Woede oor tariefverhogings vir maatskaplike werkers

(Foto: pixabay)

Groot ontevredenheid heers oor die voorgestelde tariefverhogings vir maatskaplike werkers wat in sommige gevalle tussen 35% en 230% beloop. Die verhogings is vroeër in die Staatskoerant aangekondig en die tydperk vir kommentaar daarop het Maandag gesluit.

Talle maatskaplike werkers is egter woedend oor die verhoging, veral omdat hulle meen die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP) doen weinig vir beroepslui.

Die R444 wat die meeste van die maatskaplike werkers jaarliks moet betaal, word nou tot R600 verhoog.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van beroepsgildes by Solidariteit, sê die SACSSP is ʼn statutêre liggaam waaraan maatskaplike werkers moet behoort, maar dat dié verhoging buitensporig en onbillik is.

“Maatskaplike werkers kry niks vir hierdie geld nie; hulle vra jou 35% meer vir niks en jy moet dit binne ʼn maand betaal. Maatskaplike werkers betaal vir ʼn stuk papier wat hulle toestemming gee om te werk, maar [die vereniging] reël nie opleiding nie, antwoord nie fone nie en beantwoord nie e-posse nie.”

Die tariewe geld vir onder meer maatskaplike werkers, kinder- en jeugwerkers, hulpwerkers en selfs studente in die beroep.

Engelbrecht sê ʼn R100-verhoging klink dalk nie na baie nie.

“Jy kan vra hoe erg kan R444 per jaar nou wees, maar ons het navorsing onder maatskaplike werkers gedoen en dit is vir hulle buitensporig baie geld.

“Dit klink min, maar vir die beroep is dit ʼn geweldige groot kwessie. Dit gaan oor meer as net R100; dit gaan daaroor dat jy R100 meer moet betaal wat jy nie het nie, terwyl jy niks in ruil daarvoor kry nie.”

Die gilde het reeds sy kommentaar oor die voorgestelde verhogings ingedien.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Maatskaplike Werkers in Privaat Praktyk (Saaswipp) sê ook hy is bewus van groot ontevredenheid oor die voorgestelde verhogings.

Sy regspan het ook kommentaar oor die voorgestelde wysigings ingedien.

Engelbrecht sê navorsing onder maatskaplike werkers wys dat sowat die helfte van hulle tussen R10 000 en R20 000 per maand verdien. Maatskaplike werkers in die staatsdiens verdien gewoonlik meer as dié in private praktyk.

Sowat ʼn vyfde van diegene wat aan Solidariteit se peiling deelgeneem het, sê hulle het nie verlede jaar hul volle salarisse ontvang nie. Tot 79% van maatskaplike werkers se salarisse is die afgelope jaar verminder of opgeskort, 88% van maatskaplike werkers beskou hul salarisse as onvoldoende en tot 31% van maatskaplike werkers moes hul leefstyl aanpas om kop bo water te kon hou.

Altesame 97% van diegene wat aan die opname deelgeneem het, was gekant teen die voorgestelde tariefverhoging.

Engelbrecht sê die raad gee geen motivering vir die tariefverhogings nie en daar is ook geen standaardverhoging nie.

Die behoefte aan maatskaplike werkers het die afgelope jaar, weens die Covid-19-pandemie en die afsonderingstyd, boonop beduidend toegeneem. Talle skenkers het hul bydraes aan nie-regeringsorganisasies onttrek, terwyl daar ook nie fondsinsamelingsprojekte gehou kon word nie.

“Die las op maatskaplike werkers het geweldig toegeneem, maar die geld het verminder,” sê Engelbrecht.

“Om nou te verwag dat hierdie beroepslui skielik so ʼn buitensporige verhoging in hul registrasietarief moet betaal sodat hulle ʼn inkomste mag verdien, is verregaande.”

Die raad kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anti-Verkramp

Sommige professionele beroepe se ledegelde beloop DUISENDE Rande per jaar net om te kan praktiseer. Dis skrikwekkend. R600 is peanuts.

Moedeloos

Hierdie verhoging is maar een van die talle verhogings wat gaan kom en ons sal niks daaraan kan doen nie. Die regering soek geld en wie moet betaal ONS

Robert

Hierdie beroepsrade het euwels geword. Jou kwalifikasie behoord genoeg te wees.