhanklik van die DBV gedoen en self die kos gefinansier deur die trust Hawe Katte te skep. Met haar dood elf jaar gelede, het Gean MacLeod, ʼn inwoner van Mosselbaai, dié astronomiese taak oorgeneem en sorg tans vir amper 100 wilde katte op die hawe. Die organisasie is intussen uitgebrei om wilde katte elders ook te versorg en die organisasie heet nou Feral Cat Assistance en help ook om katte te steriliseer en dooie katte te verwyder. Sy is afhanklik van donasies om die werk te doen.

“Weens die Covid-19-pandemie het ons geld en ander hulpbronne baie min geword en ons het agter geraak met die sterilisering van die katte,” het MacLeod gesê. Sy sê weens ʼn tekort aan geld het meer mense boonop hul katte by die hawe gaan aflaai, omdat hulle nie self na die diere kan kyk nie.

Verlede jaar het een van die huurders begin kla dat die katte sy stuk grond bemors en MacLeod het moeite gedoen om seker te maak sy én die katte bly ver weg van die man se eiendom. “Hy het egter onlangs nóg ʼn stuk grond bekom en dit is hier waar ek toe verlede week ʼn blinde kat kosgegee het toe hy ʼn foto van my neem.” Die man het die sekuriteit hieroor ingelig en MacLeod is onmiddellik verhoed om verder vir die katte kos te gee. Drie dae later het die gewraakte vergadering plaasgevind.

 

Wilde katte by Mosselbaai-hawe. (Foto: Verskaf)

MacLeod kan môre vir die laaste keer die hawe betree om siek katte te verwyder en wag nou vir ʼn skriftelike kennisgewing van die haweowerheid oor wat nou van die katte gaan word.

Justine van Wyk, wat MacLeod help om fondse in te samel, sê die katte doen ʼn goeie werk om rotte en ander knaagdiere uit die hawe te hou. “Indien die katte nie meer daar is nie, sal die rotte waarskynlik weer hul intrek by die hawe neem.”

Sy sê dit gaan ook bitter moeilik wees om die katte op so ʼn kort kennisgewing te hervestig, aangesien dit wilde katte is wat baie beweegruimte nodig het en ook baie territoriaal is.

MacLeod sê egter sy gaan nie nou al handdoek ingooi nie. “Ek sal weer vroeg volgende jaar ʼn vergadering met die bestuur aanvra en ons saak bepleit.” Sy is egter bekommerd oor wat van die katte gaan word in die agt dae wat oor is voordat sy die vergadering sal kan belê.

Lede van die Mosselbaaise gemeenskap het ook reeds die DBV gekap vir hul oënskynlike traagheid om in te tree.

In ʼn verklaring wat die DBV Maandag uitgereik het, skaar dié vereniging hom by die hawe se besluit en sê dit is die hawebestuur se goeie reg om die voer van wilde diere op sy perseel te verbied. “Die voorkoms van wilde katte in die hawegebied is al etlike jare lank ʼn probleem wat net elke jaar groter word. Daar is ook ʼn aantal siek en beseerde katte wat mediese sorg benodig en die betrokke organisasie bring dit nie onder die relevante owerhede se aandag nie.” Volgens die DBV het die hawebestuur reeds verskeie vergunnings met betrekking tot die katte gemaak en word die betrokke organisasies nou die geleentheid gebied om alle siek en beseerde diere te verwyder.

MacLeod noem egter dat alle siek katte mediese sorg ontvang.

Van Wyk noem dat dit teen die Wet op die Beskerming van Diere is om op te hou om diere te voer wat reeds van die kos afhanklik geraak het. “Hierdie diere weet nie meer hoe om vir hulself kos te soek nie en sal vergaan as ons hulle nie voer nie.”

MacLeod voeg by dat daar ook geen natuurlike voeding soos in die veld beskikbaar is nie. “Dit is ook nodig om die katte te voer ten einde hulle uit te lok sodat ons kan sien wie is siek of om hulle te kan vang om te steriliseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.