Woede oor R22 miljoen vir ‘stok in grond met vlag’

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

Die DA en die EFF het uitgevaar oor die departement van sport, kuns en kultuur se plan om ʼn reusevlag – teen ʼn koste van R22 miljoen – as deel van sy nasionale monumentale vlagprojek op te rig. Volgens die departement gaan die vlag bydra tot nasiebou en maatskaplike samehorigheid.

Die departement sê in sy jaarlikse prestasieplan vir 2022-’23 dat hy reeds begin het met die proses om die vlag, met ʼn vlagpaal wat meer as 100 m hoog gaan wees, voor te stel, te ontwerp en eindelik op te rig.

Die projek vorder reeds geruime tyd en ʼn lewensvatbaarheidstudie is al van stapel gestuur.

Volgens die departement word R5 miljoen in die 2022-’23-boekjaar vir geotegniese opnames begroot (dit sluit onder meer ʼn omgewingsimpakstudie en ander toetse in), terwyl nog R17 miljoen in die 2023-’24-boekjaar vir die oprigting van die vlag begroot word.

Volgens die departement is die vlag ʼn simbool van die nasie, asook die gemeenskaplike identiteit van Suid-Afrikaners.

Nasiebou en maatskaplike samehorigheid is alles goed en wel, sê die DA se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, maar om dit te misbruik as ʼn verskoning om belastingbetalers se geld te mors, is nié aanvaarbaar nie.

“Die reusevlagprojek is niks meer as ʼn versieringsprojek wat absoluut niks gaan bydra tot nasiebou of maatskaplike kohesie nie. Inteendeel. Dit is ʼn belediging vir miljoene sukkelende atlete en kunstenaars wat min tot geen steun van die departement kry nadat Covid-19 hul lewens en inkomste verwoes het nie,” sê DA-LP Tshepo Mhlongo.

Die EFF het die voorgenome plan as “growwe en verkwistende” besteding bestempel en sê die departement weet duidelik nie wat om met sy geld te doen nie.

“Nathi Mthethwa [minister van sport, kuns en kultuur] en sy kollegas het besluit om ʼn grootskaalse projek te maak uit die plant van ʼn stok in die grond en die vasmaak van ʼn vlag daaraan,” het die EFF in ʼn verklaring uitgevaar.

“Dit is ʼn nuttelose, vrugtelose en misplaaste gebruik van belastingbetalers se geld wat deur alle logiese en rasionele mense verwerp moet word.”

Die verduideliking vir die “ooglopend onnosele vermorsing van geld” is dat dit ʼn simbool van eenheid en nasionale trots sal wees – met die idee dat die hys van ʼn vlag maatskaplike samehorigheid gaan inspireer. Dít terwyl sportsterre soos Portia Modise vertel van ʼn lewe in ʼn sinkhut terwyl sy ʼn nasionale held genoem word, of terwyl Banyana Banyana steeds minder as hul manseweknieë betaal word.

Die EFF sê die departement “sit die pot mis” en het ʼn misplaaste begrip van wat nodig is om dít te vermag.

“ʼn Vlag gaan nie die diepgesetelde breuke in ons samelewing herstel wat gesetel is in die ongelyke verspreiding van rykdom en die absolute armoede van Afrikane nie.”

Mhlongo sê ook as die departement dan geld het om te bestee, stel die DA voor dat geld van versierings herlei word na ander verdienstelike projekte. Dit sluit in steun vir plaaslike sportgeleenthede of teaterproduksies, ʼn skenking aan kuns- en kultuuraktiwiteite soos skoolkoorkompetisies, die restourasie van museums, prysgeld vir sportgeleenthede, of die betaling van kunstenaars by feeste.

Nes die EFF sê die DA ook as die minister ernstig oor nasiebou is, sal hy toegee dat die sosio-ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig staar, veel meer as ʼn paar versierings gaan benodig om te herstel.

“Die minister en sy span gee die verkeerde teenmiddel omdat hulle die probleem verkeerd gediagnoseer het. Die kans op die kweek van maatskaplike samehorigheid is veel groter wanneer daar na die probleme van gewone Suid-Afrikaners gekyk word, eerder as die wapper van vlae.

“Suid-Afrikaners is reeds trots op hulle vlag. Die optrede van ministers wat buite voeling met die mense is, laat veel te wense oor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

50 Kommentare

Bertie ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie! Dit bevestig weereens dat ons land deur idiote bestuur word.

Misky ·

Ek het nie meer woorde nie. Dit gebeur min, maar ek is sprakeloos na die artikel. My hart huil en bloei vir ons land.

AndrewL ·

Klom idiote wat net nog ‘n plan maak om vriende en familie te verryk.

Di ·

Wys ons net die intelligensie van die korrupte, skelm ANC kaders. Kan ‘n 100m paal en VLAG die vervalle land red? NEE! Daar is GEEN hoop vir ons land nie. Ons vervalle Sodom en Gomorrah gaan BAIE meer vat as ‘n vlag om weer bo uit te kom. Die huidige kommunistiese regering sal DIT wat hulle oor meer as 20jaar verwoes het NOOIT weer kan regmaak nie, PUNT

Stephen ·

Wonder watter ANC beheerde “maatskappy” die “Tender” sal kry vir die plant van die paal.

Manie ·

Die stuk lap is afskuwelik genoeg, laat staan nog om iets daarvoor te betaal.

Doors ·

Kan daar nie op ‘n maier van hierdie pateet uit die kabinet ontslae geraak word nie? Hy was nou al in elke denkbare ministersportefeulje en nêrens het hy enige waarde toegevoeg nie!!

Johann101 ·

Kaders word na gekyk, maak nie saak hoe hy / sy opmors nie…

Willempie ·

Hierdie gied is so stadig en traag met hul aksies ….. wonder net hie lank dit gaan neem om elke dag die vlag op die 100m paal te hys en stryk.

Anel ·

Nee wat, hulle los hom mos sommer daar. Ken nie hys en stryk nie!!!

Colette ·

R22m kan vir baie honger mense kos koop en beter behuising verskaf!!

Nie Verbaas ·

Buite voeling met die mense is nog mooi gestel. Idioties onnosel meer korrek.

anniekiewiet ·

Ongeveer 2005 iewers, was n klomp plakkate, oral in die Provinsiale gebou in Bloemfontein (voorheen CR Swart-gebou) opgepak. Dit was advertensies vir kondome ingekleur soos die anc se landsvlag. Hoe verwag hulle ons moet enige respek vir die vlag hê?

Chris dupreez ·

Ek dink die minister se banksake moet ondersoek word.

Anel ·

Nou kyk, ek voel niks vir daardie stuk bont lap nie. Ek dink net dit kan lekker brand!! Wat dan? Al daardie miljoene in die water! Hoeveel mense kon gevoed word, hospitale herstel en skole. Hierdie regering het net geen benul van wat om met geld te maak nie.

Frank John ·

Is julle crazy? Rampies!? Watse onsinnigheid laat jy toe? Het jy nou jou kop verloor?

Lourens ·

Dis nie Covid-19 wat mense se lewens verwoes het nie; dis die idiotiese regulasies om die sogenaamde pandemie te bekamp, gepaard met meeste se blindelingse gehoorsaamheid daaraan.

Porseleintjie ·

Wanbestuur van die belastingbetaler se geld op sy beste. Elke dag lewer die nuus iets meer van eerder origheid op as van samehorigheid.

Nommer 7 ·

En dan seker nog miljoene aan KFC en duur whiskey op die dag van bekendstelling.

Madelein ·

Gebruik die geld eerder om voorsiening te maak vir hospitale en skole en moontlik sportprogramme. Wat maak ons as die vlag dalk nog onderstebo ook gehang word. Nee regtig ..

Marianna ·

Die vlag is net ‘n pleister op ‘n septiese wond. Die vlag gaan nie nasiebou bevorder nie!! Moet die vlag nou die armoede, plundering, korrupsie en moord bedek?”

Gideon ·

Pateties, on-eties, geen skaamte en absoluut belaglik is hoe ek die land se stand en sy regering kan beskryf, ons land se mense is honger en verarm, maar hulle wil n vlag oprig waarvoor ons land se mense alreeds ons respek voor verloor het!!!

annie ·

Mense, mense, verstaan tog, Nathi is een van die min ministers wat vooruit en agteruit kan dink. Hy besef vanuit ervaring en diepsinnige denke dat vliegtuie bakens nodig het om die sakke kos te kom afgooi. Hoe moet die mense uit die noorde, ooste en weste weet waar die groot hulp nodig is? Dis nou binnekort wanneer ons net cannabislanderye het. Graan is uit die bose wat dis nie winsgewend nie. Dan moet ons mos kos van elders kry. Hoe dan nou? ‘n Grootse vlag wat wapper sê: Help, help!

Blikkantien ·

Daardie paal gaan nie lank staan bly nie en die stuk lap gaan verbleik na die eerste seisoen.

Johan ·

22 miljoen. Is die mense van hulle koppe af. Gebruik die geld vir ramp in KZN. So ook die 50 miljoen wat hulle vir Kuba wil gee. Of begin Kuba nou aandring op die geld wat gegee was vir die ANC met Angola oorlog. It is payback time. China gaan ook nog skroewe stywer begin draai

Alfred E Neuman ·

R5 miljoen vir n geotegniese opname! So n opname behoort nie meer as 2 dae te duur nie en behoort n maksimum van R80 000.00 te kos. Die diefstal van belastingbetalers se geld duur voort.

NWT ·

April maand is verby . Is dit n April fools grap. Atlete moet ten duurste uit hul sak betaal om hul eie land te internasionaal te verteenwoordig maar hul sport ministerie wil n paal ten koste van R22 miljoen in grond plant. As die ANC nie die onsinnige plan stop nie wys dit net weer hoe min hul omgee vir die land se mense. Miskien is die paal van goud. Laat my dink aan daardie voetbal staduim in die oos kaap van n R1 miljoen wat hul gebou het. Na n ondersoek is bevestig dit is nog nie eers n R100 000 werd nie.

Kom ons dink aan redes hoekom kos die vlag R22 miljoen. Dit is seker die grootte van 5 sokkervelde. Die paal is meer as 10km lank. Dit gaan seker in die Groot Gat in Kimberley geplant word. Honderde helikopers gaan gebruik word om die paal te vervoer. En dan die grootste grap…. ANC vrywilligers……ja vrywilligers …..gaan die Groot Gat toe gooi.

Jacobus ·

Nati en Fikele is narre van dieselfde sirkus, en die koning het narre in sy hof nodig?

Mieke ·

Vergeet van die vlag en spandeer die geld eerder op KZN wat nou nie met die beloofde geldelijke hulp gaan kry nie!!! Die ANC is so vrotsig dat hulle nie eers aan hulle hulpbehoewende mense kan voorsien nie, maar ‘n flippen paal met ‘n vlaggie is vir hulle belangriker?

Danie ·

Nou gaan ek die ou landsvlag in my slaapkamer ophang. Kla maar die wat wil kla!

Jr ·

Ontmoet dames en here die THREE STOOGES
MTHETHWA, LESUFI, EN MBALULA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.