Woedende aanhangers van ‘Binnelanders’ voel bedrieg

Só is die geleentheid op Facebook geadverteer.

Aanhangers van die kykNET-sepie Binnelanders is woedend nadat ʼn geleentheid in Mei waar hulle hul gunsteling‑Binnelanders-akteurs kon ontmoet, gekanselleer is en hulle nie die geld vir hul kaartjies terugkry nie.

Die Celeb Ontmoet en Kuier-geleentheid sou op Saterdag 25 Mei by Back to the Roots in Hartbeespoort gehou word. Kaartjies is teen R160 elk verkoop en sou ʼn ete insluit. ʼn Kontantkroeg en dansvloer sou beskikbaar wees. Mense kon net deur WhatsApp plek bespreek en net 300 kaartjies was beskikbaar.

Die geleentheid is nou gekanselleer en volgens ʼn inskrywing van Binnelanders aan Binnelanders Stereo op Facebook, moet die slegte nuus ongelukkig met aanhangers gedeel word dat die geleentheid, wat onafhanklik van Binnelanders gereël is, afgestel is.

“Verteenwoordigers van Dandelion Kunste en/of Reinier A. Du Plessis kan gekontak word in verband met die terugbetaling van kaartjies wat reeds gekoop is,” lui die inskrywing.

Volgens verskeie aanhangers is die geleentheid gereël deur Xavier van Vliet van Dandelion Kunste. Klagte van bedrog is glo teen hom by die polisie op Vanderbijlpark, Meyerton, Springs, Benoni en Randfontein ingedien.

Dandelion Kunste se Facebook-blad bevat geen inligting oor die geleentheid of waar om jou geld terug te kry nie, maar daar is enkele kommentare op die blad van iemand wat ingeloop is. Van Vliet se Facebook-blad bevat geen inligting nie en daar is ook geen inskrywings op Du Plessis se blad wat met die geleentheid verband hou nie.

Van Vliet en Dandelion Kunste het nie op boodskappe op Facebook Messenger gereageer om hul kant van die saak te stel nie. Du Plessis het egter laat weet dat hy niks met die aangeleentheid te doen het nie.

Die nommer vir Dandelion Kunste wat op die bemarkingsmateriaal gegee is, dui net aan ʼn mens moet later weer bel omdat die intekenaar nie beskikbaar is nie en ʼn WhatsApp-boodskap na die nommer is nie gelees nie. Inligting op die Facebook-blad dui aan die persoon sedert 4 Januarie 2011 ʼn direkteur van Dandelion Arts and Crafts is, by Unisa gestudeer het en in Vanderbijlpark bly.

Dit is blykbaar nie die eerste keer dat mense woedend is vir Van Vliet nie. ʼn Facebook-soektog wys dat verskeie mense op soek is na hom en nie net oor die Binnelanders-geleentheid nie. ʼn Pandjieswinkel soek ook na hom en verskeie mense waarsku dat hy mense inloop wat “sagte teikens” is. Hy verkoop ook glo Yorkies wat hy “gekoop” het maar nie voor betaal het nie.

Ander inskrywings beweer dat hy goedere op Facebook te koop aanbied en nadat mense betaal het, nie die goedere lewer nie. In 2016 was mense, wat Afrikaans is Groot en die nasionale rolbalkampioenskap in Pretoria wou bywoon, na bewering ook deur Van Vliet ingeloop wat verblyf in die Kwikstertjie-gastehuis geadverteer het. Die gastehuis het nie bestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Muffin ·

Bedrog in SA is iets alledaags. Hoe groter die bedrag hoe minder kom jy iets oor.

Kas Smit ·

Die spelling op die plakaat is so afgryslik, dis ‘n belediging!

Stormrider ·

Presies die rede waarom die mense moes agterkom dat dit ‘n slenter is. Dis dieselfde situasie as wanneer mens e-posse deurspek van spel-foute kamtig van die bank-instellings af ontvang. Ek sou eers die kuierplek gebel het om te bevestig dat dit legitimate is!

humor ·

Ek is bly ek is nie deel van die woedende verslaafde sepiekykers nie. Het nog nie een dag my tyd gemors om daarna te kyk nie. Hou my met beter ontspanning en proaktiewe sake besig wat gesond is vir liggaam en veral die siel.

Elna ·

Hoe meer dae hoe meer dinge. Dis regtig onaanvaarbaar hoe dinge so handuit ruk in hierdie land deur bedrog koerupsie en noem dit maar op. Waar gaan alles eindig? Vang die misdadigers en laat hulle oor aan die gemeenskap sodat ons reg in eie hande kan neem want daars net te veel misdadige bedrywighede om te hanteer vir die SAPD. Ons mense sal iets self moet doen om dit te bekamp en dis om die reg in eie hande te neem. Ons almal is al so g@tvol vir die alledaagse misdade ens in hierdie land. Dis my opinie

Zette ·

Mense wil nie leer nie…….word so maklik in ‘n lokval ingelei.

Jannie ·

Ag foeitog!! Tch! Tch! Byna so erg soos die 2de Wêreld-oorlog!!! LOL!!

Rooi ·

Dis plain Dom wees. Die spel foute moes reeds tekens van vervalsing wees. En R160? Klink dit nie bietjie cheap nie? Ons op platteland betaal reeds R180 pp dan is daar nie eens kos nie

pvt ·

watter akteurs is hier betrokke
kyk bietjie mooi
nie die 1ste keer nie

Werner ·

Wel dis seker nie moeilik om n ou wat na binnelanders kyk te vang met n slenter nie mense wat na die gemors sal nie sommer n skelm kan raaksien nie

Veronica ·

Ons het 10 kaartjies gekoop want my Pa word 80 en hy is n Binnelander Fan!
Ons wou hom treat en hyt so uitgesien daarna…
Onregverdige wins!

Marinda ·

Presies hoekom ek nooit iets via sosiale media koop nie. Mens weet nie meer wie jy kan vertrou en wie nie.

Alida ·

Ouch dit maak baie seer. Terloops Binnelanders is n goeie sepie. Bestaan 7de Laan nog?

HEVW ·

Elke gebod in die 10 gebooie word in hierdie sepie oortree en ons sg. christene is verslaaf daaraan. Geheel en al gebreinspoel.

Adam ·

Dan moet jy ook beweer dieselfde geld vir bykans alles, selfs die kommentaar op MM ook.

Anton ·

As ek na die kommentaar inskrywings hierbo kyk gril ek myself amper die stuipe in oor al die engelse woorde wat gebruik word! Van wanneer af is woorde soos “cheap”, “fan”, “stupid” en “legitimate” Afrikaanse woorde? Dit is ooral in ons taal nie net hier nie en n kanker wat gevaarliker is as enige slenter of Ghoema verneukery!

M ·

Ons Afrikaners is opgeskeep met onself. Hoekom wil die mense in elk geval so funksie bywoon met n klomp akteurs.

M ·

Ons Afrikaners is opgeskeep met onself. Hoekom wil die mense so funksie bywoon met n klomp akteurs. Elk geval nie die skerpste mense wat aanhangers van sepies is nie ….

marous ·

Gee die tv verniet vir die buitelanders en gaan help met sop kombuise vir die arm blankes ..

Ekke ·

Gelukkig het ek beter dinge om te doen as om na daai tjol op TV te kyk.

humor ·

Die At blykbaar die hoofspeler in die sepie se verhaal is tien dubbel erger as die van zuma. Nog nie eenmaal in die hof en in die tronk nie.Gedurig besig met oneerlikheid, rugstekery, n gekonkel met n huurmoordenaar om iemand uit die weg te ruim ens. Dit word oorheers deur intriges, buiteegtelike verhoudings, egskeidings en voortdurende rusie. EK kan nie dink dat dit opwindend en ontspannend kan wees nie. Dit is die vuil van die lewe. Dit moet noodwendig n uiwerking op die spige he van iemand wat daagliks daarna kyk. Veral die van kinders wat saam met ouers en bejaarde daarin deel. Die verskoning dat dit maar soos die lewe is, is n leun. As ek in so n buurt moes bly dan sal ek spoedig n ander plek gaan soek om daar te woon.

Gert van Wierdapark ·

Die kans om dalk vir n “Vlietende Oomblik” saam met n akteur/trise n woordjie te wissel, is nou daarmee heen!

Hasie ·

Wonder of die ou nie in die parlement werk nie, of vir magashule.

Elna Swanepoel ·

Daar is ook ‘n saak oop gemaak in Sannieshof. Die saak is beslis grooter as wat Maroela dit maak. Ongelukkig kan ek nie meer sê nie omdat ek juis ‘n saak het. Maar aan my mede Binneland ondersteuners wil ek sê “vas byt en staan saam met ons hoe meer hoe beter” en die wat nie geraak is deur dit nie wel….. druk ‘n boom vir ons asb.

Anita ·

Ek is woedend!!!!! My moeder is ‘n groot Binneland aanhanger en ek wou haar verras met ‘n paar familie by die ete. Ek moes 10 kaartjies koop!!!! Nie almal van ons het die tipe geld nie en ek moes.raap en skraap en familie nader om te join en nou is ek die culprit!!!! Ons het al voorheen kaartjies na Dozi se plek bespreek en nie gesink hierdie is ‘n scam nie. Hoe sal mens nou in die vervolg weet? Ek bid ek kry my geldtjies terug sodat ek almal ek ek gesmeek het om saam te gaan hil geld kan terug kry!!!

Jacky Strydom ·

Dis só verkeerd, en dan wil almal altyd deposito hê of jy moet vooraf kaartjies koop, se dinges man. As ek by ń plek wil inboek, betaal ek daar en klaar. Nie deposito wat kan wegraak, of plek wat nie bestaan nie. En so ook met kunste, as ek by ń plek kan opdaag waar ń “show” is koop ek by die deur my kaartjie. Ons word te maklik uitgebyt oor ons naïef is.

Gert Potgieter ·

Maar die onnosel publiek bly die swak akteurs ondersteun deur hulle twak op tv te kyk! Wanneer gaan die doofstom Afrikaner besef die mag lê letterlik in sy hand?(ramote) Sit die verdomde TV af en laat die arrogante wetters ‘n regte werk soek!

hercu ·

Dozi behoort al die nodige inligting van die skelm te hê!!

Binnelanders se eie “speurder” kan sommer die saak ondersoek!!

humor ·

Gert Potgieter, jy het hom nou wragtig reg gese!!!! As die kommentatore maar net wil besef ons het n belangriker stryd nl, ons AFRIKAANSE TAAL., Ek word naar as ek sekere kommentare lees.

REGTIG?! ·

Ek verstaan nie hoe enigiemand nog kan vertrou in “kaartjies kan net geboek word op Whatsapp” nie? Nee man mense – is ons regtig nog so vaak? Mens kan mos nou sommer in daai plakkaat sien dit lyk soos ‘n slenter. Jammer aan die’ wat nou geld moes afstaan…dis ‘n duur les.

Mariette ·

Eish mense, hoekom nou die sepie uitmekaar trek as twee skelms ons ingedoen het nie, ons het vele kere by Dozi se plek gekuier en nogal gewonder hoekom die besprekings deur iemand anders gedoen is, geen kwade gevoelens teenoor Binneland of Dozi nie, maar die wiel sal draai.

Engela ·

Sies Gert Potgieter, jy’s darem baie beledigend. En kan nie eers “remote” spel nie!

En Humor, vir iemand wat nie sy tyd mors om ‘n sepie te kyk nie, ken jy darem die storielyn goed né. En ons sal ook nie die stryd vir Afrikaans bevorder as ons woorde gebruik wat nie in ons taal voorkom nie, soos kommentatore!

Eddie de Jager ·

Toe die berig sê mense kon kaartjies oor WhatsApp bespreek was die koel deur die kerk. Kaartjieverkope stelsels is baie meer ingewkkeld as dit. Eers moet jy toestemming gee dat die stelsel jou persoonlike inligting mag gebruik. By betaling word jy gewoonlik herlei na ‘n betaal platform soos payfast, sage pay of snapscan. Geen van hierdie opsies is beskikbaar op WhatsApp nie. Ek raai kopers aan om bankstate te trek want wie okal die persoon is (ek glo dis ‘n skuilnaam) het al jou inligting mooi vasgevang op WhatsApp en net gesorg dat die betaling deur is. Ek sal graag die plek waar die funksie sou plaasvind se kommentaar wil weet. Sover my kennis strek is dit nie die eerste keer wat so iets gebeur nie. As goeie verwysing kyk gerus die Netflix dokumentêr Fyre – The festival that never happened. As iets te goed is om waar te wees dan is dit te goed om waar te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.