Woewe kort liefdevolle huise ná dubbelplaasmoord

Gabriel Daniel Bruwer en sy vrou, Marian. Foto: Verskaf

Drie skaaphonde moet ʼn nuwe tuiste kry nadat hul eienaars, Gabriel (78) en Marian (67) Bruwer, verlede week tydens ʼn plaasaanval buite Vanstadensrus in die Vrystaat op teregstellingswyse doodgeskiet is.

Jasper Coetzee, Marian se seun wat in die Paarl in die Wes-Kaap woon, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie se lewe is stadig maar seker besig om aan te gaan sedert sy ma en stiefpa se liggame verlede week in hul plaashuis aangetref is.

Ses mense is intussen in verband met hul moorde in hegtenis geneem, die egpaar is ter ruste gelê en hul geliefdes is terug na hul onderskeie tuisdorpe.

Gerhardus Jacobus Bruwer, Gabriel se enigste seun wat in Zastron boer, het gesê al die plaastoerusting en meubels in die huis is elders geskuif uit vrees dat dit gesteel word terwyl die boedel afgehandel word.

Daar moes egter ʼn plan beraam word met die Bruwer-egpaar se vyf geliefde troeteldiere – ʼn bobbejaan, ʼn basterhondjie en drie skaaphonde.

“Ons ouers was baie na aan hul diere. Die bobbejaan, Amanda, en Stoffel, die basterhondjie, het reeds nuwe huise gekry, maar die skaaphonde kon weens verskeie redes nie deur familielede en vriende gehuisves word nie. Van die familielede se erwe is te klein en ander het reeds honde wat nie met ander honde oor die weg sal kom nie,” het Coetzee gesê.

Sputnik, die egpaar se oudste hond, en die jonger Fluit en Nooi, moes noodgedwonge ʼn nuwe heenkome vind. Die skaaphondwelsynsorganisasie, Border Collie Rescue, het hulle oor die drie honde ontferm.

Julie Morris, ʼn vrywilliger vir Border Collie Rescue, het Donderdag aan Maroela Media gesê die skaaphonde is in die proses om na hul geriewe in Johannesburg geneem te word.

“Ons sal die honde waarneem, steriliseer en mikroskyfies insit, waarna hulle vir aanneming beskikbaar gestel word. Mense wat belangstel om hulle aan te neem, kan ʼn aansoekvorm invul, waarna daar ʼn inspeksie by hul huise uitgevoer sal word. Ons kan die honde landwyd by die regte tuiste hervestig,” het Morris gesê.

Morris het gesê as alles volgens plan verloop, behoort die honde teen volgende Vrydag gereed te wees om aangeneem te word. Hou Border Collie Rescue SA se blad dop vir meer inligting of skakel 082 887 9668.

Coetzee het gesê hy hoop Fluit en Nooi kan saam ʼn huis kry aangesien die twee “boetie en sussie” is en dus onafskeidbaar.

Lees die vorige berigte oor die Vanstadensrus-dubbelmoord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Annakapat ·

Julle weet, buiten vir die verskriklike lewensverlies van die twee oumense en die hartseer van die familie en vriende wat agterbly, is dit verskriklik om te dink dat hierdie arme diere nie eers werklik besef wat nou aangaan en hoekom hulle uit hul liefdevolle tuistes moet verskuif word nie. Ek hoop van harte hulle kry goeie huise waar hulle verder in vrede sal kan leef en ek hoop ook dat iemand hulle aldrie saam kan aanneem sodat hulle nie geskei hoef te word nie. My hart breek vir hulle.

Tokkie ·

Ek is so hartseer nie net vir die diere nie maar die manier waarop die twee mense geskiet is – wat word van ons land ?

Ella ·

My hart huil oor hierdie paartjie. Geluk boere oor wie se lot deur moordbendes beeindig is.
En nou hul honde.
Wanneer vra iemand werk omdat hierdie boer se plaas nou leegstaan?
Ek bid dat hierdie land weer verstand en wysheid sal terug kry.

Nettie ·

Awwwwwwww …. hoe wens ek nie ek kan sommer al drie neem nie. My diere-hart is soos ‘n taxi: daar’s altyd nog plek vir een. Maar helaas, my ou erfie is ook nie genoeg vir honde soos dié wat ruimte nodig het nie en ek het reeds 4 woewe, wat hulle dalkies ook nie sal aanvaar nie.

Bitter hartseer ·

Ek WENS net alle wrede dade kan STOP!!! Wit, swart, bruin, pienk… wat ookal!! Reg oor die wêreld!!! Ons as mens is wreed!!! Ons gun mekaar niks!!! Selfs ek is skuldig… DIE mensdom as n geheel is vreeslik!!!

Rikku ·

Dit is verskriklik. So word nie net Families aangeraak deur die onsinnige moord vir die wat agterbly, maar vir ons Diere Kinders is dit ook moeilik om weer aan te pas by nuwe mense.

Hulle sal bly soek en kyk vir hulle eienaars, totdat hulle sterf die dag

Vader, my hart is stukkend, ek smeek U, Laat Hierdie onnodige Moord en Geweldplegen asseblief stop. Ek vra dit in Jesus Naam,
Amen

Seerharte ·

Ons innige simpatie met die oorledenes se geliefdes. Troos julle daaraan Julie Morris en haar span is absoluut fantasties en daardie honde sal met die grootste liefde behandel word tot hulle weer goeie huise vind. Ek hoop regtig mense maak hulle harte oop vir dié diere en gaan doen aansoek om aan te neem. Hou ook in gedagte dat donasies om die honde te steriliseer en chip altyd welkom is.

Anita ·

Terwyl ek skryf huil ek vir die wrede wyse waarop hierdie mense moes sterf, maar ook as groot honde liefhebber huil ek want diere kan nie verstaan wat gebeur het nie en diere treur net soos mense, mag die honde liefdevolle nuwe eienaar kry om hulle leed te versag. My simpatie gaan met die seun en sy familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.