Woede, skok ná skote op beamptes 8-jarige eis 

(Argieffoto)

ʼn Agtjarige seun is Maandag doodgeskiet en ʼn 12-jarige meisie gewond nadat daar op beamptes van die Kaapse metro geskiet is.

Beamptes het huise in die Elsiesrivier-omgewing geïnspekteer toe ʼn groep mense begin saamdrom het. Skote is op die beamptes afgevuur en die twee kinders is raakgeskiet.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, word sake van moord en poging tot moord ondersoek.

Richard Bosman, Kaapstad se uitvoerende direkteur vir veiligheid, het gesê die beamptes het die departement van behuising bygestaan toe mense saamgedrom en oproerig begin raak het. Daar is bande aan die brand gesteek en beamptes is met klippe bestook. ʼn Man het vanuit die skare op die beamptes geskiet.

“Ons beamptes het nie teruggeskiet nie, maar eerder skuiling gesoek aangesien die skote vanuit ʼn skare gekom het. Dit het later aan die lig gekom dat die twee kinders deur dwaalkoeëls getref is. Die skieter is deur die skare geïdentifiseer, maar hy het van die toneel gevlug.”

Volgens Bosman was daar sedert 11 Julie minstens 46 gevalle waar personeel van die Kaapse metro beseer is terwyl hulle op gewelddadige protesaksies gereageer het.

Kaapstadse burgemeester Dan Plato (April 2020) (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het die voorval ten sterkste veroordeel. “My hart breek vir die families van hierdie kinders.”

Die skieter is volgens Plato welbekend in die gemeenskap en hy het ʼn beroep op die owerhede gedoen om seker te maak dat geregtigheid geskied.

“Oor die afgelope maand was daar gekoördineerde en gewelddadige grondbesettings in meer as 30 dele van die metro. Amper 50 beamptes is al beseer terwyl hulle aan diens was en talle amptelike voertuie is beskadig.”

Die Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het intussen ʼn skrywe aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gerig en versoek dat ʼn intelligensieverslag saamgestel word rakende die vlaag grondbesettings in die Wes-Kaap.

“Die vernietiging van openbare eiendom en om lewens in gevaar te stel moet ten sterkste veroordeel word. Protesoptrede wat gewelddadig en onwettig is, is onaanvaarbaar. Ek doen ʼn beroep op onmiddellike kalmte en stabilisering binne die betrokke gemeenskap.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Berig is verwarrend, opskrif lees dat die lewe van 12 jarge ge-eis is maar in die berig lees dit dat die 8 jarige dood is en die 12 jarige gewond is.

Megan Swart ·

Dagsê Wielspore
Dankie vir jou kommentaar. Dit is inderdaad die 8-jarige wat oorlede is. Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Stefan ·

Julle het nou te lank gestaan en ‘monitor’
Dis nou buite beheer en julle sal hulle nie meer kan beheer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.