Woede oor Vrystaatse paaie ná onnie verongeluk

Waldo Ferreira (Foto: Vrede Skool/Facebook)

Vrystaat Landbou (VL) het Woensdag ’n beroep op motoriste gedoen om eise teen die departement van polisie, paaie en vervoer in te dien wanneer hulle skade en verliese ly weens die haglike toestand van dié provinsie se paaie.

Die pleidooi volg nadat ’n jong onderwyser van Vrede en twee insittendes van ’n vragmotor Vrydag in ’n trompop botsing op die R103 tussen Warden en Vrede gesterf het. Maroela Media verneem dié botsing tussen ’n skoolbus en ’n vragmotor is deur een van die vele slaggate op die Vrystaatse paaie veroorsaak.

Gemeenskapslede is gebroke én woedend.

“Die regering se arrogante en ongeërgde houding kan nie meer geduld word nie. Hoeveel lewensverlies moet daar nog wees voor die regering gaan optree?” vra Francois Wilken, president van VL.

Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, sê Waldo Ferreira, ’n onderwyser aan die Vrede Skool, was Vrydag alleen in ’n skoolbus van Warden op pad na Vrede toe die skoolbus ’n slaggat getref en hy teen ’n aankomende vragmotor met twee insittendes gebots het. Ferreira het die skoolbus bestuur.

Ferreira asook Sandile James Mahlangu en Phumulani Mavundla, albei van KwaZulu-Natal en insittendes van die vragmotor, is in die botsing oorlede.

Wilken sê nou die departement behoort aanspreeklik gehou te word vir motorongelukke weens sy nalatigheid om die paaie in stand te hou en te herstel waar nodig.

Johann du Toit, ’n skoolhoof in die omgewing van Memel en een van die eerste mense Vrydag op die toneel, sê die gemeenskappe van Memel, Warden en Vrede is moeg gepraat.

Wilken sê ’n WhatsApp-groep onder leiding van Du Toit skets die verhaal van die gemeenskappe se vrees om die paaie te gebruik en duisende rande se skade aan voertuie weens die haglike verval van paaie.

Dié drie gemeenskappe is nou in die proses om ’n komitee op die been te bring wat verskeie opsies, waaronder ’n petisie, oorweeg om optrede van die departement te eis.

Wilken moedig intussen mense aan om gebruik te maak van die eisprosedure en eisvorm vir skade aan ’n voertuig, soos voorsien deur die departement. Hy versoek ook dat ’n afskrif van die voltooide dokument ná indiening aan VL by [email protected] gestuur word vir rekorddoeleindes.

“Ons kan nie net terugsit en dinge aanvaar soos dit is en stilbly nie. Dit het lankal reeds tyd geword vir die regering om kennis te neem van gemeenskappe se ongelukkigheid. Ons gaan aanhou druk uitoefen tot daar resultate is.”

Die Vrede Skool het intussen in ’n inskrywing op Facebook gesê Ferreira se afsterwe laat ’n groot leemte in die skoolgemeenskap.

Blyke van medelye stroom steeds in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jessica ·

Dit kos ons land miljoene om die Zondokommissie aan die gang te kry… en niemand sit al agter tralies nie. Ek besef na baie petisies en briewe en klagtes en sake , dat niks meer gedoen gaan word om geregtigheid te laat seëfier in hierdie land nie. Simpatie aan almal wat stukkend is

Jakes ·

Ek reis baie op daardie spesifieke pad en dit is lewensgevaarlik agv die slaggate. Die owerhede doen absoluut niks om die paaie te herstel nie en baie gru ongelukke het al daar plaasgevind.

giel ·

Het n slagat met my motorfiets getref en die rooi rook uit myself geval, my eis is baie later uit betaal, maar eks tevrede, so dagvaar hulle.

Jenny ·

Ek bly in op ‘n hoewe in Benoni, Gauteng. Ons paaie hier is net so sleg, 3 van my motor se rims is gebuig, my man moes hulle reg slaan, hulle is nie meer verkrybaar nie. Een van my bande het so week terug gebars as gevolg van ‘n slaggat. Ek wil nie meer ry as dit begin donker word nie, want jy kan nie altyd die slaggate sien nie.

Karina ·

Simpatie aan die familie en vriende van Waldo Ferreira, ai, so jong ouderdom is tragies. Almal wat kan moet saamstaan en hierdie regering aanvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.