Woede oor SA steeds op Britse rooilys bly

Satsa het ʼn hernieude beroep op Brittanje gedoen om Suid-Afrika van die land se reisrooilys te laat verwyder. (Argieffoto: Satsa)

Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) het ʼn hernieude beroep op die Britse eerste minister, Boris Johnson, gedoen om Suid-Afrika van die land se reisrooilys te laat verwyder. Dié lys word gebruik om die risiko van Covid-19 in verskillende lande aan te dui.

Sommige van Suid-Afrika se voorste wetenskaplikes het die land se jongste pandemiedata tydens ʼn virtuele vergadering aan die Verenigde Koninkryk (VK) se Gemeenskaplike Bioveiligheidsentrum voorgelê. Die afvaardiging, gelei deur Suid-Afrika se waarnemende direkteur-generaal (DG) van gesondheid, Nicholas Crisp, het aangevoer die infeksiekoers het nou gedaal tot ʼn fraksie van dít wat in die VK – asook in talle lande op die oranje lys – ondervind word.

David Frost, die uitvoerende hoof van Satsa, sê die haastig byeengeroepte vergadering tussen Britse en Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het bloot bevestig wat Suid-Afrikaners nou al ʼn maand lank weet: Dat daar nie ʼn greintjie wetenskaplike bewyse is wat die VK se voortgesette reisverbod steun nie.

“Die VK soek nou ʼn verdere 10 dae om die inligting te oorweeg, terwyl werksgeleenthede verlore gaan en sakeondernemings verwoes word. As die data ons verwydering van die reisrooilys staaf, het die VK ʼn morele verpligting om nou stappe te doen voor ons nóg ʼn somerseisoen verloor.”

Lord Peter Hain, ʼn voormalige kabinetsminister en bekende antiapartheidskampvegter, sê Johnson kon nog nie na die besonderhede gekyk het nie.

“Sy voortgesette rooilys van Suid-Afrika is verregaande en teenstrydig met die wetenskap. Suid-Afrika het ʼn lae infeksiekoers; net ʼn tiende van die infeksies in die VK en ʼn soortgelyke lae koers wanneer dit met groot dele van Europa vergelyk word,” sê Hain.

Net een variant is in Suid-Afrika in omloop – die Delta-variant – dieselfde een wat in die VK voorkom, sê Hain. Die land het boonop sy derde vlaag infeksies agter die rug en die somervakansie lê voor – spitstyd vir Britse besoekers. Britte is boonop die grootste groep besoekers aan Suid-Afrika.

“Hoekom laat byna almal elders in Europa – Duitsland, Frankryk en Nederland – besoeke na en van Suid-Afrika toe, maar nie Brittanje nie? Sê vir ons, Boris Johnson. Dit maak geen sin nie.”

Die kabinet het intussen Duitsland se besluit verwelkom om Suid-Afrika te verwyder van sy lys van hoërisikolande, asook planne deur die VSA om diegene wat ten volle ingeënt is, in die land toe te laat.

Die kabinet het nes Satsa sy teleurstelling te kenne gegee met Brittanje se besluit om Suid-Afrika op sy rooilys te hou.

“Daar is geen billike grondslag om dit te doen nie, gegewe die vordering wat ons gemaak het om die Covid-19-pandemie te beveg, die vinnig dalende infeksiekoers en ons intensiewe inentingsprogram,” lui ʼn kabinetsverklaring.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het die kabinet vroeër op die hoogte gebring van die vordering wat Suid-Afrika maak om die land van die rooilys te laat verwyder.

“Die kabinet is optimisties dat die Britse regering sy ongunstige besluit sal heroorweeg. Dit raak nie net ons toerismebedryf nie, maar sakeondernemings in albei lande, families en ander sektore van die ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Malan ·

Wanneer gaan SA leer om op te hou “demands”te maak? Die wereld skuld ons niks nie. Kry dit in julle koppe. Die regte benadering is om te vra: wat kan ons doen om ons van die rooilys af te kry. Het julle hierdie houding by CR geleer?

Pieter ·

Die maak ook nie baie sin nie, maar elke land moet seker maar maak soos hy goed dink op die stadium.

Hardekwas ·

As SA net n 10e van Brittanje se infeksiekoers het, waarom wil ons dan dié spul hier hê?

Johann ·

Vermeteldheid. So Suid Afrika is in n posisie om voor te sê wat n kern korrupte vergrypers kader dink en doen? Met n Dep v Gesondheid wat in hul hordes meer omgee oor miljoene in hul sak steek as die bestuur van n pandemie? En n Pres wat sy vergryper minister loof vir sy optrede?

Yvonne ·

Die Britte lees en hoor van al die verskillende soorte ‘virusse’ in ons land……wie by jou volle verstand wil dit waag

JAN ·

Ek dink nie dit gaan oor Covid-19 nie. Dit word net as verskoning gebruik om Britte te waarsku oor die gemors wat hier aan die gang is. En dit raak by die dag erger. Die ANC / Ramapaw-paw is besig om hierdie land te vernietig.

Jack ·

Watter land wil sy burgers aanmoedig om n land te besoek waar die kanse dat jy vermoor word hoog is. Al wat jy moet dra is n selfoon en kamera.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.