Woede oor wysigings aan wetgewing oor geboortesertifikate

hof-hamer

Argieffoto

Menseregte- en kinderregteorganisasies sê pleks daarvan dat die regering wetgewing oor geboorteregistrasies en identiteit hersien sodat dit aan internasionale norme voldoen, verlaag hy sy standaarde nou selfs verder.

Dít nadat die departement van binnelandse sake gevra het vir kommentaar oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Geboorte- en Sterfteregistrasies wat sal beteken dat die regering die uitreik van geboortesertifikate aan buitelandse kinders gaan staak. Die voorstel het reeds groot woede veroorsaak.

In ʼn gesamentlike verklaring sê die Sentrum vir Kinderreg, Regslui vir Menseregte, die Scalabrini-sentrum van Kaapstad en die Universiteit van Kaapstad se regskliniek vir vlugtelinge elke kind het die reg op ʼn geboortesertifikaat. Dit is dus die verantwoordelikheid van die land waar die kind gebore word om so ʼn sertifikaat uit te reik – ongeag of burgerskap toegeken word of nie.

Die organisasies sê die voorstel is ʼn skending van ʼn kind se reg op ʼn naam en nasionaliteit en kom neer op onbillike diskriminasie.

Ingevolge die voorgestelde wysiging sal kinders ʼn sogenaamde bevestiging van geboorte by hulle eie ambassades moet indien om ʼn geboortesertifikaat by hulle land van herkoms te kry.

Die organisasies sê dit is veral problematies vir vlugteling- en asielsoekerkinders omdat hulle juis nie hulle eie ambassades kan nader nie – dit sou hulle beskerming in Suid-Afrika in die gedrang bring. Die voorgestelde wysigings gaan veral ook probleme skep vir wees- of ander kinders wat nie hulle nasionaliteite kan bewys nie omdat hulle ouers afwesig is, sowel as staatlose kinders.

Die voorgestelde wysiging kom te midde van kritiek van verskeie internasionale organisasies oor Suid-Afrika se skending van internasionale reg oor ʼn kind se reg op geboorteregistrasie en ʼn wettige identiteit.

Die organisasies sê veral die VN-konvensie oor die Regte van die Kind het voorgestel dat Suid-Afrika sy wetgewing hersien en aanpas om ten volle aan die konvensie te voldoen. Pleks daarvan beoog die departement nou om geboorteregistrasie vir buitelandse kinders heeltemal te skrap.

Hulle sê sonder ʼn geboortesertifikaat gaan enorme hindernisse kinders – wat toegang probeer verkry tot basiese dienste en menseregte soos onderrig, gesondheid en maatskaplike dienste – in die gesig staar. ʼn Geboortesertifikaat laat ook staatlose kinders toe om aansoek te doen om die beskerming wat burgerskap hulle gee.

Volgens hulle vereis die Grondwet dat die beste belange van kinders vooropgestel moet word. Suid-Afrikaanse howe het ook al verskeie kere bevind dit is in die beste belang van ʼn kind om ʼn geboortesertifikaat en die reg op ʼn nasionaliteit te kry.

Die departement moet nog op skriftelike navrae reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieterv ·

Nie aleen wil hulle mense van hulle grond ontneem nie, hulle wil nou onskuldige kinders van n identiteit beroof.
Wat nog?

Francis Linström ·

Het iemand nog ‘n geboortesertifikaat nodig as hy/sy n ID het en wat moet voorsien word by afsterwe

Heila ·

Jy het ‘n geboortesertifikaat nodig tot jy ‘n ID kry op 16. Hierdie is weereens net ‘n verdere uitvloeisel van die onbevoegdheid van binnelandse sake. Ek moes 11 maande wag vir my kind se geboortesertifikaat – en het dit eers gekry nadat ek ‘n herrie opgeskop het daaroor.

Retha ·

Ek moes twee jaar wag vir my kind se geboortesertifikaat vanaf die buiteland. En in die twee jaar lange proses het die aansoek al eenkeer weggeraak in Pta en moes ek weer by die Suid-Afrikaanse Konsulaat aansoek doen. Pateties!!

Lientjie ·

Jy kry eers ‘n ID as jy 16 word hoe gaan jou kind inskryf by ‘n skool sonder ‘n geboortesertifikaat? Hoe gaan jou kind kan aansoek doen vir hy/sy sonder ‘n geboortesertifikaat?. Hoe gaan die ouers kan aansoek doen vir ‘n paspoort sonder ‘n geboortesertifikaat.? As jy ‘n buitelanders is stem ek saam dan kan hulle op hulle land se rug gaan ry om vir hulle kinders te sorg.

nico k ·

Ek wil net vir Francis sê dat ‘n ID beteken niks. Jy kry jou ID op grond van jou geboorte sertifikaat. Sou iemand jou ID betwis (onthou daar is baie bedrog met ID’s) het jy jou geboortesertifkaat nodig om te bewys jy verdien die ID. Maar hierdie gaan nie oor SA burgers nie, maar oor persone wat in SA gebore word, maar nie kwalifiseer vir SA burgerskap nie. En ja as hulle dan wil passpoorte kry van hul eie land moet hul kan bewys dat hulle gebore is!! So dit klink soos ‘n baie dom besluit.

Arak ·

As die land goeie grensbeheer gehad het, sou die kinders nie hier gebore word nie. Nou kom mense uit die ganse Afrika hierna toe, dra niks by tot die belasting nie, maar kry hulle kinders hier en ons, die goeie belastingbetalers, kan die rekening vir die kinders optel vir die res van hulle lewens. Nee wat, ek steun nie maklik die regering nie, maar hier stem ek met hulle saam. As die ouers Suid-Afrikaners is, reik die sertifikaat uit, anders is die kind die ouers se land van herkoms se verantwoordelikheid.

Ronell ·

Arak, ek stem 100% met jou saam. Ons betaal ons jisse af aan belasting, dan wil hierdie immigrante, wat deeglik daarvan bewus is dat hulle naby aan kinders baar is, en van wie 99.9% onwettig is, ons ware Suid Afrikaanse nageslag se toekoms kom inoes. Oor 14 jaar het ons nog ‘n opswepende jeugdige (deur hul ouers ingevoerde vreemdeling net omdat die in SA gebore is) wat meer en meer voordele eis en ons die kiepie bont honde van die land moet weereens opdok vir hul eise.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.