Woede, verdriet ná moord op melkboer

(Argieffoto: Maroela Media)

Die VF Plus het opnuut sy woede oor die jongste plaasaanval uitgespreek nadat ʼn geliefde melkboer Sondagaand op sy plaas naby Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap doodgeskiet is. Sy vrou en volwasse seun is ernstig beseer tydens die aanval.

“Plaasaanvalle en -moorde kan grotendeels hokgeslaan word indien spesialiseenhede op die been gebring word. Dit is nou die tyd dat die landelike beveiligingsplan, wat voorsiening maak vir meer gespesialiseerde personeellede, ten uitvoer gebring word,” het Piet Mey, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in die Oos-Kaap, gesê.

Mey het reeds vroeër vanjaar gesê dat landelike veiligheid nie ʼn prioriteit vir die regering is nie nadat ʼn jong boer ook in die Oos-Kaap vermoor is.

“Dit is nou belangriker as ooit dat inwoners van landelike gemeenskappe by hul plaaslike buurt- en plaaswagte aansluit wat ʼn gesamentlike doelwit het om saam met die polisie die omgewing te beveilig.

“Die VF Plus sal voortgaan om druk op die betrokke owerhede te plaas om die veiligheid van inwoners in veral landelike gebiede te verseker.”

Intussen het medelye vir die 55-jarige boer, Werner Buchner, sy vrou, Estelle, en hul volwasse seun, Werner jr., sedert die aanval ingestroom.

“Werner se afsterwe laat ʼn groot leemte in die gemeenskap en die landboubedryf in geheel. Hy het onder meer in die raad van direkteure vir die Clover-suiwelgroep gedien en sy afwesigheid sal in soveel opsigte gevoel word.”

Werner sr. is Sondag in die rug geskiet toe drie aanvallers sy huis binnegekom het. Werner jr. is ook deur die aanvallers geskiet, hoewel Estelle haar liggaam as skild gebruik het om haar man en seun te probeer beskerm. Estelle se arms is in die proses gebreek.

Die verdagtes het twee selfone en ʼn onbekende bedrag geld geneem en op die vlug geslaan.

Sedert die aanval het Werner jr. ʼn operasie ondergaan en is ma én seun in ʼn hospitaal in Gqeberha.

“Ons harte gaan uit na Werner se familie. Mag Estelle en Werner jr. te midde van die omstandighede ten volle van hul beserings genees,” het die Melkprodusenteorganisasie (MPO) in die Oos-Kaap in ʼn Facebook-plasing geskryf.

Agri Oos-Kaap het ook sy innige meegevoel betuig en die plaaslike landbougemeenskap geloof vir die vinnige reaksie op Estelle se oproep.

“Dankie aan elkeen wat die nodige noodprosedures op ʼn kalm en gekoördineerde wyse geaktiveer het.”

Die polisie is steeds op die spoor van die drie vermeende aanvallers. Die honde-eenheid en ander statutêre magte is sedertdien ingespan om die skuldiges vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda G

Die vreksels en dan vlug die gespuis.
Dis bitter hartseer

Buck

Dit raak tyd dat die krimineel leer wat vrees is

Konserwatief

Die opposissie moet ophou reageer met woede en hartseer. Niks sal verander want die straegie is om boere van plase te kry. Dis doelbewus so beplan deur die ANC. Daar is nie plitieke oplossings nie slegs private kommandos waar die landbousektor opgelei moet word in verdediging aangesien die regering oorlog verklaar het teen boere en is die regering die vyant,

Willem

Vryheidsfront plus is net so groot grap soos DA.Bekke groot want hulle soek stemme!!!!Ek bly maar n draadsitter!!!!!

Marshall

Die VF Plus moet ophou om sy woede uit te spreek en sy energie liewer spandeer op n WERKBARE STRATEGIE, om hierdie kroniese tereuraanslag stop te sit. ‘n Mens kan eenvoudig nie ‘n verdedigende oorlogstratigie wen nie, en ‘n oneindige grens kan nie suksevfol verdedig word nie.
So lank as die boere aanhou om hulle onwerkbare strategie te volg, sal die VF Plus aanhou om hulle woede uit te spreek.
Die enigste werkbare strategie is die “Two State Solution” met totale politiese skeiding van die huidige meerderheidsbevolking.