Wolboere angstig oor China-besluit

Wolboere is bekommerd dat China nie sy verbod op wolinvoere gaan ophef nie. (Foto: Facebook/BKB)

Die eerste veilings vir die nuwe wolseisoen is op hande, maar daar is nog geen aanduiding dat China, wat die meeste van Suid-Afrika se wol koop, die invoer van wol weer gaan toelaat nie.

Maroela Media het berig dat China in April-maand die invoere van wol uit Suid-Afrika gestaak het omdat dié Oosterse land kwansuis bang is dat dit daartoe gaan lei dat bek-en-klouseer na China sal versprei.

Volgens Agri SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) is regeringsoptrede die enigste uitweg is om sake om te keer, want 70% tot 80% móét na China gaan.

Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, het vir Maroela Media gesê China sit die pot om verskeie redes heeltemal mis.

“Die verbod is eerstens ongeregverdig aangesien Suid-Afrika protokolle in plek het wat die berging van wol vir ʼn bepaalde tyd teen die vereiste minimum temperature reguleer, soos wat deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) bepaal word.

“Hierdie maatreëls is tydens die 2019-uitbreking met die Chinese owerhede onderhandel en alle uitvoerfasiliteite in Suid-Afrika is by die Chinese owerhede geregistreer, om behoorlike monitering en akkurate sertifisering te verseker.

“Verder kom bek-en-klouseer ook in China voor en bowenal is die bek-en-klouseer-stam, genaamd SAT, wat in Suid-Afrika teenwoordig is nie so gevaarlik soos die een in China nie. Die diere wat met die Suid-Afrikaanse stam besmet word, word redelik vinnig gesond en buitendien is ons inentingsprogram baie doeltreffend. Die protokolle is steeds in plek en die staatsveearts teken nog die sertifikate af.”

Hy sê die Chinese het heel waarskynlik ʼn persepsie ontwikkel dat die siekte heeltemal buite beheer is.

“Volgens die NWKV se kennis is daar ook nog nie geen geval waar bek-en-klouseer onder skape of bokke aangemeld is nie. Daarbenewens het bek-en-klouseer nog nie na die belangrikste skaapstreke versprei nie, wat die Wes-, Oos- en Noord‑Kaap, Mpumalanga, en die Suid-Vrystaat insluit.

“Hierdie is die grootste uitdaging in die geskiedenis van die wolbedryf. Boere kom nou uit langdurige droogte en ʼn boer kan nie bekostig om nie sy woltjek te kry nie.”

Hy sê Suid-Afrika se 15 miljoen skape produseer slegs 2% tot 3% van die wêreld se wol, wat dus as ʼn klein speler deur China gesien word, maar dit is 45 miljoen kg en is uiters belangrik vir Suid-Afrika.

“Die waarde van die Suid-Afrikaanse wolskeersel is sowat R5 miljard per jaar. Sedert die verbod in April aangekondig is, het die Suid-Afrikaanse wolbedryf na raming R734 miljoen se woluitvoer na China verloor. Die verbod bedreig ook die bedryf se 35 000 werkers, sowel as 4 500 seisoenale skaapskeerders en wolhanteerders.”

Meer as 40 000 kleinskaalse produsente bemark jaarliks ​​nagenoeg ses miljoen kg wol, met ʼn geraamde waarde van R300 miljoen, wat 18% van die Suid-Afrikaanse skeersel insluit. Weens die aard van hul wol is China die enigste bestemming wat hul wol kan verwerk.

De Beer voer verder aan dat dit ʼn groot uitdaging is om die Chinese te oortuig dat Suid-Afrikaanse wol steeds veilig is. “Kommunikasie met die Chinese is ʼn groot probleem en dit is net die regering wat daarvoor gerat is. Ons het die direkteur-generaal van landbou, Mooketsa Ramasodi, na die NWKV se kongres in Port Elizabeth genooi en hy is na ons wolfasiliteite geneem en is oortuig dat alles in orde is. Dit sit nou in sy hande om die saak verder te vat.”

Hoewel boere op kort termyn by hul wolagente kan aansoek doen vir hulp en wol vir lang tye gestoor kan word en die eerste skeersels wat inkom nog weggestuur kan word, gaan dit in ʼn groot krisis ontaard as die verbod nie spoedig opgehef word nie.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hy kan net vertrou dat die Suid-Afrikaanse owerhede elke poging sal aanwend om hierdie kwessie dringend met die Chinese owerhede te bespreek. “Suid-Afrikaanse wol is veilig vir uitvoer, en ons moet hierdie saak vinnig oplos.”

Hy sê indien dit nie gebeur nie, sal dit veral die opkomende en kommunale sektor wees wat die ergste geraak word. “Hierdie produsente en omliggende gemeenskappe sal weer in armoede verval sou die Chinese mark gesluit bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Miskien moet ons maar weer begin om ons eie wol te verwerk.

H.A. ·

Die anc kaders sal probeer om die wol bedryf te sink, want hulle wil so graag boere van die plase verdryf. China is hulle beste ‘buddy’.

Andries ·

China gaan julle ‘n pit druk. Hul gaan ‘n buitensporige lae bedrag aanbied kwansuis die siekte. En ongelukkig moet die wolbedryf dit aanvaar.

Piet parys ·

So wat is die oplossing . Bou fabrieke en verwerk die wol self . Die wereld se slim ouens se moenie al jou eiers in een mandjie sit nie en nou doen almal dit en sit dit in sjina se mandjie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.