Woedende kliënt skiet glo wag met windbuks

Die Dal Josafat-lisensiekantoor in die Paarl. (Foto: Google)

Twee lisensiekantore in die Wes-Kaap is binne twee dae gesluit nadat gewelddadige voorvalle die kantore se werksaamhede tot ʼn stilstand gebring het.

Die lisensiekantore, wat skaars ʼn uur se ry van mekaar af is, is tydelik gesluit terwyl die polisie die persele fynkam ná beweerde misdade.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapse metro se verkeersdienste, sê die Hillstar-lisensiekantoor in Kaapstad is Woensdagoggend tydelik gesluit nadat ʼn lid van die publiek ʼn veiligheidswag met ʼn windbuks geskiet het.

Volgens inligting wat oor die voorval ingewin is, het ʼn man oproerig geraak nadat hy in kennis gestel is dat hy nie al die nodige dokumente het om sy transaksie by die lisensiekantoor te voltooi nie.

“Die veiligheidswagte het ingegryp en die man is uit die gebou verwyder. Hy het egter na sy motor gestap en ʼn windbuks gaan haal wat hy glo gebruik het om een van die wagte in die kop te skiet,” sê sy.

“Die verdagte het toe die perseel verlaat en op die vlug geslaan.”

Die veiligheidswag is op die toneel behandel voordat hy na ʼn hospitaal geneem is. Niemand anders is in die voorval beseer nie.

“Die verdagte se identiteit is aan die polisie bekend en hulle is tans besig om leidrade op te volg.”

Die betrokke lisensiekantoor is vir die res van die dag gesluit terwyl die saak ondersoek word. Werknemers wat die voorval aanskou het, is ook reeds van berading voorsien.

Net ʼn dag tevore is die Dal Josafat-lisensiekantoor in die Paarl deur gewapende mans beroof.

Die Drakenstein- plaaslike munisipaliteit het in ʼn verklaring gesê dat twee gewapende verdagtes Dinsdag sowat R40 000 uit die kantoor gebuit en met die veiligheidswagte se wapens op die vlug geslaan het.

“Volgens ooggetuies het die verdagtes aanvanklik rustig in die lisensiekantoor gewag totdat ʼn private geldwa opgedaag het om die kantoor se kontant te ontvang. Die mans het skielik maskers oor hul gesigte getrek, vuurwapens uitgepluk en die wagte oorrompel,” lui die verklaring.

Die werknemers in die lisensiekantoor het ʼn paniekknoppie gedruk, maar die verdagtes was reeds op die vlug toe die polisie op die toneel aangekom het.

Niemand is in die voorval beseer nie, maar die polisie het die perseel tydelik gesluit om forensiese toetse af te handel. Senior amptenare het ook reeds die kantoor besoek om die omvang van die skade te bepaal.

Nog niemand is in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Windhond ·

Ja defnitief – alhoewel dit eintlik lagwekkend is, want gedurende die 80’s was dit nodig om n lisensie vir windbuks te he – maar deesdae het elke man en sy hond n windbuks – good luck met daai een

Marius ·

Ek neem die persoon nie kwalik nie , want die lede wat veronderstel is om te weet wat daar aangaan weet self nie.
As jy een vra watter dokumente benodig word en terug kom by n ander persoon en daar word vir jou gese jy KORT nog die en daai , is dit om van mal te word.

Furds ·

Ek stem saam, die personeel van die instansies in my mening doen dit aspris om mense uit te lok na goed wat jy nooit normaalweg sou doen of eers aan dink nie. Sit vir ure en ure in n ry net om weg gewys te word. Daar is geen hulp of iemand wat sorg dat mens met respek behandel word as klient. Ons almal is menslik en almal het n breekpunt….

Blikkies ·

Want die mense word kwaad as hulle elke keer weg gestuur word vir nog dokumente. Kan mos nie vir ‘n mens op een slag die lys van dokumente gee nie. Ek verstaan die man se frustrasie.

Johan ·

Dit is mos n 3interaksie reël wat geld…jy sal dalk regkom nadat jy 3keer by enige staatsdiens was, net omdat jy nie al die vorms en gemors het nie en net omdat hulle jou kan rondjaag vir geen rede nie.

Jr ·

Glo vir my ons was by n lisensie kantoor vanoggend en hulle is genoeg om enige mense te laat moord pleeg. Onbeskof, baas speelerig, vyandig teen wit mense. Gooi die papiere vir my neer. Gelukkig is ek 60 en het my tong gebyt

Skadu ·

Daar is geen verskoning vir sulke gedrag nie. Ons almal raak gefrustreerd en verpes enige staatsinstansies oor hulle swak diens en traagheid, maar ons doen nie dit nie.

Dit moet ook nie reg gepraat word nie.

Jakkie ·

Burokratiese rompslomp van ANC regering en oorregulering deur die DA in die Wes-Kaap toets mense se geduld tot hulle net nie meer kan nie………………….veral in lisensiekantore en om n voertuig deur ‘n padvaardigheidstoets te sit……….

Furds ·

Ek moet elke keer berading ontvang na ek n staats insteling besoek het…

Danie ·

Dis hoe hulpeloos en gefrusrteerd die gemeenskap is met al die slegte staatswerkers.Niks word beter nie.Gee daai ou n whiskey.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.