Woede oor leerder se selfmoord ná boeliery

Lathitha Nako is vandeesweek dood. (Foto: Nangamso/Twitter)

Verskeie partye het hul skok en woede uitgespreek oor ʼn voorval waarin ʼn gr. 10-leerder selfmoord gepleeg het nadat sy van heksery beskuldig en daaroor geboelie is.

Volgens die portefeuljekomitee vir basiese onderwys, tegnologie, sport en kultuur was dit glo nie net leerders van die Bhisho High School in die Oos-Kaap wat betrokke was by die beweerde boeliery nie, maar dat onderwysers ook ʼn deel daarin gehad het.

Lathitha Nako het glo Maandag gif ingeneem en is kort daarna in die hospitaal dood.

Luidens berigte het ʼn stemboodskap oor die gebeure wat tot Lathitha se dood gelei het, op sosiale media die rondte gedoen.

Die 16-jarige het glo self in die boodskap erken dat ʼn aantal leerders by die skool haar van heksery beskuldig het, ten spyte daarvan dat sy menig keer verduidelik het dat dit nie die geval is nie, berig The South African.

Sy het ook geïnsinueer dat een van haar onderwysers die wilde beskuldigings glo.

Lathitha het na bewering aan leerders en onderwysers vertel dat sy ʼn aanvoeling vir die bonatuurlike het, maar dié het dit glo as heksery verstaan. Talle meen nou Lathitha het ʼn roeping gehad om ʼn tradisionele geneesheer te word.

Desnieteenstaande is sy glo herhaaldelik daaroor geboelie en het sy eindelik haar eie lewe geneem toe sy nie meer die teistering kon verduur nie.

“Godsdienstige sienings is uiters persoonlik en mense het nie die reg om diegene wat ander oortuigings as hulself het, in die openbaar aan te val nie,” sê Elleck Nchabeleng, die voorsitter van die komitee.

“Dit is nie genoeg om hierdie voorval as bloot boeliery te bestempel nie; dit is eerder viktimisasie, diskriminasie en ongegronde etikettering.”

Nchabeleng is ook bekommerd oor bewerings dat ʼn aantal onderwysers niks in verband met die beskuldigings gedoen het nie, juis omdat hul godsdienstige oortuigings van Lathitha sʼn verskil.

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) het Suid-Afrikaners na afloop van die voorval herinner dat almal in die land vry is om hul godsdiens uit te leef sonder vrees om vervolg of veroordeel te word.

“Dit was Lathitha se reg om haar eie geestelike roeping na te streef, en omdat sy daarvoor geteister is, moet owerhede onmiddellik optree en die skuldiges aan die pen laat ry.”

Nchabeleng is ook van mening die saak moet ondersoek word om vas te stel of daar enige nalatigheid by die skool, sy onderwysers of leerders was.

Die hutsmerk ‘JusticeForLathitha’ is intussen op sosiale media geskep, met talle mense wat vra dat diegene wat betrokke was, vasgetrek word en dat verdraagsaamheid landwyd bevorder word.

“Haar onderwysers en mede-skoliere het haar gefaal. Sy het beter verdien,” skryf een gebruiker.

“Godsdiensvryheid moet ten alle tye gerespekteer en bevorder word. Hierdie is onaanvaarbaar,” skryf ʼn ander een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tanniepetoors ·

Disrespek vir ander se sienswyses en geloof is niks anders as selfhaat en gebrek aan selfrespek.

Gogga ·

Baie hartseer. Boeliery op skool is verskriklik. Ons leuse by die huis: Klap handjies vir maaitjies wat kan, en klap harder handjies vir die maaitjies wat nie kan nie. Nie almal is dieselfde mens nie

Nici ·

Ek hoop nie dat hierdie geval gebruik gaan word om Christene onskuldig te beskuldig nie want geen opregte mens sal ‘n ander tot selfmoord dryf nie.

LIEZL ·

Christene behoort nie beskuldig te word nie, want hulle sou nie deel wees van dit nie. Soos jy sê, geen opregte mens sal ander tot selfmoord dryf nie. Daar is in elk geval soveel valse Christene, dis maar moeilik, jong. Ons kan enigiemand beskuldig, maar God sal reg laat geskied.

Chantel ·

Wat my bitter maak vir boelies, is die feit dat daar net eenvoudig niks aan hulle gedoen word nie. NIKS. Ek sien dit in alle skole, laer en hoër. Meer word hulle met “kid gloves” hanteer eerder as hom hulle bloot te stel aan die skade wat hulle aanrig.

TRP ·

Ongelukkig is boelie gedrag algemeen aanvaarbaar blyk dit my. Dit gebeur in soveel skole. Meestal word niks daaraan gedoen. Ek praat ongelukkig van ondervinding. My seun was ook so geboelie in ‘n vooraanstaande skool in Klerksdorp, meer as ‘n jaar later en steeds is sy kant nie gevra net die boelie sin.

Charllas ·

En die hartseer die… die kinders en onderwyssers en skool gaan maar net aan asof niks gebeur het nie! Hulle gee nie `n duit om nie! Kinders is nie al wie boelie nie, onderwyssers is maar net so skuldig en as hulle nie iets daaraan doen nie maak dit hulle ook skuldig. Die hoof is seker daarvan geweet en “ooh wee – ook niks gedoen nie” dis tyd dat boelies vervolg word in sulke gevalle!

madels ·

Dis so verskriklik! Ek voel jammer vir die ouers en vriende en familie wat nou rou…

Tanya ·

Ek dink Boeliery het so algemeen geraak, dat mense nie eens meer weet of iemand geboelie raak of nie , wat die regte tekens is of hulle wil net eenvoudig nie betrokke raak nie. Wat ek wel meer en meer sien is dat daar so baie volwasse mense betrokke is, mense wat veronderstel is om ons kinders veilig te hou (soos onderwysers) wat skuldig is aan boeliery! Heeltemal onaanvaarbaar!

AmY ·

Boeliery is ongelukkig so oud soos die mens self, en dit sal nooit verander op ophou nie.
Ek is ook geboelie op skool. Dit is absolute hel.

Danie ·

Waars die dae toe vrouens wat van heksery beskuldig was op die brandstapels geeindig het.
Nou noem ons dit godsdiensvryheid.
Boelery en viktimisasie is groter in die skole as wat ons dink.
Met gebrekkige opvoeding by die ouerhuis as die sneller.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.